Sunday, August 28, 2011

A Turkish Delight!

Soel aande,
Lekker kos,
Warm mense,
Ryk geskiedenis...
Dit, opgesom, was Istanbul vir ons!


Ons het baie laat eers besluit om Istanbul deel van ons somervakansie te maak en het met geen verwagtinge in die ry op Istanbul lughawe gestaan om ons Turkse visums te koop ... dalk juis daarom dat die volgende 4 dae vir ons so ongelooflik aangenaam was!

Dit was reeds donker toe ons by ons hotel in Sultanahmet aankom en by die ontvangs hoor dat Ramadan vandag begin het! Die man moes my en Herrie se bekommerde uitdrukkings gesien het toe gedagtes van 4 lang honger dae deur ons koppe flits, want hy't vinnig verduidelik dat restaurante wel gedurende die dag oop is maar dat die Turke slegs na sononder mag eet! Ons is na die Hippodrome verwys waar een handwerk of kosstalletjie op die volgende te vinde was met honderde Turke en kinders net waar jy kyk! Omdat daar heeldag nie nat of droog oor hulle lippe was nie, het die volk baljaar tot in die vroëe oggendure... iets wat blykbaar heel normaal is vir die volle maand van Ramadan.

'n Heerlike döner met regte lamsvleis was die gepaste maaltyd op ons eerste aand in Turkye en baklava van die ware Jakob (Karakoy sedert 1949) was die perfekte proppie! Ons sien ook hoe baklava gemaak word... iets wat BAIE geduld verg!
Hippodrome, eerste aand van Ramadan

Ingelegde eiers?!

Daardie nag is ons 04h00 wakker gesing deur 'n man wat oor 'n luidspreker bid... Hertzog was vas oortuig dat daai megafoon êrens in ons kamer is!

Ons geniet olywe, feta, waatlemoen en brood op die hotel se dakterras vir ontbyt waarna ons van die Hippodrome af al langs Divan Yolu stap tot by Corlulu Alipasa Medresesi - 'n plekkie wat deur Davut (Herrie se Turkse medestudent) aanbeveel is. 'n Juweel van 'n plek en ons het appeltee en turkse koffie probeer en lui aan 'n waterpyp geteug terwyl baba katjies ons vermaak... Ons was omring deur mans wat almal dieselfde doen: appeltee drink en sheesha rook. Ek was vir baie lank die enigste vrou in die plek... iets waaraan ek oor die volgende 3 dae gewoond geraak het.

Oppad uit moet ek gou piepie,
in 'n gat,
en laat val my bril!
NEEEEEEEEE!!!!!!
Corlulu Alipasa Medresesi

Nadat my bril herhaaldelik gewas is, vat ons die pad na die Grand Bazar! Enige vrou se droom en meeste mans (veral as joune so min van inkopies hou soos myne) se nagmerrie! 1200 winkels met die mooiste handgeverfde porselein bakke, leer skoene, handsakke, juwele, serpe en pragtige glaslampe lok 250 000 tot 400 000 besoekers per dag! Daar was soveel mooi goed vir die huis wat ek wou hê maar ons is toe net met 'n paar Turkse lampe daar weg vir 'n huis wat nog nie eers op papier bestaan nie :-)
Grand Bazar

Ons het 'n interessante gesprek met Nizam aangeknoop, 'n 33-jarige, getroude, moderne Turkse man wat aan ons die lampe verkoop het. Ná hy 'n paar persoonlike vrae en kommentaar na my kant toe gegooi het, o.a. dat ons selfsugtig is omdat ons nog nie kinders wil hê nie, vra ek hom hoekom mens so min Turkse vrouens op straat sien. Sy eerste antwoord was dat hulle rus as gevolg van Ramadan, maar toe hy sien dat ons nie byt nie het hy gesê dis omdat sy vrou te mooi is vir ander mans om na te kyk! Ongelooflik dat daar in vandag se tyd nog sulke sienings oor die vrou se rol in die gemeenskap kan wees.

By die Kebab Hospital het ons aan 'n verskeidenheid Turkse geregte gesmul en deur die loop van die middag gou na Hagia Sofia, Blue Mosque, Beyazit square en die Universiteit gaan kyk.
Bo vlnr: Hagia Sophia en Blue Mosque; Onder: Universiteit

Ons het by die Hippodrome na 'n fontein gestaar en hom werklik bewonder nadat ons gelees het dat hierdie "German Fountain" in Duitsland gebou is en toe in 1900 hier aanmekaar gesit is. Die fontein bestaan uit 8 marmer kolomme en die dak binne is uitgevoer met goue mosaiek teëltjies!
German Fountain, Hippodrome

Drankies, musakka en steak by Cozy Pub was op die spyskaart vir aandete waarna ons in 'n doodse slaap verval het totdat ons weer 04h00 wakker gesing is :-)
Cozy Pub
Sultanahmet snags

Woensdag was ons vroeër uit die vere, 08h00 :-), want ons wou ná ontbyt gou na die Basilica Cistern gaan kyk voordat ons 'n afspraak 11h00 het.  

Die Yerebatan of Basilica Cistern is 'n geweldige plek met 'n ongelooflike atmosfeer!  Dit staan ook as die Sunken Palace bekend, maar was nooit bogronds nie en is in 532 n.C. gebou as put en stoorplek van die naby geleë paleis se water.  Mens gaan by 'n klein deurtjie op die sypaadjie by die Yerebatan in, minwetend dat die plek amper 1000 vierkante meter beslaan, deur 336 marmer kolomme gestut en 'n 4 meter dik muur omring word!  Dit laat mens nogals wonder hoeveel van die ou wêreld lê steeds vandag nog onder ons moderne strate en winkels opgesluit...
Een van die dele van 'n James Bond fliek, From Russia with Love, is hier verfilm.
Yerebatan of Sunken Palace

Volgende op ons agenda was 'n kulturele ervaring: 'n Turkse bad of hamam soos dit hier bekend staan.  (Net gou iets anders wat ons in Istabul opgeval het, ons het nooit van publieke busse of treine gebruik gemaak terwyl ons daar was nie... deels omdat ons stapafstand van meeste besienswaardighede af gebly het, maar ook omdat elke hamam, bootrit, restaurant ens. 'n bussie het wat kliente by die hotelle gaan oplaai!)  

By Suleymaniye hamam aangekom het ons bypassende swemklere van katoen en vreeslike ongemaklike hout sandale gekry om aan te trek en is na 'n groot marmer vertrek gelei wat tussen 40 en 60ºC gehou word.  Hier het ons op 'n warm marmer blad gelê en sweet vir 50 minute, in dieselfde vertrek waar die Suleyman Sultan dit 450 jaar gelede gedoen het!  Die hamam is tussen 1550 en 1557 gebou en is deur 'n bekende argitek in Turkye, Sinan, ontwerp. Na die sweet word mens vir so halfuur deur 'n mannetjie geskrop en dan van kop tot tone met seep masseer.  Ek dink ons was lanklaas so skoon!  Na afloop van die skropsessie word jy afgedroog en in lappe toe gedraai en dis hier waar my kamera toegelaat is.  Moenie skrik nie, Herrie was baie bleek en lighoofdig van die warm kry en ek was letterlik pers!
Suleymaniye Hamam

Ons spring op 'n "hop-on hop-off" bus en na skaars 10 minute se ry besef ons dat Istanbul meer is as 'n oulike toeriste plekkie met mooi moskees... dis 'n groot, moderne stad wat
20 000 000 mense huis noem!   Dit is ook die enigste hoofstad in die wêreld wat oor 2 kontinente strek en nadat ons die Bosphorus brug gekruis het was ons in Asië.
Istanbul: Moderne metropool

Terug in Europa klim ons af naby "Galata Tower" en ek sê: "ek dink dit gaan reën", Herrie: "hoekom, hop jou knieg?" Haha!  Paar minute later het daar wel 'n druppel of 3 geval.  Die "Galata Tower" is in 528 n.C. opgerig en is blykbaar volgens gerugte die oudste toring in die wêreld wat nog toeganklik is.  Ons het ook oor die Galata Brug gestap na die "New Mosque" en talle vissermanne op die brug teegekom en paar kinders wat sorgeloos in die rivier speel beny.
Vissermanne op die Bosphorus Brug

Galata Tower en Bosphorus Brug

Ons was vinnig in by die "New Mosque" - wat lankal nie meer so nuut is nie - en ek is behoorlik aangetrek deur die omie wat by die deur waghou sodat geen skraps geklede dames verby hom glip nie.  Interessant was dat die vrouens 'n afgesonderde area het waar hulle mag bid!
New Mosque

Hierdie was so opwindende dag maar ek glo amper dat die hoogtepunt die "Spice Bazar" was! Ek is mal oor eksotiese geure en 'n antieke mark spesiaal vir speserye reg daar waar Asië en Europa ontmoet, het my baie opgewonde gehad!  Al die stalletjies verkoop speserye, neute of die mooiste lekkergoed... te kies en te keur en almal nooi jou in om te kom proe!  
Te kies en te GEUR

Yum!

Ons stap terug hotel toe en besef dat al die winkels wat dieselfde goed verkoop almal langs mekaar is en so is daar strate wat net metaal knope, of badproppe of springtoue verkoop.  Hoeveel verskillende ligskakelaars kan daar nou wees?  Lyk my 'n straat vol!   Nog iets wat ek en Herrie opgelet en eienaardig gevind het, is dat almal die grond voor hulle winkels of stalletjie natspuit so mens ruik heeldag daai lekker reënreuk...
Birds of a feather flock together (behalwe as jy onder op die "corporate ladder" sit...)

Ons put nog bietjie waarde uit ons 24-uur "hop-on hop-off" buskaartjie en gaan kyk die sonsondergang van die ander kant van die Bosphorus Brug af!
Een aand in Asië ;-)

Toe Hagia Sophia die volgende oggend oopmaak was ons daar! Dit was die grootste katedraal in die wêreld vir amper 'n 1000 jaar en die huidige gebou is in 532 n.C. opgerig!  Interessant van die Hagia Sophia is dat daar deur die jare heen soveel verskillende gelowe en groepe mense was wat in hierdie gebou aanbid het...  Dit was aanvanklik die Grieks-Ortodokse Patriarg van Konstantinopel, daarrna 'n Rooms-Katolieke Katedraal, toe 'n Moskee en vandag 'n museum.  Die Hagia Sophia word gekenmerk deur 'n massiewe koepel wat as die toonbeeld van Bisantynse argitektuur erken is en daar word gesê dat hierdie gebou die geskiedenis van argitektuur verander het!  Vir my was die fyn mosaiek teëltjies besonders. 
Hagia Sophia

Ons het die res van die oggend op 'n boot spandeer en 'n toer van die Bosphorus Rivier gedoen. Dit was nogals verbasend hoeveel meer mense aan die Europese oewer van die rivier woon in vergelyking met die Asië kant!
Die roete
Bosphorus River Cruise
Europa vs Asië oewers

Oppad terug het die boot by Kizkulesi, of "Maiden's Tower", gestop vir paar minute sodat ons kan opgaan en die uitsig waardeer.  Die eerste struktuur wat op hierdie skiereiland waar die "Maiden's Tower" vandag is bestaan het, was 'n grafkelder wat 'n bevelvoerder vir sy vrou laat oprig het in 410 v.C.!  Die "Maiden's Tower" lê op die kruising tussen 2 kontinente en het vir 2500 waargeneem wat in die omliggende areas plaasvind en hierdie het tot baie legendariese stories gelei.  Een van hierdie legendes is dat die Bisantynse keiser 'n baba dogtertjie gehad het en 'n siener het voorspel dat sy voor haar 18de verjaarsdag deur 'n slang doodgepik sal word.  Die keiser het toe die "Maiden's Tower" omskep in 'n huisie en het sy dogter alleen daar op die eiland laat woon waar geen slange by haar kon uitkom nie, maar op haar 18de verjaarsdag was daar fees gevier en 'n slang het in 'n mandjie vol druiwe op die eiland beland en die dogter doodgepik!  Die les wat die volk hieruit moes leer is dat jou lot onvermydelik is.

Bo-op die toring sê Herrie vir my: "Anellie ek dink daai is windbrekers", toe draai die oom voor ons om en sê: "O is dit?!"
Maiden's Tower

In Istanbul sien jy katte ORALS!  In winkelvensters, onder tafels in restaurante, in die moskees, bo-op karre se dakke....  En die vreemde ding is dat hulle niemand pla nie!  Die toeriste geniet dit om met hulle te speel en stilletjies onder die tafel te voer en inwoners van Istanbul los orals vir hulle katkos en bakkies water.
Katjies van Istanbul

Gedurende die middag het ons die Topkapi Sarayi (Paleis) besoek.  Dis hier waar die Ottoman Sultan gewoon het vir 400 jaar, saam met al sy vrouens en slawe.  Die gronde het mooi oop tuine, vele binnehowe en die indrukwekkende Harem...  Die Harem is waar meer as 1000 vrouens en byvrouens gewoon het en hulle is gereeld besoek deur die sultan en sy seuns.  Die byvrouens was buitelandse slawe en almal het gehoop om die sultan se gunsteling te raak en vir hom 'n seun in die wêreld te bring... dat dit nou jou lewensdroom kan wees... ander tye!  Die Harem is 'n kakofonie van kleure en patrone en die bont teëls is nogals oorweldigend in sommige vertrekke.
Haat jy jou werk?  
Stel jou voor jy is die arme siel wat deur die Sultan aangewys is om die goud 
op hierdie buite geboue van die Topkapi paleis se plafonne te verf!

Harem, kakofonie van kleure en patrone

Ons betaal 34 Euro vir 'n koppie koffie, 'n coke en 'n botterbroodjie voordat ons die paleis verlaat en al langs die mooiste straatjies tot by die "Blue Mosque" stap.  By die Sultanahmet Mosque, of "Blue Mosque", is ons weer oorweldig deur baie bont teëls! {Hoor hoe snaaks, ek is bang julle raak moeg vir my as ek heeltyd die woord "oorweldig" gebruik en google toe die woord om 'n sinoniem te kry, toe vra google vir my: "Did you mean "athletic"?" Huh?!  Hahaha}
Die mure van die "Blue Mosque" is binne versier met meer as 20 000 stukkies blou, groen en wit "iznik china"!
Blue Mosque of Sultanahmet Mosque

Ons laaste maaltyd in Istanbul geniet ons op die dakterras van 'n oulike restaurantjie met 'n seeuitsig en gesels oor alles wat ons in die afgelope paar dae ervaar en beleef het!  Ons is voorwaar baie geseënd... Sou ons gespaar bly sal ons graag eendag weer wil terug keer na hierdie ongelooflike stad!
Laaste Istanbul aand

Die volgende oggend is ons weer vroeg wakker gesing waarna ons gou gepak en die pad gevat het lughawe toe waar 'n vliegtuig gewag het om ons Thessaloniki toe te vat!  Ja, hierdie was mos 'n lekker laaang vakansie en 2 volle weke in Griekeland het nog voorgelê...   Maar ons avonture daar spaar ek vir 'n "rainy day" - want daar is BAIE van hulle in Rotterdam!

x

Monday, August 1, 2011

Deel 2: Berge, Bratislava, Bruilof, Ballet & Beerpong!

So ek het voor die naweek nog vertel van die Twin City Liner wat ons van Bratislava na Wien geneem het...

WIEN
Stad van kuns en kultuur!  Gustav Klimt en musiekmeesters soos Mozart, Beethoven, Haydn, Strauss en Schubert het êrens in hul lewens na Wien as huis verwys.  In 2010 het Wien die 8ste posisie in die  "Top 25 Livable Cities" beklee en ons het ons vergaap aan al die mooi winkels (Rolex en Patek Philippe in elke derde venster) en pragtige ou geboue!

In 2000 was Herrie as uitruilstudent in Wien en ons het sy ou vriend Dominik by die Naschmarkt ontmoet vir ete waarna ons na die Museumsquartier gestap het vir 'n bier.  Hier het Dominik ook baie trots aangekondig dat Oostenryk stadig maar seker besig is om hul buurman Duitsland verby te vat wat die bier verbruik per capita betref.  Hulle is beide steeds vêr agter Czech Republic wat loshande voorloop op die gebied!   Oppad huistoe stap ons deur Hofburg en Heldenpark en waardeer die mooi verligte geboue.
Wien snags

Donderdag het sommer baie goed afgeskop want ek't op Happy Hippos afgekom (sjokolade wat van my sussie 'n verslaafde gemaak het toe sy in Londen gebly het) en ek't sommer 'n hele pak vir Carien in 'n koevert gesit en in die pos gegooi!

Die res van die oggend het ons by die Belvedere spandeer - 'n baie mooi barok paleis met interessante tuine wat die somerhuis van Prins Eugene van Savoy was.
Belvedere, Wien

Ons het rustig by Karlplatz na twee omies geluister wat trekklavier speel terwyl ons die Karlkirche se grootheid inneem. Verder het ons na die Rathaus, Parlament, verskeie kerke (o.a die Stepahnsdom) en mooi tuine gaan kyk en het op baie vreemde stoele in die Museumsquartier afgekom.
 Stoele in Museumsquartier
 Kerke in Wien

Ons het lekker vêr gestap vandag en elke keer as ek net vir 'n sekonde stop om iets te doen dan vra Herrie soos 'n gramafoonplaat wat vashaak in sy radiostem vir my: "Hast du ein Stein in deine Schuh?"  Nadat ons heeldag rondgestap het, stop ons by Hotel Sacher om die befaamde Sacher törte te eet - "when in Wien..."
 Heerlik dekadent!

Ons laaste aand in Wien spandeer ons in die Turkse deel van die stad saam met Dominik en sy meisie Clarissa en oppad huistoe neem Herrie my na een van die bekendste koffiehuise in Wien wat hy onthou van sy skooldae - Cafe Hawelka. Gaan kyk bietjie na die onderstaande link as jul belangstel, die geskiedenis van die plekkie is baie oulik!  Dis in 1939 geopen en vir jare deur 'n ou man en sy vrou bestuur en die Tannie is in 2005 oorlede maar Leopold Hawelka het hierdie jaar sy 100ste verjaarsdag gevier en groet steeds besoekers by die koffiehuis meeste aande!  Sy seun, 70 jaar oud, is tans die bestuurder van Cafe Hawelka en die se 2 seuns help ook daar uit.
Aandete en Cafe Hawelka

Vrydagoggend het ons gou 'n draai deur die winkels gehardloop en ek koop skoene by Timberland wat meer as die helfde minder is as in die winkel in Rotterdam... soos ek altyd vir Herrie sê: mens máák basies geld by 'n "sale" :-D

Die hoogtepunt van ons oggend was toe ek en Herrie toevallig albei sien hoe 'n Beagle (hond) aan 'n leiband in die straat loop en homself boeglam skrik vir 'n staal beeldjie van 'n hond buite 'n winkel!  Toe hy agterkom dis net 'n beeld het hy baie verleë verder gestap en gehoop niemand het hom gesien nie.
 Lanklaas so lekker gelag!

Ons laaste uitstappie in Wien voordat ons in die pad geval het na Linz, was Schönbrunn Paleis toe  - pragtig!
 Schönbrunn

In Linz het ons een aand by Niki - 'n goeie vriend van Hertzog wat verlede jaar vir 4 dae SA toe gekom het om ons troue by te woon - se male se huis geslaap.  Die Tannie het 'n ekstra kar in Vienna gehad wat sy vir ons aangebied het want haar voorstel was dat ons deur die wynplase moet ry na Linz want dis landskappe wat ons nie met die trein sou sien nie.  Ná Schonbrunn het ons die pad uit Wien in die rigting van Linz gevat en na Krems gery, vanwaar ons al langs die Donau rivier in die Wachau distrik gery het wat bekend is vir witwyn in Oostenryk.   Dis 'n idiliese area en ons kon die cabriolet se dak afslaan en soos grênd mense rondry met die wind in ons hare!  Ons het by Weisekirchen gestop en deur die baie oulike dorpie gestap en wyn gekoop by 'n tannie wat ook al in die Kaap gaan wyn drink het.  Dit was nie nodig om te wonder of ons by die regte huis parkeer het toe ons in Linz aankom nie want agter op Niki se kar pronk 'n Suid Afrikaanse vlaggie!  Ek is seker hy't dit by my skoonpa geleer toe hy in SA kom kuier het!
Oppad van Wien na Linz...

LINZ
'n Vriendin van my wat destyds saam met my in Brussels gebly het, Meli, het toevallig die naweek wat ons in Linz was getrou!  Ek't haar so week voor ons beplan het om soontoe te gaan laat weet ek wil haar graag sien en ons is dadelik troue toe genooi.  Omdat ons slegs 1 dag in Linz gehad het, het ons besluit om slegs die formele seremonie in die Rathaus by te woon en ek't haar vinnig Vrydagmiddag ontmoet vir 'n drankie terwyl Herrie en Niki by die kasteel iets drink.
Eerste kuier na 5 jaar

Ná 'n lekker ontbyt in die tuin is ons na Meli & Ralf se troue wat baie oulik was vir 'n siviele diens en na afloop van die formaliteite het ons saam met die familie (wie ek almal destyds ontmoet het toe hulle in Brussels kom kuier het) 'n glasie sekt by die rivier gaan drink en handgemaakte papierblomme in die water laat afdryf...
 Meli & Ralf Hochzeit

Die res van die dag het ons bietjie om die swembad ontspan saam met die Schröter familie en toe vir oulaas gaan kyk wat Linz bied en op 'n middeleeuse fees afgekom!  Ons het lekker gelag vir die manne wat messe gooi, pyl & boog skiet en in belaglike pakkies in die strate rondstap. 
 Linz

Niki moes met ons stasie toe jaag en ons is net betyds om op die trein Praag toe te spring!  Die trein was vrek warm en die 5 ure rit is darem onderbreek met 'n 15 minute stop êrens in die Czech platteland waar ek gou afhop vir roomys.  'n Groot ou vrou klim op die trein by hierdie stasie met haar markaankope en Herrie het net betyds 'n tamatie onder haar boude weggevat toe sy minwetend amper op hom gaan sit - dit was so hittite of sy hand én die tamatie was in die slag, was baie snaaks!
 Trein na Praag

PRAAG
Ons arriveer so teen 22h00 by ons gastehuis waar ons gavrou, Kristina, ons inwag met haar borrelende vriedelikheid en 'n koue Gambrinus - dis nie verniet die land met die hoogste bierverbruik nie!  Tripadvisor het weereens nie teleurgestel met hul verwysing nie en ons het heerlik hier gebly.

Sondagoggend word ons wakker en onthou dat Herrie se klasse weer hierdie week begin :-(
Maar ons besef darem vinnig weer dat ons nog eers 3 lekker dae saam in Praag het :-)

Ons vat die pad na die ou kasteel area toe, Vysehrad, waar daar 'n mooi kerk met 'n pragtige begraafplaas is waar mense soos Antonin Dvorak (Czech komponis) begrawe is.
 Vysehrad area met mooi begraafplaas

Oppad na die staat opera waar ons wou kaartjies bespreek vir Swan Lake, besoek ons die botaniese tuine (waar ons maklik inkom maar baie sukkel om weer uit te kom!) en het pragtige uitsigte van Praag soos ons stap.  Herrie het ook bietjie vir ons getoi-toi langs die pad toe hy die opdrag sien :-)

Ons geniet middagete op Hotel U Prince se dakterras wat ek tydens my navorsing oor Praag uitgesnuffel het en waardeer die mooi uitsig oor die dorpsplein en oudorp.
Middagete op dakterras

Ons wou aanvanklik die dorpsplein na ete verken maar die miljoene toeriste wat rondmaal en die bekende "atomic clock" probeer sien, het ons gou terug gejaag gastehuis toe waar yskoue sangria en 'n middagslapie na die ideale Sondagmiddag plan geklink het!  Later die aand is ons terug na die oudorp en stap die Joodse roete in "Jewish Prague" en gaan kyk na vele sinagoges.  Daarna is ons na 'n gesellige biersaal wat die Lonely Planet aanbeveel het, U Vejvodu, waar ons 'n lekker biertjie drink voor ons die oudorp in die nag verken.  
 Praag as dit donker raak...

Die volgende oggend na Kristina se standaard "tasty toasties" en haar "best latte in Prague", stap ons na die kabelkar wat ons opvat na Petrin toe. Bo aangekom loop ons deur prentjiemooi roostuine voor ons by die Petrin tower - 'n 60m hoë  bonzai eiffel tower  - opklim en daarbo 100'e mense en 'n monnik skrum om 'n foto te neem by een van die venstertjies.   Terug op vaste grond het ons die toilet besoek waar Hertzog by die ingang moes besluit of hy vir 10Kr wil "Pisoar" of vir 15Kr wil "kakabinne"! Vreemde plek hierdie...
 Petrin, Praag

Van Petrin af het ons deur 'n valleitjie met wingerde en pruime na die kasteel gestap, bietjie daar rondgekyk, lekker gelag vir die wagte wat soos die manne by Buckingham Palace wil wees,  en na 'n oulike band geluister wie se CD ons toe ook gekoop het.  Ons het so stadig deur die kasteel af dorp toe gestap (dis die grootste antieke kasteel in die wêreld met klomp kerke op die perseel) en die aand by Mlejnice gaan eet waar Herrie homself vasgeloop het in 800gr ribs!
 Somer in Praag en lekker eet by Mlejnice

Op ons laaste aand in Praag het ons opgestap na die operahuis vir Swan Lake! Dit was 'n baie goeie vertoning ten spyte van die feit dat daar nie 'n orkes in die put was nie en die operahuis is pragtig! Ons het die aand afgesluit met 'n drankie op Hotel U Prince se dakterras en het die mooi verligte stad waardeer.  Dit was 'n wonderlike aand in Praha!
 Swan Lake

Dinsdag was ons vroeg op om te pak en het 'n staptoer van die oustad gaan doen (dankie iphone) wat goed soos die "municipal house", "powder gate" en die "charles bridge" insluit wat ons nie vroeër gesien het nie.  Herrie was stééds nie moeg vir varkvleis wat ons vir 'n volle 10 dae geëet het nie en werk vir oulaas 'n worsbroodjie in wat ons op 'n bankie in die middel van die "druggie" straat geniet -  ons is gewaarsku dat ons nie hier moet loop nie want eienaardige karakters mag ons dalk nader maar ons het glad niks vreemd gevind nie!  Ons het vir oulaas die kleure en geure van 'n pragtige stad ingeneem en paar baie aggressiewe duiwe gevoer voordat ons aanstaltes gemaak het lughawe toe vanwaar ons terug na Rotterdam gevlieg het.
Laaste daggie in Praag

Ietsie wat ek waardeer het in Praag was die moeite wat hulle met die sypaadjies gedoen het...  nie jou standaard teer of sementblokke nie, maar interessante patrone van verskillende klip!
Mooiste sypaadjies

Daar is regtig ongelooflike mooi geboue in Praag en dit het my orals opgeval hoe mooi meeste geboue versorg is en in helder klere op straathoeke pronk!  Ek weet jul is waarskynlik nou moeg vir foto's van hierdie plek so dis nou die heel laaste :-)
Pragtige Praag geboue

Dit was voorwaar 'n lekker week en 'n half gewees!

Ek weet dat van julle dalk dink ons hou nét vakansie hierdie jaar, (en ek is seker Herrie se Ouma sou sê ons het wielietjies onder ons boude) maar Herrie het Vrydag klaar gemaak met hierdie kort termyn en is al sy vakke van die 2de termyn goed deur!  Sy lang somervakansie breek met ander woorde vandag aan en ek is so dankbaar dat ons maande gelede toe ons begin navors het waar ons hierdie 3 weke lange breuk wil deurbring, besluit het op 'n plek met son want die somer het steeds nog nie in Rotterdam aangebreek nie.

Ons gaan vanmiddag tot Vrydag Istanbul toe en dan Griekeland... son & see...
KAN NIE WAG NIE!!
Ons bly in Griekeland by een van ons vriende, Christos, in Thessaloniki vir 'n week, dan Athene vir 1 aand en dan Santorini....  Ek het nie gedink een mens kan meer opgewonde raak as wat ek voor die naweek reeds was nie, maar Christos het die naweek vir ons foto's gewys van plekke waarheen hy beplan om ons te vat en nou kan ek regtig nie meer wag nie!

Hoop dit gaan goed met almal, ons hoor graag van julle!
Van my hoor julle weer die laaste week in Augustus.

Doei!
x