Tuesday, March 15, 2011

Januarie: Groetjes uit Holland 1

Hi Vriende & Familie!
Hiermee ons eerste nuusbrief uit Rotterdam... ek weet dis lank, so los hom maar vir 'n vervelige Vrydagaand as jy niks beter het om te doen nie. 

Jammer dat ons so stil was die afgelope maand, maar ons het hierdie week eers internet by die huis gekry.  Jammer ook vir die van julle wat nou vir die 2de keer dieselfde nuus gaan lees of die 4 van julle wat ons avonture in Amsterdam eerstehands ervaar het! 
Op die noot van kontak hou, Herrie se nommer is +316 254 746 24 en myne is +316 504 538 76.

Dit gaan baie goed met ons in Rotterdam!  Ons was skaars 2 dae hier toe is ons saam met Pieter & Gisela wat nou in Cardiff is en Daniel & Lizelle wat in Copenhagen is Amsterdam toe vir 4 dae oor nuwe jaar.  Wat 'n fees om almal weer saam te kuier!  Hoogtepunte was die House of Bolls, 'n lewendige opvoering slegs vir volwassenes (when in Rome), 'n boat cruise tussen die gragte, nuwe jaars feesvieringe, 'n klompe & kaasfabriek en 'n uitstappie na Volendam en Edam. Ek heg paar kiekies aan.

Terug in Rotterdam het ons in ons woonstel ingetrek en nou al lekker nes geskrop.  Ek LOVE my lewe! Staan elke oggend so half 8 op, maak ontbyt en eet rustig saam Herrie voor hy 9h op sy fiets spring vir klas. Dan sien ons mekaar eers vanaand weer, partykeer 20h/ 21h/ 22h/ 23h maar dan eet ons weer lekker saam en maak geselsies.

So lekker om rustig in die dag al my huiswerkies te doen (ja, ek was, stryk, stofsuig, kook... als self) en in die winkels te spandeer en die kreatiewe Hollanders se werkies te bewonder. Mal daaroor!

Herrie se klas het eers Woensdag hierdie week volstoom begin, maar hy gaan al van die 6de af elke dag vir goed kampus toe.  
Eerste skooldag...
Sover is dit baie interessant maar ek is redelik seker dit gaan baie uitdagend wees!  140 studente waarvan 136 internasionaal is, 31% vrouens.  Buiten Warren (kleurling ou wat al 6 jaar in Dubai bly) is Herrie die enigste Suid Afrikaner in die program.  Hulle het elke dag klas, begin darem eers 09h30 en dan het hul gereeld groepswerk in die middag na klas of aande en daar was selfs al 'n kompetisie waaraan hul moes deelneem.  In die aande is daar nog baie sosiale geleenthede wat hy moet bywoon en die skool reel sessies met verskillende companies waar jy gesuit & tie moet "shop talk"... ons het nou al agtergekom dat MBA ook baie oor networking gaan - nie een van Hertzog se gunsteling past times nie, maar dit moet seker gedoen word.  Van die skoolmaats is Matteo uit Italie en Yvgeni uit Israel, asook Terry uit Kanada en Christian van Alabama.
Yvgeni, Matteo, Herrie
Oe, hoor hoe snaaks....  Ons eerste aand uit in Rotterdam saam met 'n groot groep van die MBA program, was in 'n baie vol pub waar jy letterlik jou weg deur die mense moet veg.  Op 'n stadium kom daar so jong ou verby ons gestap en staar Herrie stip aan... ons almal raak ongemaklik en ek wil net koes want ons was seker die man gaan nou vir een of ander obskure rede vir Hertzog slaan.  Hy kom toe nog nader, sit sy hand om Herrie se nek... en hier het ek begin dink die vuishou gaan verruil word vir 'n kopstamp, en toe die onverwagte: hy SOEN vir Herrie op die wang!  Jip, ons was uit die veld geslaan!  Geskok, verbaas... verlig!  Later toe ons wou huistoe gaan en ons jasse in die cloak room gaan haal het, het ons gesien hoe hy al hoe nader aan die man voor hom in die ry staan en toe hom op die nek soen...  Ah wel, goed om te weet Herrie het dit nog ;-)

Ons het SO lekker woonstel!  Het die eerste week op my kniee spandeer om als te skrop maar nou sal ek van die vloer af eet!  Het orals foto's op en plante gekoop so dis nou regtig 'n cozy nessie vir ons.  Pragtige view van die Laurens Kerk, 1 van min geboue in Rotterdam wat nie deur die Duitsers verwoes is nie, reg by ons slaapkamer uit
Laurens Kerk
Erasmusbrug, Rotterdam
Daar is 2 keer 'n week 'n mark in die straat reg voor ons kompleks en ek koop al my vars goed daar.  Doen nogals moeite met kos want ek het geen verskoning om dit af te skeep nie ;-)  Oe en die mark het die mooiste blomme - spot goedkoop!
Vars vis by die mark
Ek't al paar maats ook gemaak, 2 wat uitstaan wie se mans/ kerels ook in die program saam Herrie is, is Meredith van US en Arden van Kanada.  
Arden, Meredith, ek
Ek glo dat daar orals mense soos jy is, mens moet net soek.... en as jy nie in die eerste paar weke regkom nie, soek harder!  Ek was gelukkig dat ek hulle so vinnig opgespoor het.  Ons girls het 'n boek klub begin!  'n Groepie van 5 girls gekry en ons gaan een keer per maand bymekaar kom en 'n boek bespreek en besluit op volgende maand s'n.  Donderdagaand was die 'openingsaand' by ons huis en lyk my dit gaan meer gaan oor eet en wyn drink en gesels oor alledaagse dinge as oor die boek wat gelees is :-)

Dis koud!  Vandat ons hier is, was daar al 3 dae wat dit nie gereen het nie en oopgetrek was die hele dag, jip, ek tel! 

Herrie het 'n Opa fiets gekoop!  Ouma het nog nie een nie... sy ry maar nog agter op Oupa s'n!

Ek gaan more Toulouse toe tot Vrydag en moet nog pak!  Caromien en Dion is hier want hy doen 'n conversion op 'n nuwe airbus so klomp SAL pilots kom vir die week en ek bly sommer saam die tweetjies in hulle eenheid daar.  Sien baie uit!

Hertzog het vroeer vandag vir my gevra waar hy 'n plastiek trommel en paper clips kan koop... vanaand terwyl ek kook het ek gehoor hoe hy in die stoorkamer saag en tekere gaan, en kom toe baie trots uit met 'n biltongkas!  Die groot uitdaging gaan nou wees om vleis te kry...

Ons email maar die eerste nuus aan almal wat moontlik mag belangstel...  As hierdie net jou inbox volmaak en jy moeg is om na klompe en kaas stories te luister, reply met STOP!

Doei!
Anel & Hertzog



No comments:

Post a Comment