Tuesday, March 15, 2011

Februarie: Groetjes uit Holland 2

Naand vriende en familie!

Jammer dit het my so lank gevat om met 'n 2de nuusbrief vorendag te kom...  Na die eerste Groetjes in Holland was ek vir 'n week in Toulouse en daarna vir 2 weke siek - 'n erge verkoue het my geslat en ek was letterlik vir 2 weke buite aksie.  Darem nou weer perdfris en gesond en gereed om julle van ons Februarie te vertel!

Toulouse - wat 'n fees!  Ek't mos vir 'n week saam met Caromien en Dion in Toulouse gaan kuier en ons het een dag gaan kyk wat Carcassonne ('n naby gelee dorpie) so spesiaal maak. Carcassonne is 'n klein dorpie met 'n medieval kasteel wat omring is met straatjies en cute restaurante en dit staan vandag bekend as die "fortified city".  Carcassonne se ou kasteel is waar die nuuste Robin Hood fliek gemaak is!
Lekker ontdooi ons in die sonnetjie...
Carcassonne fortified city
Carcassonne vanuit die kasteel gesien

Toulouse is pragtig met lang kanale en pragtige bome wat langs die water groei - amper soos die kanale in Holland, net op 'n groter skaal.  Ons het ook vasgestel dat die "rumor" van hondemis op die sypaadjies in Frankryk toe nou 'n realiteit is en moes letterlik omtrent hop-scotch speel om die outjies te mis.  Onder is 'n paar foto's van Toulouse:
Ons shop te lekker in Toulouse se strate...

Ek was net so voor 24h die Vrydagnag terug in Rotterdam waar Herrie en sy fiets vir my op die stasie gewag het.  By die huis aangekom het ons van sy tuisgemaakte biltong probeer - heerlik - en soos 2 wat niks gewoond is nie deur ons woonstel se vensters na die Laurenskerk wat reg langs ons gebou is gestaar want daar was 'n rave aan die gang?!  Harde musiek met flitsende ligte en mense wat op en af spring tot in die vroee oggend ure... in die kerk!

Met Herrie se studies gaan dit heel goed sover en hy is steeds baie besig met groepstake en voorbereiding vir die eksamen wat volgende Maandag begin!  Ons lag gereeld vir die mense in sy groep - okay seker nie VIR hulle nie, meer SAAM met hulle!  Soos Christos (the Greek Pig soos hy na homself verwys) se snaakse Engelse uitdrukkings...  Ons was nou die dag erens heen oppad met die fietse - ek het soos oudergewoonte op die Opa fiets se carrier gesit - toe Christos skielik langs die pad stop en dramaties in sy Greeklish aankondig: "the red Ferrari has a malfunction"!  Die "red Ferrari" is 'n rooi piepklein opslaan fietsie en hy is 'n groot ou en die "malfunction" het iets te doen gehad met sy ketting!
Christos met sy red ferrari

Ander interessante aande wat ons al saam met die RSM (Rotterdam School of Management) groep spandeer het was Chinese New Years waar al die chonkies in die groep vir ons gekook het - lekker en minder lekker disse maar heel interessant!
 Saam Meredith by die Chinese New Year party

Dan is Herrie nie net meer 'n student by RSM nie maar ook akteur en coach!  Ek wil my doodlag, hy was hoeka gisteraand besig om te act in 'n advertensie wat die bemarkingsouens vir die skool maak - die advertensie gaan oor 'n "man bag" en Hertzog vertolk die rol van "the man"!  Dan het van die ouens in die groep hom gevra om hulle te leer rugby speel want hulle gaan by die MBA Olympics 'n span inskryf en siende dat rugby albei sy kniee se kruisligamente gekos het, is hy nou die afrigter - foto!  Van wat ek hoor is Herrie se superbru performance nie te goed nie maar in die land van die blindes is een-oog seker koning!
Coach Badenhorst

Ag, praat van rugby...  Ek het in die week paar van Herrie se vriende oorgenooi vir ete en Terry het my toe bederf met 'n mooi hiacint in 'n glasbak.  Hertzog was so in sy noppies met die nuwe rugby bal wat hy vir sy span bestel het en het soos 'n seuntjie rondgetrippel en elke nou en dan aan die nuwe bal geruik en vir homself in die lug gepass (en later in die gang geskop).  Ek was in die kombuis besig met iets toe ek die slag in die gang hoor...  Jip, hy het een van die eerste reels vergeet wat elke seuntjie vroeg in sy lewe moet aanhoor: Moenie met 'n bal in die huis speel nie!  Ek het regtig soos sy ma gevoel toe ek om die draai gehardloop kom nadat hy my herhaaldelik vermy het toe ek uit die kombuis vra wat gebreek het... en hom letterlik soos 'n stout kind by my nuwe plantjie kry waar hy probeer om die gebreekte knoppe weer te laat groei!  Dit kon seker erger gewees het ;-)

Ek en Herrie het so 2 weke gelede 'n Suid Afrikaanse aand gehad - net ons 2!  Dit was 'n vriesende aand in Februarie in Europa maar Pappa wou braai en ons het ons nano braaiertjie op die balkon ingelyf!  (foto's) Ons het amper die vleis wat ons gewoonlik medium rare verkies laat "very well done" raak want dit was soooo lekker om by die vuurtjie te sit!  Binne in die huis het ek toe ook sommer vir ons beskuit gebak want al eet hy NOOIT in SA beskuit nie het die boertjie skielik vreeslik lus geraak daarvoor na 2 maande in Holland!  Het ek genoem dat al hierdie dinge plaasgevind het op die maat van Japie Loubscher en Thys Lourens se Kwikstertjie Vastrap wat uit ons tv kamer gebler het?!  Let op die foto's dat ek 'n donsbaadjie aanhet en gluhwein drink maar braai in die winter was lieflik!
Let op die grootte van die braai vs die wynglas


Oe, groot nuus!  Ek't 'n fiets gekry, sy is rooi en haar naam is Vonk!  Een aand so 2 weke gelede het ek en Herrie redelik ver moes ry nadat die ouens gaan klim het by 'n climbing gym en soos julle weet side saddle ek mos agter op sy fiets, maar hy het net een keer te veel my voete teen die karre wat in die pad geparkeer was se wiele laat stamp.  As ek daaroor terug dink was dit seker snaaks maar ek moes regtig klou of daai onverwagste stampies het my van daai carrier afgevee.  Die volgende oggend het ek vir Vonk aangeskaf - come to think of it, dalk het my man met 'n plan gewerk...

Verder hou ek my deesdae besig met naaldwerk, is mal daaroor!  My vriendin Meredith het my als geleer wat 'n beginner moet weet en ek't alreeds 'n kussingsloop, hempie en romp aanmekaar geslaan.  Dit gaan nog maar sukkel sukkel maar ek geniet dit baie.  Ons het ook weer 'n boek klub byeenkoms gehad om The Girl with the Dragon Tattoo te bespreek en ek raai almal aan om dit gerus te lees - baie entertaining.  Die boek vir Maart is The Help. 

Ek en Meredith was vandag in Delft, dierbare dorpie so 20 minute met die trein van ons af.  Ek stuur foto's van die kerk en gragte.  Het soos regte kaaskoppe die oggend afgeskop met poffertjes (soos plaatkoekies net ronder) en bitterballen en bier was op die spyskaart vir middagete.
'n Kanaal in Delft
Nieuwe kerk in Delft

Ons 2 gaan meeste van die week wat voorle gebruik om dorpies rondom Rotterdam te verken om te sien waarheen ons almal kan vat wat kom kuier... Oor 2 weke kom my skoonouers vir paar dae kuier en ons sien vreeslik uit!  Hulle gaan dan 'n arctic endurance trip met snow mobiels in Swede doen vir paar weke en oppad terug kom hulle weer by Rotterdam verby.  Ander gaste in April sluit sover vir Pampoen en Chrisna & Wim in en in Mei kom Pieter & Gizi en my ma & pa!  Ons is so bederf om van ons maatjies en familie te he om vir ons te kom kuier en sien baie uit om ons lewe hier met julle te deel!

'n Ander lekker vooruitsig is die week in Rome einde Maart na Herrie se eksamen waaraan ek nou beplan...

Praat van bederf... Ek besef in die week weer hoe rustig ek geraak het vandat my lewe 'n stadiger pas het, uit die gejaag van elke dag in die stad en tussen die myne.  Dit maak dat mens weer die kleiner goedjies in die lewe waardeer en al sien ek en Herrie mekaar redelik min is die uurtjie saam oor aandete regtig kwaliteit tyd....  Hierdie jaar in Europa is so groot voorreg en ons is so gelukkig in Rotterdam - ons is voorwaar baie geseend!

Alhoewel niemand met STOP reply het laas nie, het ek besluit om tog maar liewer 'n blog te begin eerder as die nuusbriewe.  Dan kan die van julle wat belangstel in ons lewe hier net op die blog gaan kyk na al ons nuus...  Sal laat weet wat die adres is sodra hy up and running is - watch this space!

Asb moenie ophou skryf nie, dis heerlik om van julle te hoor...

Mag julle 'n fenominale week he!

Liefde groete
A&H

PS: Baie geluk aan Karen en Altmar wat die naweek getroud is!!

No comments:

Post a Comment