Thursday, April 28, 2011

Kuiertjies en so...

Hallo!

Ek hoop almal het 'n Geseende Paasfees gehad en lekker gerus oor die langnaweek?  Ek en Hertzog was in Belgie maar ek skryf weer ander dag oor als wat ons daar gesien het.  Nou wil ek julle eers vertel van almal wat die afgelope maand hier in Rotterdam kom draai het.

Toe die beskuit gebak en ons biltong gehang is, het ek en Herrie die slapies begin aftel tot sy Ma en Pa se vlug geland het!  Nie net was hulle ons eerste kuiergaste nie, maar hulle besoek het ook die laaste dag van Hertzog se eksamen aangekondig waaroor ons baie opgewonde was.  My skoonouers se kuier is onderbreek deur 'n 3 weke "Arctic Enduro" trip wat hulle in Noorwee gaan doen het met honde en slee en "snow mobiles" en ons het van voor af uitgesien na hulle 2de kuiertjie in Rotterdam toe hulle oppad terug weer hier langs gekom het :-)

Ietsie snaaks oor die biltongboks...  die eienaar van die woonstel wat ons huur het nou die dag sy pos kom haal en baie agterdogtig na die lee boks gestaar...  hy wou nie lekker vat aan Herrie se storie dat dit gebruik word om VLEIS te droog nie :-)

Terwyl Herrie sy laaste vak geskryf het, het ek en sy ma-hulle die strate van Rotterdam ingevaar en hulle is sommer op dag 1 al aan stroopwafels bekend gestel.  Ons het ook na die "Cube Houses" gaan kyk en by die ou hawe 'n biertjie gedrink om Hertzog se vakansie en hulle koms te vier!  Die "Cube Houses" vorm deel van die Blaakse Bos, 'n figuurlike stedelike bos net om die draai van ons en is geel kubusse wat getilt is om mens te herinner aan abstrakte boomhuise...  vreemd, ek weet, maar soos meeste geboue en kuns in Rotterdam is dit iets om aan gewoond te raak!  Wat selfs vreemder is, is dat mense in hierdie kubusse bly en die waglys is blykbaar vreeslik lank.
 Stroopwafels... elke toeris se gunsteling!

 Binne in 'n Cube House

Ons het 'n uitstappie na Kinderdijk geneem in Lekkerland!  Daar staan 19 windmeule wat in die 1740's gebou en al die jare onderhou is en dit is so paar jaar gelede as 'n UNESCO World Heritage Sight verklaar.

Tydens my skoonouers se 2de besoek het Herrie weer begin klas draf en ons ander 3tjies was Keukenhof toe... steeds so ongelooflik soos die herinnering wat ek al 5 jaar in my hart koester!  Dis 'n blommetuin naby Leiden wat elke jaar vir 'n paar weke vir die publiek oop is en ek glo dis hoe die Hemel moet wees.  'n Magdom tulpe in verskillende vorms, groottes en kleure met die heerlikste geure verwelkom jou!  As ek kon, het ek julle met 'n duisend foto's bederf...

Oppad terug van Keukenhof het ons gou in Den Haag na die Mesdag Panorama gaan kyk.  Dit is Nederland se grootste skildery en is amper 120 jaar oud.  Die panorama is 14 meter hoog en 120 meter lank en nogals indrukwekkend.  Ongelukkig kon ek nie foto's neem nie, maar hier die link as julle dalk meer wil sien:
http://www.panorama-mesdag.com/#pagina=849

Verder het ons 'n draai in Delft gaan maak, 'n interessante weergawe van Cinderella in die teater gaan kyk wat tydens die 2de wereldoorlog afspeel en 'n boottoer deur Rotterdam se hawe gedoen.  Die hawe is die 3de grootste in die wereld en dis moeilik om te glo dat enige iets ooit hul bestemming van hier af bereik want dis krat op krat op krat sover as wat die oog kan sien...

Na my skoonouers se kuier het ons nog 2 vinnige besoekies gehad.  Tannie Sonea van AUS was vir paar dae in Holland en ons was saam Delft en Kinderdijk toe en Chantel het verlede week 'n spontane kuiertjie ingewerk en vir 2 dae by ons gekuier voordat haar ferry vanaf Hoek van Holland na Londen vertrek het.  Die weer was regtig lieflik toe Chantel hier was en ons het vir haar 'n fiets gehuur en gaan piekniek hou in die park - op my nuwe piekniek kombers wat ek met my nuwe masjien gemaak het :-)
Tannie Sonnie by Kinderdijk

Piekniek in die park saam Chantel en Meredith

By Hoek van Holland het ek 'n advertensie van 'n nuwe ontwikkeling gesien wat sinspeel op die Kaap de Goede Hoop, al is Kaapstad 9645 km van hier af!

More oggend vroeg kry ek vir Pampoen in Amsterdam en Saterdag sluit Chrisna & Wim ook by ons aan.  Die naweek gaan ORANJE wees want Saterdag is dit Koninginnedag wat waarskynlik die grootste feesdag in die hele Holland is!  Ons het reeds ons oranje pakkies en is reg vir 'n groot partytjie...  hoop net hierdie grou weer waarmee ons nou weer gestraf word klaar op voor die naweek!  Koniginnedag word sedert 1885 in Holland gevier en is veronderstel om 'n dag van "saamhorigheid" te wees.  Dit word gevier op die vorige koningin (Juliana) se verjaarsdag die 30ste April.  Die huidige koningin, Beatrix, verjaar eintlik in Januarie maar omdat die weer sleg is daai tyd het sy besluit om die volk 'n guns te doen en vier sy haar verjaarsdag op die 30ste April elke jaar - wat sy nie als vir haar mede-Kaaskoppe sal doen nie ;-)

Een van die dae skryf ek oor Rome, Belgie en Koninginnedag...

Doei!

PS: Baie geluk met jul troue Gert & Charlene!  Ons hoor die Kaap was weer Hollands - baie spyt ons kon nie saam met julle daar kuier nie...

Tuesday, April 5, 2011

Bietjie van Maart...

Uiteindelik sien my blog die lig!  Ek't die eerste 2 nuusbriewe ook opgelaai en sal nou op 'n gereelde basis bietjie nuus op die blog sit.  Sodoende is niemand verplig om tydens 'n besige oggend op kantoor deur my lang emails te worstel nie en julle kan maar van tyd tot tyd kyk of ons nuus op die blog het sou julle belangstel...  Asb moenie ophou email omdat ek nou die blog update en nie meer nuusbriewe mail nie ;-)

Ons Maart was opwindend, akademies, besig, gesellig en ROME-rig!

Herrie het vir 'n week lank eksamen geskryf en alhoewel hy nog wag vir die uitslae glo ons dit het okay gegaan.  Van wat ek hoor was die man nie vreeslik akademies in die Sonop dae nie maar ek moet erken dat hy baie hard gewerk het hierdie afgelope kwartaal en ek is baie trots op hom!  Ek't eintlik nogals bekommerd geraak oor die nerd op 'n stadium want ek't een aand so in die verbygang in die kombuis hom op die boud geklap en amper 'n vinger verstuit - nee, nie omdat sy boude so gespierd is nie maar oor daar 'n, wag vir dit, SAKREKENAAR in sy sweetpakbroek se sak rondgedra word!  Verder het hy ook sy eerste formele en informele rugbyles agter die rug.  Die informele een het een middag na 'n skoolfunksie hier in die vierkant voor ons huis plaas gevind en soos dit MBA studente betaam moes die sessie natuurlik in suit & tie gebeur!  Ek heg vir julle 'n clip aan wat ek uit ons woonstel geneem het van Christos (Griek), Oleg (Rus) en Jan (Duitser) se eerste touchies attempt.


Ek, Meredith en Arden het 'n draai in Utrecht gaan maak om te kyk hoe Arden optree by die Stukafest waarna sy reg deur Holland getoer het vir optredes.  Sy is 'n contemporary danser en dit was nogals interessant om haar te sien optree.  Utrecht het die oulikste winkels met Hollandse muurpapier uit die 80's en ek is baie dankbaar dat ek nie daar bly nie want ek en Herrie sou elke maand van liefde en water moes lewe!

 Utrecht
Interessante ondergrondse pub met die ongelooflikste atmosfeer!
Arden se optrede

Oe, hoor hoe snaaks, ons vriend Elliot van California (inlas) het iets vreesliks oorgekom.  Sy verloofde Meredith het vir 'n paar dae in Duitsland gaan kuier en toe sy terug kom het Elliot wat die hele week alleen moes inkopies doen en self kook vir haar 'n lee pakkie gehou van vleis wat hy by Jumbo - dis soos ons SPAR - gekoop het en baie geniet het.  Hy't ewe trots die pakkie oorhandig toe sy weer gaan inkopies doen en vir haar gevra om asseblief weer daarvan te kry want dit was blykbaar heerlik.  Meredith verstaan al bietjie Hollands en het hom te jammer gekry om te se wat hy geeet het... PAARDENVLEES!  Jip, perd vleis!  Kan julle glo dat dit sommer so by ons friendly grocer verkoop word... sies!
 

'n Hele paar vriende het nou al gevra dat ons foto's van die woonstel wat ons huur stuur en ek wil ook altyd weet presies waarheen ek verlang en dis lekker om te sien hoe dit lyk waar iemand bly want dan kan mens hulle daar imagine.  Soos my skoonouers en Peet & Tharina wat al hier was weet nou presies hoe dit lyk as ons praat van die mark of nuwe meubels in ons tv kamer ens.  Daarom heg ek paar foto's van ons huidige woonstel aan.  Ons het ongelukkig verlede week gehoor dat die woonstel verkoop is en ons moet einde Junie trek, maar daar is darem nog 3 maande om die balkon te geniet en ek't baie tyd in die dag om 'n nuwe plekkie te soek.

Ons bly op 'n groot vierkant, Binnenrotte, waar daar 2 keer per week 'n reuse mark is - oor die mark sal ek 'n ander dag skryf.  En dan het ek al voorheen genoem dat ons ander bure 'n kerk is, die Laurenskerk.  Die kerk is in die veertien honderds gebou maar is in die 2de wereld oorlog deur die Duitsers verwoes.  In die 1940's is die kerk weer in sy volle ou glorie herstel en is die enigste gebou in die stad wat nog herinner aan die middeleeuse periode van Rotterdam.  Vreemde ding van die Laurenskerk wat ek ook al aan julle genoem het is die rave partytjies wat af en toe hier gehou word...
Binnenrotte waar die mark is links en St Laurenskerk regs
TV kamer
Eetkamer
Herrie in die kombuis - Not just a pretty face...

Dan breek die lente ook uiteindelik in Europa aan soos Pampoen reeds vir van julle laat weet het :-)  Ek kan nie glo hoe vinnig die seisoen gedraai het nie en in die kwessie van 'n week kom daar nou orals tulpe en daffodils (my all time favorite) op, die bome het bloeisels en die son sak eers na 20h!  Almal is vriendelik op straat en elke dooie restaurantjie het skielik tafels op die sypaadjie!  Daarom het ons stoep ook sommer 'n make-over gekry om die lente aan te kondig!

My skoonouers was vir so paar dae by ons net voor Hertzog se vakansie en maak weer later hierdie week 'n draai in Rotterdam - ek vertel julle in 'n volgende post van ons kuiertjies en dan ook van ons fantastiese week in Rome...

Vandag was dit weer back to school vir Herrie en ek't vanoggend terwyl ek sy broodjies maak skielik skuldig gevoel dat ons nie nuwe penne gekry het of gesorg het dat sy potlood skerp is nie :-)

Lekker week!

PS: Baie geluk aan Tiaan & Lise wat hul 3de seuntjie ryker geword het hierdie week... Welkom in ons wereld Joshua!