Thursday, April 28, 2011

Kuiertjies en so...

Hallo!

Ek hoop almal het 'n Geseende Paasfees gehad en lekker gerus oor die langnaweek?  Ek en Hertzog was in Belgie maar ek skryf weer ander dag oor als wat ons daar gesien het.  Nou wil ek julle eers vertel van almal wat die afgelope maand hier in Rotterdam kom draai het.

Toe die beskuit gebak en ons biltong gehang is, het ek en Herrie die slapies begin aftel tot sy Ma en Pa se vlug geland het!  Nie net was hulle ons eerste kuiergaste nie, maar hulle besoek het ook die laaste dag van Hertzog se eksamen aangekondig waaroor ons baie opgewonde was.  My skoonouers se kuier is onderbreek deur 'n 3 weke "Arctic Enduro" trip wat hulle in Noorwee gaan doen het met honde en slee en "snow mobiles" en ons het van voor af uitgesien na hulle 2de kuiertjie in Rotterdam toe hulle oppad terug weer hier langs gekom het :-)

Ietsie snaaks oor die biltongboks...  die eienaar van die woonstel wat ons huur het nou die dag sy pos kom haal en baie agterdogtig na die lee boks gestaar...  hy wou nie lekker vat aan Herrie se storie dat dit gebruik word om VLEIS te droog nie :-)

Terwyl Herrie sy laaste vak geskryf het, het ek en sy ma-hulle die strate van Rotterdam ingevaar en hulle is sommer op dag 1 al aan stroopwafels bekend gestel.  Ons het ook na die "Cube Houses" gaan kyk en by die ou hawe 'n biertjie gedrink om Hertzog se vakansie en hulle koms te vier!  Die "Cube Houses" vorm deel van die Blaakse Bos, 'n figuurlike stedelike bos net om die draai van ons en is geel kubusse wat getilt is om mens te herinner aan abstrakte boomhuise...  vreemd, ek weet, maar soos meeste geboue en kuns in Rotterdam is dit iets om aan gewoond te raak!  Wat selfs vreemder is, is dat mense in hierdie kubusse bly en die waglys is blykbaar vreeslik lank.
 Stroopwafels... elke toeris se gunsteling!

 Binne in 'n Cube House

Ons het 'n uitstappie na Kinderdijk geneem in Lekkerland!  Daar staan 19 windmeule wat in die 1740's gebou en al die jare onderhou is en dit is so paar jaar gelede as 'n UNESCO World Heritage Sight verklaar.

Tydens my skoonouers se 2de besoek het Herrie weer begin klas draf en ons ander 3tjies was Keukenhof toe... steeds so ongelooflik soos die herinnering wat ek al 5 jaar in my hart koester!  Dis 'n blommetuin naby Leiden wat elke jaar vir 'n paar weke vir die publiek oop is en ek glo dis hoe die Hemel moet wees.  'n Magdom tulpe in verskillende vorms, groottes en kleure met die heerlikste geure verwelkom jou!  As ek kon, het ek julle met 'n duisend foto's bederf...

Oppad terug van Keukenhof het ons gou in Den Haag na die Mesdag Panorama gaan kyk.  Dit is Nederland se grootste skildery en is amper 120 jaar oud.  Die panorama is 14 meter hoog en 120 meter lank en nogals indrukwekkend.  Ongelukkig kon ek nie foto's neem nie, maar hier die link as julle dalk meer wil sien:
http://www.panorama-mesdag.com/#pagina=849

Verder het ons 'n draai in Delft gaan maak, 'n interessante weergawe van Cinderella in die teater gaan kyk wat tydens die 2de wereldoorlog afspeel en 'n boottoer deur Rotterdam se hawe gedoen.  Die hawe is die 3de grootste in die wereld en dis moeilik om te glo dat enige iets ooit hul bestemming van hier af bereik want dis krat op krat op krat sover as wat die oog kan sien...

Na my skoonouers se kuier het ons nog 2 vinnige besoekies gehad.  Tannie Sonea van AUS was vir paar dae in Holland en ons was saam Delft en Kinderdijk toe en Chantel het verlede week 'n spontane kuiertjie ingewerk en vir 2 dae by ons gekuier voordat haar ferry vanaf Hoek van Holland na Londen vertrek het.  Die weer was regtig lieflik toe Chantel hier was en ons het vir haar 'n fiets gehuur en gaan piekniek hou in die park - op my nuwe piekniek kombers wat ek met my nuwe masjien gemaak het :-)
Tannie Sonnie by Kinderdijk

Piekniek in die park saam Chantel en Meredith

By Hoek van Holland het ek 'n advertensie van 'n nuwe ontwikkeling gesien wat sinspeel op die Kaap de Goede Hoop, al is Kaapstad 9645 km van hier af!

More oggend vroeg kry ek vir Pampoen in Amsterdam en Saterdag sluit Chrisna & Wim ook by ons aan.  Die naweek gaan ORANJE wees want Saterdag is dit Koninginnedag wat waarskynlik die grootste feesdag in die hele Holland is!  Ons het reeds ons oranje pakkies en is reg vir 'n groot partytjie...  hoop net hierdie grou weer waarmee ons nou weer gestraf word klaar op voor die naweek!  Koniginnedag word sedert 1885 in Holland gevier en is veronderstel om 'n dag van "saamhorigheid" te wees.  Dit word gevier op die vorige koningin (Juliana) se verjaarsdag die 30ste April.  Die huidige koningin, Beatrix, verjaar eintlik in Januarie maar omdat die weer sleg is daai tyd het sy besluit om die volk 'n guns te doen en vier sy haar verjaarsdag op die 30ste April elke jaar - wat sy nie als vir haar mede-Kaaskoppe sal doen nie ;-)

Een van die dae skryf ek oor Rome, Belgie en Koninginnedag...

Doei!

PS: Baie geluk met jul troue Gert & Charlene!  Ons hoor die Kaap was weer Hollands - baie spyt ons kon nie saam met julle daar kuier nie...

2 comments: