Thursday, December 1, 2011

"Home is wherever I'm with you..."

En so het ons laaste aand in Holland aangebreek... wat hierdie dan nou ook die laaste "Groetjes uit Holland" maak. Die jaar is in 'n oogwink verby en more oggend klim ons op die vliegtuig HUISTOE! Hoe sê hulle? "Time flies when you're having fun"! 'n Slotparagraaf met bittersoet trane oor 'n onvergeetlike jaar, ongelooflike huwelik, ontelbare oomblikke van geluk en reis en onthaal... Wat 'n seën om ons hoofstuk oorsee só af te sluit!

Die afgelope week was dit al die laastes... Saterdagaand was dit RSM se gala en dit was op die boonste verdieping van die Inntel Hotel in Rotterdam gehou met 'n pragtige uitsig oor die Erasmusbrug en die stad se liggies. Die aand was 'n reuse sukses met lekker kos en 'n oop internasionale kroeg en dit was interessant om die studente wat gewoonlik in jeans & truie is almal in hulle mooi-moois te sien!
RSM Gala

2 van Herrie se vriende wat die afgelope 3 maande op 'n uitruilskema in Spanje was het terug gekom vir die aand en dit was omtrent 'n reunie tussen Mitch (US), Jan (DE), Hertzog & Christos (GR) - die 4 kon nie genoeg kry van mekaar nie!
Guy love, not gay love...

Na afloop van die gala is omtrent 80% van die groep uit na een van die klubs waar ons al so 3 keer hierdie jaar was - 3 keer te veel! Dit is onder die grond so die ventilasie is maar sleg en almal rook binne (ja, daai wet word nog nie orals in Holland toegepas nie). Verder betaal mens 12 euro per persoon om in te gaan, heeltemal te veel vir drankies en 1 euro elke keer wat jy toilet toe gaan! Dis altyd propvol en die musiek is oorverdowend... maar dit was die klub van keuse omdat hy tot 06h00 oop bly en die feit dat amper al ons maats wat by die gala was saam met ons daar gekuier het, het dit die moeite werd gemaak.
VIP

Maandagaand was die laaste SNAC (boekklub) byeenkoms wat ek sou bywoon hier by ons huis en ons het so tussen die bokse deur gesit en kuier! Dit was lieflik om almal vir oulaas hier bymekaar te kom en ek is so dankbaar dat Meredith dit op die been gebring het en weer my liefde vir lees laat opvlam het. 

Dinsdagaand het ons saam met Hertzog se vriende gaan uiteet by Vapiano, een van ons gunsteling Italiaanse restaurante net hier om die draai van ons woonstel. 'n Ete by Vapiano is vinnig, lekker en goedkoop - wenresep! Hulle het glad nie kelners nie en as jy inkom kry elke persoon 'n kaart waarmee jy dan by verskillende toonbanke drankies, pasta, pizza, slaai of nagereg kan bestel en als wat jy bestel word op jou kaart gelaai. Jy kry 'n "buzzer" wat vibreer as jou kos gereed is wat jy dan weer by die toonbank oplaai en elke tafel het kruie plantjies waarmee jy jouself kan help. Wonderlike konsep! Na afloop van die ete het ons af in die straat gestap na 'n gesellige kroegie, Van Zanten, waar nog 2 palle by ons aangesluit het. Ek't gister weer besef hoe wonderlik dit is dat mense wat so verskillend grootgemaak is, met soveel verskillende verwysingsraamwerke en agtergrond sulke goeie vriende kan raak! Om ons tafel was 'n Egiptenaar, 3 Suid Afrikaners, 2 Hollanders, 2 Amerikaners, 'n Italianer, 'n Griek, 'n Indiër en 'n Marokkaan!
Vapiano!

Woensdagaand was dit tyd om van my maats en hul metgeselle afskeid te neem en ek het vir ons by 'n gesellige plekkie bespreek waar ek en Herrie graag gaan eet het hierdie jaar, De Hemel op Aarde. Daar is omtrent 10 tafels en die kroeg, kombuis en restaurant is alles in dieselfde vertrek. Van ons vriende hier sê dat hul nie van die atmosfeer hou nie want hulle probeer letterlik "De Hemel op Aarde" uitbeeld met die dekor! Anders as Vapiano kan etes hier ure lank uitgerek word want dis alles klein porsies so ons bestel gewoonlik sommer 'n klomp goed wat almal om die tafel deel... heerlik!
De Hemel op Aarde!

Na ete het ons by Concordia - 'n gunsteling kroeg van die MBA 2012 groep - 'n bier gaan drink en omtrent 70% van Hertzog se klas daar gekry wat almal hulle laaste week in Rotterdam gevier het.
Concordia

Vanaand het ek en Herrie vir oulaas Rotterdam ingeneem en terug gekyk oor die fantastiese tye wat ons hierdie jaar beleef het! Ons was so geseënd hier en is so dankbaar oor al die geleenthede wat oor ons pad gekom het. Dit was verseker die lekkerste tyd van ons lewens sover... 

Wat gaan ons mis van hierdie plek? Treinry. Fietsry. Stap waar jy wil kom. Ons pragtige uitsig. Picknick. Vars vis by die mark. Bitterballen. Poffertjes. Gezellige kroegen. Ijssalon. SNAC. De Hemel op Aarde. Verskeidenheid in die winkels. My honde. Vapiano. Die kersstemming wat jy orals aanvoel. Ikea. Ou goed, met jare se geskiedenis... 

En laaste maar nie die minste nie, ons vriende! Hierdie (en al die ander gesiggies wat al ooit op my blog was) het gesorg vir fantastiese tye hierdie jaar.
Thanks guys & girls, amazing memories!

Nou lê 'n nuwe jaar, in 'n nuwe stad, met nuwe uitdagings, vriendskappe en drome voor... 'n Nuwe plekkie om HUIS te noem! Herrie, dankie vir 'n fantastiese jaar! Ek sien vreeslik uit na wat die nuwe fase in ons lewens vir ons inhou en al is ek hartseer om uit Rotterdam te trek is dit 'n groot troos dat my beste maatjie saam trek :-)

Ek groet julle met 'n video van ons hoogtepunte in die jaar wat verby is, op een van my nuwe gunsteling liedjies, Home van Edward Sharpe and The Magnetic Zeros.
Home

Alabama, Arkansas, I do love my Ma & Pa
Not the way that I do love you

Holy Moley, Me-oh-My, you're the apple of my eye
Girl, I’ve never loved one like you

Man, oh man, you’re my best friend, 
I scream it to the nothingness
There ain’t nothin’ that I need

Well, hot & heavy, pumpkin pie, 
chocolate candy, Jesus Christ
There ain’t nothin’ please me more than you

Ahh, Home
Let me come Home
Home is wherever I’m with you (2x)

La la la la, take me Home
Baby, I’m coming Home

I’ll follow you into the park, 
through the jungle, through the dark
Girl, I’ve never loved one like you

Moats & boats & waterfalls, 
alley ways & pay phone calls
I’ve been everywhere with you

That’s true

We laugh until we think we’ll die, 
barefoot on a summer night
Nothin’ new is sweeter than with you

And in the streets we're running 
free like i's only you and mee
Geez, you’re somethin' to see.

Ahh, Home
Let me come Home
Home is whenever I’m with you
Ahh, Home
Let me come Home
Home is when I’m alone with you 

x

Monday, November 28, 2011

Rotterdam, stad zonder hart!

The Beautiful South sing 'n liedjie, Rotterdam.  In hierdie liedjie sing hul onder andere: "This could be Rotterdam or anywhere..." - wat my laat wonder of hulle al hier was, want Rotterdam is baie uniek en soos geen ander stad in Nederland nie!

Rotterdam het beslis nie die klassieke skoonheid en "oudheid" van Amsterdam nie, en dalk ook nie die sjarme van klein Hollandse dorpies soos Delft nie, maar dis 'n interessante, moderne Europese stad, vol unieke geboue en nuwe wolkekrabbers (mooi woord né)! Die Kaaskoppies hou oor die algemeen nie baie van Rotterdam nie, want hul sê dat die stad nie Nederland verteenwoordig nie - "fair enough" - maar ek het nog nie een gebore Rotterdammer teegekom wat enige ander plek wil bly nie! Dis in elk geval nie uit keuse dat Rotterdam nie vandag nog met ou, skeuwe Hollandse huisies kan spog nie, want hierdie modernisering is as gevolg van die Tweede Wêreldoorlog en die Blitz...

Die Rotterdam Blitz verwys na die middag van 14 Mei 1940, toe meer as 1200 bomme in 'n kwessie van 45 minute op Rotterdam neer gereën het en brande die hart van die stad verwoes het. Rotterdam was 'n strategiese hawestad wat Hitler graag wou verower en die generaals wat hy na Rotterdam gestuur het, het gedreig dat die stad vernietig sou word met die hoop om die Hollanders tot oorgawe te dwing. Na vele onderhandelings is 'n ooreenkoms tog bereik, maar as gevolg van 'n gebrek aan komminikasie aan die Duitse kant en lae sigbaarheid, het die boodskap te laat by die Duitse bomwerpers uitgekom wat tot die onnodige bombardering van die hart van Rotterdam gelei het.
 Rotterdam in die 1930's
Rotterdam in 1940

Om seker te maak dat niemand van hierdie tragiese verwoesting van die stad vergeet nie, is 'n beeld naamlik "De Verwoeste Stad" in 1953 by Leuvehaven opgerig wat 'n man voorstel met 'n gat in sy maag en arms wat vraend na die hemel uitgestrek is.  Ook het ons die "brandgrens" wat ons daagliks herinner watter grondgebied verwoes is deur die bomme van 14 Mei en die daaropvolgende brande wat dae lank in Rotterdam gesmeul het.  Sedert 2010 is die sogenaamde brandgrens in Rotterdam volledig uitgestip met rooi liggies in die plaveisel.
Liggies van brandgrens en beeld: De Verwoeste Stad

Die heropbou program van Rotterdam is binne twee weke na die einde van die oorlog opgetrek. Die stad het 'n radikale breuk met die verlede gemaak en 'n nuwe roete ingevaar vir die herdefiniëring van die beeld van die stad: lig, lug en ruimte was die sleutelwoorde. Plaaslike en buitelandse argitekte het na Rotterdam gestroom want hulle het al die ruimte gehad wat hulle nodig gehad het, letterlik en figuurlik, en vandag is Rotterdam 'n lofsang aan die moderne argitektuur en 'n droombestemming vir enige argitek!  Ek vergaap my weekliks aan interessante geboue wat ek hier raakloop.

In 1954, is die Lijnbaan voltooi, die eerste voetgangers koopstraat in Europa. Geboue soos die Erasmusbrug, "Kubus woningen" en Maastoring (die hoogste gebou in Nederland) is net 'n paar van die vernaamste nuwe toevoegings in Rotterdam en ek is oortuig daarvan dat wanneer ek en Herrie in 10 jaar van nou af die geleentheid het om weer in Rotterdam te draai, ons baie van die geboue nie sal herken nie. Die stad se kontemporêre beeld is verseker te danke aan die strewe na innovasie!
Paar interessante geboue in Rotterdam.  Hoe skeuwer, bonter, ronder, vreemder... hoe beter!

Op die boonste verdieping van die gebou heel bo regs, is waar ons Saterdagaand gekuier het vir RSM se gala!  Ek't nou op 'n website afgekom wat op verskeie interessante geboue in Rotterdam se argitektuur fokus, sou jy belangstel: 

Ander bekende geboue wat sinoniem is aan Rotterdam sluit die Wittehuis (wat spesiaal nie gebom is nie sodat dit as kantore vir die Duitsers kan dien), die Euromast ('n 185 meter hoë toring), die Laurenskerk (enigste oorblyfsel van middeleeuse Rotterdam wat na die oorlog restoureer is en vandag gebruik word vir kerkdienste, konserte en "rave" partytjies) en Hotel New York in.  Dan is daar ook ander bekende gesigte soos die Willemsbrug (rooie) en die Erasmusbrug wat se bynaam "De Zwaan" is, asook die Kubus huisies, die biblioteek met sy geel lugpype, Oudehaven, Binnenrotte se mark, die hawe en Het Park wat vir ewig in my kop geprent sal bly!
Bekende prentjies van Rotterdam wat my altyd sal bybly

Oe, ander interesante goed in Rotterdam is die über moderne treinstasies. Hulle is al die hele jaar besig om Rotterdam Centraal te opgradeer en deesdae pronk hy met 'n reuse, driehoekige, staal punt in die lug - sal maar foto's van hom neem wanneer hy nader aan klaar is as ons kom vir Herrie se gradeplegtigheid in Maart. Ons stasie, Blaak, spog sedert 1993 met 'n nuwe voorkoms, dié van 'n vlieënde piering wat hang aan 'n koperboog van 62 meter!  Treine en moltreine stop beide onder die grond en ook daar is die stasie baie modern.
Blaak Station, Rotterdam

Ons lewe in Rotterdam het die laaste ruk 'n paar interessante kuiers ingesluit, onder andere 'n Vrydagaand fliek by die "pleinbioscoop" wat ek, Meredith, Rachel & Kalina bygewoon het - ons het True Grit gesien.  Vir 'n week lank was daar 'n ope-lug fliek in Museumpark met die oulikste stalletjies wat kos en drankies verkoop het uit karavane en ou kratte uit die hawe! Bo-op elke krat en karavaan was daar 'n paar verskillende lampies met flou ligte wat die atmosfeer lekker gesellig gemaak het.  4 Euro het vir jou 'n toegangskaartjie en 'n opvoustoel besorg en in ware Hollandse styl het almal hulle stoele in netjiese, reguit rye (met 'n middelpadjie) gaan uitpak - mal daaroor!  Ons het net lekker snoesig in ons kombersies ingewikkel en die wyn geskink toe die aankondiger vra dat almal hulle stoele 2 meter vorentoe skuif... die "neeeeee" wat die gehoor soos een man geskree het, het die inspanning van die skuif die moeite werd gemaak :-)
Pleinbioscoop, Museumpark

Rachel het verjaar en nadat ons by "De Stoep" gekuier het en al die seuntjies soos Herrie wat daar was huistoe is, het die dames aanbeweeg na "Gay Palace".  Dit was my eerste keer in so uitgaanplek maar dit was baie pret!  Al wat bietjie vreemd was is dat mens wel nogals aandag kry van ander mense wat kyke of aanbiedinge om drankies te betaal betref, maar dit kom van ander meisies af...  Iemand het 'n geselsie met Arden aangeknoop en toe sy mooi vir haar sê dat sy in 'n verhouding met Terry is, toe sê die meisie: "Oh, my condolences" - haha, classic!  Ons het vroegoggend op die fietse gespring en terug gery huistoe... ek agterop by Joyce want ek en Herrie het vroeër die aand na die restaurant gestap so Vonk was by die huis!
Gay Palace vir Rachel se verjaarsdag

Dan was daar ook 'n Griekse inval so 3 weke gelede toe 2 van ons Griekse vriende se meisies besluit het om op dieselfde naweek te kom kuier, en een van hulle het 2 vriendinne saamgebring.  Ek het vir Athina & Effie beide al op vorige geleenthede ontmoet en dit was so lekker om weer almal saam te kuier hier in Rotterdam!
Big Fat Greek Party met 2 Suid Afrikaners en 'n Rus
Griekse maatjies in Rotterdam

Ons het ook ons eerste Halloween partytjie bygewoon, Herrie as 'n "brain donor" en ek as "Miss Conception".  Die partytjie was by Ioannis se woonstel en soos dit maar met studente partytjies werk, raak dit hoe later hoe kwater en toe ons weer sien begin die Grieke in sirkels dans en Ioannis kap van sy borde uit die kombuis stukkend!  Haha!
Halloween!

Omdat Sinterklaas eers die 5de Desember kom en meeste van die MBA studente dan al reeds terug huistoe of met vakansie is, het Simone (een van ons Hollandse vriendinne wat saam met Herrie swot) besluit om almal na haar huis te nooi verlede week sodat ons 'n voorsmakie kry van vieringe in hierdie seisoen by 'n Hollandse gesin in Den Haag.  Die kaggel, glühwein, "speculaas" en "olibollen" het gesorg vir die perfekte stemming en die horings op Simone se kop en haar Pa se kersvaderhoedjie was te dierbaar!  Elke gas moes 2 geskenke bring: een regte een en een grap en als is op 'n groot hoop gepak.  Ons het in 'n kring gesit en vir ure lank 'n speletjie gespeel waar almal een of ander tyd iets moet oopmaak, wat baie pret was en niemand is met leë hande huistoe nie (selfs al is dit nou 'n boks vol grond).  Dit was heerlik om nog 'n smakie van die Hollandse kultuur te kry, bedankt Simone!

<---- Sint kom vroeg na Den Haag

Dis so lekker om van al die verskillende nasionaliteite waarmee ons hierdie jaar te doen kry se kulture te leer.  Buiten die Grieke se danse, die Amerikaners se halloween en die Hollanders se kerstradisies, was ons onlangs by 'n Koreaanse paartjie aan huis in Delft.  June swot saam met Hertzog en sy en haar man woon al 3 jaar in Nederland.  Sy het vreeslik lekker (en vreeslik baie) gekook uit 'n Koreaanse resepteboek en die gedroogte rissies wat sy gebruik het kom uit haar Ma se tuin!  Dit wil gedoen word.
Koreaans by June & Hans in Delft

So van kook gepraat, siende dat ek 'n super-bevoorregde-huishen was hierdie jaar oor my visum my nie toegelaat het om te werk nie, het ek al die tyd in die wêreld gehad om etes voor te berei en het 'n liefde vir kook ontwikkel!  Ons het ook gereeld maats oorgehad vir ete by ons en dan het ek gesorg dat almal genoeg eet... ek dink dis nou maar net ingebore in ons kultuur om mense te wil voer :-)  Dis so lekker as mens tyd het om by die mark te snuffel vir vars produkte en dan te sorg dat als mooi voorgesit word...
As ek so na die foto's kyk maak dit sin dat ons bietjie "ronder" huistoe kom :-)

Ongelukkig het die woonstel waar ons nou die laaste 6 maande van die jaar gebly het nie 'n oond nie - iets wat ons agtergekom het baie min woonstelle in Holland wel het.  So ons het 'n reeling met Rachel & Joyce oorkant die straat om van tyd tot tyd hul oond te gebruik en daarom het ek en Herrie een Sondag al die bestanddele vir 'n Suid Afrikaanse middagete gekoop en by hulle woonstel gaan kook om dankie te sê.  Dit was nogals snaaks om heen en weer met potte oor die straat te loop!
Good food. Good friends. Good times.

'n Ander stokperdjie waarmee ek in Rotterdam begin het is naaldwerk - ek weet, wie sou kon raai dat dit soveel plesier kan verskaf?!  As ek eers met iets begin, is dit al wat ek wil doen, die wêreld kan maar om my vergaan... Meredith het my aan die begin van die jaar begin leer en ons het 'n paar projekies saam op haar naaimasjien aangepak tot Herrie my verras het met 'n masjien vir my verjaarsdag!  
Beste geskenk ooit!

Ek't oorweeg om in te skryf vir 'n paar klasse by die "Naaikafee" - ja, jy lees reg - hier af in die straat van ons, maar hulle tye het nie lekker ooreengestem met my hondeloopsessies nie, so ek het maar myself geleer aan die hand van youtube "tutorials".  Ek't al 'n rompie of 3 gemaak, maar meeste projekte tot nou was heel eenvoudig, soos my eerste groot ding was 'n piekniek kombers... hy't heel lekker gewerk in die paar dae wat ons somer gehad het!  Ook het ek al 'n kussingsloop, sak, paar stelle plekmatjies en monsters vir familie & vriende se kinders gemaak en ek werk huidiglik aan my eerste "quilt" vir 'n spesiale vriendin se babatjie...
The only place where housework comes before needlework is in the dictionary. ~Mary Kurtz
O, soooo waar!

Voordat ek die dinge wat ons hierdie jaar vergader het begin pak, wil ek hierdie nuusbrokkie afsluit deur afgelope Donderdagaand se "Thanksgiving" met julle te deel - nog 'n eerste vir ons boertjies.  3 van ons naby vriende (Meredith, Elliot & Rachel) is Amerikaners en hulle wou graag hierdie tradisie in Rotterdam vier en ek & Herrie, Jason ('n ander Amerikaner in die MBA program), Joyce (Rachel se metgesel) en Ilonka & Klaartje (Meredith se bure) is genooi om saam te eet!  Almal het iets gebring en dit was meeste mense se eerste poging tot kalkoen of "pumpkin pie" maar die kos was fantasties en die atmosfeer baie spesiaal.  Ek en Meredith het die middag al vir Rachel gaan help om die kalkoen te stop - dit was baie snaaks!
Mer rek die beentjies oop terwyl Rachel stop...

Gedurende die ete het ons gepraat oor die verskillende tradisies in almal se families en almal het om die tafel gesê waarvoor hulle dankbaar is. Ek't terwyl die ander gepraat het aan soveel goed gedink om te sê en was oortuig daarvan dat hulle gaan sukkel om my stil te maak, maar toe ek aan die beurt kom was ek skielik te bewoë om te praat! Familie, vriende, ons gesondheid, goeie kos, goeie wyn, die mense wat ons lief het en 'n wonderlike jaar in Rotterdam wat alle verwagtinge oortref het en waarin kosbare bande gebou is, was van die dinge wat genoem is...
Thanksgiving!

Ons jaar in Rotterdam was so geseënd, in alle opsigte en nou dat ons aan die einde daarvan staan en al die laastes aanbreek is dit swaar om afskeid te neem.  

Rotterdam, stad sonder hart, jy't verseker 'n stukkie van myne... vir altyd!
x




Thursday, November 24, 2011

Vriende van vêr!

Ons was die laaste ruk so gelukkig om nie 1,2,3 of 4 nie maar 5 Suid Afrikaanse gaste te kry!
Eers het Elouna & Vic en Tiaan uit Switzerland kom kuier vir 'n langnaweek. 
Die foto wat elke toeris in Holland móét neem :-)

Dis so toevallig, ek & Tiaan is vriende van skool af, en ek & Elouna was saam in Vergeet-My-Nie op die PUK, maar die 2 het mekaar eers in Augustus hierdie jaar in Zurich ontmoet omdat Vic & Tiaan nou saam werk. Toe ek agterkom dat die 3 mekaar nou ken, en almal van Switzerland vir 'n naweek in Rotterdam wil kom speel, het ek voorgestel dat hulle sommer op dieselfde vliegtuig klim - "the more, the merrier"!

Ek en Hertzog het Donderdagaand na Amsterdam gegaan om die 3 te ontmoet waar ons heerlik gesmul het aan 'n Nederlandse koloniale dis, "Rijstafel" by Tempo Doeloe! {Net gou op hierdie noot, Vic het sy vriend William wat nuut is in Amsterdam saam genooi vir ete... Tiaan het sy vriend Bertus saam genooi wat ook in Amsterdam woon... Tydens die ete vind ons uit dat William en Bertus 'n woonstel deel!  Kleeeeiiin wêreld!}  Die "rijstafel" bestaan ​​uit vele (veertig is nie 'n ongewone getal nie) Indonesiese geregte wat in klein porsies bedien word, vergesel deur rys wat op verskeie maniere voorberei is. Die Hollanders is nogals lief vir hul Indonesiese kos en ons is al telke male aangeraai om die "rijstafel" te probeer so ek was baie opgewonde toe die geleentheid hom voordoen!
Rijstafel by Tempo Doeloe, Amsterdam

'n Ander eerste vir ons was Door 74 waar ons 'n bespreking vir 22h30 gehad het... Dis 'n kroeg, gebaseer op die "speakeasy" konsep, waar die plek na niks van die straat af lyk nie en mens moet vooraf 'n afspraak maak om daar te kuier... Dit het vir my baie interessant geklink en die website het my oortuig om vir ons 'n bespreking te maak!
Moeilik om te glo dat daar 'n kroeg agter hierdie mure wegkruip!

Eintlik moet mens geen resensie of terugvoer oor Door 74 skryf nie omdat jy dan die konsep beledig... Ek gaan dus ook net 'n paar sleutelwoorde agterlaat en jou aanmoedig om dit self te ervaar as jy weer in Amsterdam kom! Opwindende ingang. dames & here. speak easy. mooi. sterk. cocktails. klein. sjarmant. beroemd. Geniet!
William, Vic, Elouna, Tiaan en ons by Door 74!

Oppad terug stasie toe het ons 'n draai deur die rooiligdistrik gestap en toe 'n uur vir ons trein gewag as gevolg van 'n vertraging, wat natuurlik heel vreemd vir ons gaste was wat aan die Swiss se stiptelikheid gewoond geraak het!  Net voor 04h00 was ons terug in Rotterdam!
 Stille water, diepe grond... 

Vrydag terwyl Herrie moes skool gaan het ek vir Tiaan en die Strause gaan wys wat Delft so spesiaal maak!  Ek't al baie op die blog oor Delft geskryf, so vandag laat ek dit aan die foto's oor:
Delft!

Ek en Tiaan het ook 2 van die kerke in Delft besoek, die Oude Kerk en die Nieuwe kerk :-) wat ek nog nie vantevore gedoen het nie. Die Oude Kerk se mees kenmerkende eienskap is 'n 75 meter hoë steentoring wat omtrent 2 meter skeuf leun! Die eerste stene is in 1246 gelê en tydens die bouperiode al was die fondamente nie sterk genoeg om die gebou te ondersteun nie, en het die kerk begin leun. Soos wat hulle voortgegaan het met die bouery, het hulle probeer om op elke vlak van die toring te vergoed vir die skeuwe helling, maar tot vandag toe is slegs die 4 torings aan die bokant werklik vertikaal.

Die Oude Kerk het 3 orrels en 'n reuse klok van amper 9 ton wat slegs gelui word wanneer lede van die Nederlandse Koninklike Familie in die Nieuwe Kerk begrawe word, of tydens rampe.  400 Mense is in die Oude Kerk begrawe, onder andere Johannes Vermeer.
Oude Kerk, Delft

Daar is in 1396 aan die Nieuwe Kerk begin bou en die kertoring is die tweede hoogste in Nederland (hoogste is die Domtoren in Utrecht).   Die Nederlandse Koninklike Familie word almal in die Nieuwe Kerk begrawe en daar is orals grafte wat "Prins van Oranje" lees.  Die kerktoring is oop vir besoekers en ek en Tiaan het die 376 styl trappies na bo geklim - en hy't gelag toe ek vooraf vra of hy fiks is!  Die uitsig van bo het die klim die moeite werd gemaak!
Nieuwe Kerk en uitsig oor Delft vanuit die kerktoring

Terug by ons woonstel het ons vinnig op die dakterras gaan kyk hoe die dag in nag verander en het toegelaat dat Rotterdam se liggies ons bekoor...
Sjoe, ons gaan hierdie prentjie mis...

Met ons batterye herlaai was dit tyd om die winkels in te vaar want Vrydagaand is "koopavond" in Rotterdam so die winkels bly tot 21h00 oop en vir hierdie 3 wat aan Zurich se pryse gewoond geraak het, is als in Holland spotgoedkoop.  Dit was vir my so lekker om maats te hê wat ook aan als wil vat en die mooi in die winkels kan waardeer... Herrie sê altyd hy kan nie verstaan hoekom die voorste item van elke ry in die vroue afdelings nie 'n bruinstreep op die mou af het nie, want ek voel aan als!  Ek't sommer weer besef hoe gelukkig ons is met al die opsies wat Rotterdam in terme van inkopies bied... reg op ons voorstoep.  Na ete het ons ietsie gaan drink op die besige Binnenrotte en Elouna sê die stemming herinner haar aan Menlyn Square: Baie mense buite en 'n gedruis in "Afrikaans" :-)
Suksesvolle uitstappie!

Saterdagoggend het Hertzog ons gaste aan een van my gunsteling kafees in Rotterdam gaan voorstel, Picknick, terwyl ek vir Madel by die stasie gaan haal het.  Sy was in Holland vir 'n werksding en het Saterdag en Sondag saam met ons gekuier, wat beteken ons woonstel het sy volle kapasiteit bereik - ek is MAL oor 'n vol huis!
Handdoek admin :-)

Saterdag = Markdag en ons het gou paar goedjies vir aandete gaan oppik en was verstom oor die grootte van vrugte hierdie tyd van die jaar!  Die voordeel van 'n hawestad is dat alles wat ingevoer word eers deur Rotterdam na die res van Europa versprei word.  Ons het kaas en stroopwafels en vars gestoomde mossels geëet (interessante kombinasie ja maar nee ons het nie naar geraak nie)!  Ons het ook tussen die antieke goed gesnuffel en die "find" van die dag - en waarskynlik die jaar - was Madel se reuse leer koffer (met wieletjies) vir die ongelooflike prys van 55 euro!  Dankie aan Elouna vir jou onderhandeling van die prys :-)
Mark by Binnenrotte

Herrie het vir ons 'n kar gehuur en ons is laatmiddag Kinderdijk toe, julle weet mos nog, daai UNESCO site met die windmeule waarvan ek al so baie op die blog vertel het.  Hierdie was wat ek gedink het ons laaste besoek gaan wees, maar ek was so bly toe ons nog 'n besoeker later in die maand kry wat dit ook wou sien want dis elke keer so spesiaal... die atmosfeer daar is wonderlik!  Toe ons hierdie keer daar was saam met Madel, Elouna, Vic en Tiaan, was dit reeds skemer en ons het die vreemdste ding gesien: honderde, nee moontlik duisende voëltjies het in swerms oor ons koppe gevlieg en op die horison verdwyn.  Daar was so baie, dat dit klink soos reën soos hulle hier om jou blêrts as hulle oor jou kop vlieg en natuurlik het een my voorkop getref :-)

Die swart strepe op die foto's hieronder wat lyk soos klomp muggies, is voëls!
Voëltjies by Kinderdijk
En dit het aand geword en dit was die einde van hul 3de dag...

Saterdagaand het ons lekker vars salm van die mark gaar gemaak en tot laat om die tafel gesit met 'n bottel KWV 10 jaar wat my Pa nog in Mei vir ons saamgebring het, en heelwat later het ons begin melktertjies drink... "old habits die hard" :-)

Sondag was nog 'n Rotterdam-dag en nadat ons vir Madel by die stasie afgesien het is ons na Hotel New York, toe terug met 'n watertaxi en het die middag Suid Afrika in Rotterdam ervaar met lekker boerekos soos jou Ouma dit gemaak het: skaapboud, boontjies, soetwortels, gebakte aartappels... Ons het die naweek afgesluit met 'n koffie verkeerd en 'n biertje in 'n tipiese Hollandse kroegie en is vroeg bed toe sodat die 3 kan betyds wees vir hul trein wat 04h00 Maandagoggend van Rotterdam Centraal na Schiphol vertrek het.  Ah, lekker tye julle, dankie vir die kuier!
Hotel New York

En net toe ek begin leë-nes-sindroom kry, bel Jeanne-Louise - 'n ou maatjie van die PUK wat saam met my geswot het - om te sê dat sy in Holland kuier en graag by ons wil slaap vir 'n aand.  Haar eerste oggend hier het sy net 1 plek gesien: die binnekant van Picknick!  Ons het direk van die stasie af soontoe gegaan en het vir amper 5 ure "non-stop" gesels!

Die middag het ons Rotterdam verken en was onder andere by die Cube huisies waar ons 'n toer van die "Kijk Kubus" gedoen het.  Van die Cubes in Rotterdam het ek ook al baie geskryf, dis daai geel vierkantige blokkies wat lyk of hulle op hul kante gedraai is...  Die interessantheid daarvan is dat mense daarbinne woon en dis nogals oulik om te sien hoe dit ingerig is.  Daar is 3 vloere en die woonstel bestaan uit 'n slaapkamer, studeerkamer, kombuis, leefarea, sonvertrek in die dak, badkamer en toilet heel onder.  Ek't probeer om dit met die onderstaande foto's te verduidelik:
Binne die Kijk Kubus, Rotterdam

Tydens Jeanne-Louise se vinnige besoek het ons ook by Hotel New York, Seth vir poffertjes en Kinderdijk 'n draai gaan maak.  Dit was aansienlik kouer by die windmeule as toe ons 'n week gelede saam met die ander daar was, maar weereens was dit 'n besonderse ervaring so tussen die mis deur...
Kinderdijk vir oulaas... regtig nou!

Dankie vir die inloer JL, dit is wat ek daarvan dink ---->
Anél & JL by HNY

Ek skryf na die naweek weer van hierdie ongelooflike stad wat ek en Herrie so gelukkig was om vir 'n jaar lank HUIS te noem...

x


Monday, November 21, 2011

Hup Holland Hup!

Ek probeer om by beloftes te hou en daarom vertel ek jul graag vandag meer oor Nederland!Van besoekies aan Amsterdam, Den Haag, Dordrecht en Kroller-Muller, en van 'n baie belangrike gas se verskyning in Rotterdam... Sinterklaas homself was hier!

Ek wil graag begin deur julle te vertel van die dag in Amsterdam nadat ons op die plaas in Warder oornag het, waaroor ek laas week geskryf het...

AMSTERDAM
In Amsterdam aangekom het ons deur die stad en oor die Vondelbrug gestap na Vondelpark waar ons bietjie tyd spandeer het in die pragtige tuine.
Vondelbrug, Amsterdam.  Tsk, tsk, tsk...
Herfs in Vondelpark...

Ons het verder gestap na Museumplein (nee, nie om ons foto by die I AMSTERDAM te neem nie) waar ons besoek afgelê het aan die Rijksmuseum want geen mens kan 'n jaar lank in Nederland woon en nie na die meesters se werke gaan kyk nie! Hulle is tans besig met groot restourasiewerk by die Rijksmuseum wat eers in 2013 voltooi gaan wees en daarom is slegs "Rijksmuseum, The Masterpieces" toeganklik wat perfek was vir ons twee wat nie baie tyd gehad het nie, want dit bied die unieke geleentheid om al die hoogtepunte van die Goue Era op een plek te sien.  Werke van Jan Steen, Rembrandt van Rijn, Frans Hals en Johannes Vermeer was alles deel van die tentoonstelling en die bekendste hiervan was Rembrandt se "De Nachtwacht" en Vermeer se "Het Melkmeisje".
Het Melkmeisje & De Nachtwacht

Die eintlike rede vir ons besoek aan Amsterdam was 'n afspraak by die konsulaat vir visums vir ons UK vakansie, so na afsonderlike onderhoude (wat op film vasgelê is) waartydens 60 vrae beantwoord moes word en foto's en baie ander dokumente ingehandig is, kon ons die res van die dag ontspan en het die middag saam met 'n vriend van my deurgebring wat ek in 2006 in Amsterdam ontmoet het.

Jaco is 'n Suid Afrikaner wat al 30 jaar in Amsterdam woon en die laaste 3 jaar spandeer hy slegs die somers hier en die res van die jaar in SA.  Hy het ons by die World Trade Centre ontmoet - waar ons onderhoude was - in sy beste safari pakkie en elke moontlike skakering van khaki in sy kas!  Ons het lekker middagete geniet by een van sy gunsteling plekkies in Amsterdam, Puccini, waarna hy ons klomp interessante hoekies van A'dam gaan wys het wat die toeriste nie sonder 'n bekwame gids sal uitsnuffel nie.

Ons het onder andere na die Theater Tuschinski, 'n oulike ontwerpers winkel (met fantastiese idees soos banke wat sakkies bevat vir kinders se speelgoed), die Magere Brug, Die Blauwbrug, die Stopera en paar interessante kunswerke op ons pad gaan kyk!
Amsterdam saam met Jaco!

Die Magere Brug (op die foto hier bo is hy onder regs) is blykbaar vir 2 susters gebou wat weerskante van die rivier gewoon het en elke dag by mekaar wou kuier.  Omdat dit net smal genoeg was vir 'n mens om die rivier te kruis, het die Hollanders dit die Magere Brug begin noem.  Interessant was die foto bo die brug waar julle kan sien dat hulle tydens restourasiewerk deesdae nie net meer stellasies het wat soos 'n seer oog orals in Europa uitstaan nie, maar hulle span nou 'n doek waarop die gebou gedruk is sodat dit die restourasiewerk wat agter die doek plaasvind wegsteek... oulik!  

Die Stopera is 'n samevoeging van Stadhuis en Opera en is in die hartjie van die voormalige Joodse buurt in Amsterdam geleë.   Die violis hier bo wat deur die marmer breek is in die Stopera geleë en is een van die anonieme kunstenaars van A'dam se werke - ek't julle mos al vantevore van hierdie kunswerke vertel wat net so oornag verskyn!  'n Ander interessante ding in die Stopera is 'n uitbeelding van 'n oos-wes deursnit van Nederland wat die geboue, kanale, strata en see aandui (hier bo is ook 2 foto's daarvan), asook kolomme wat die watervlakke in 'n verskeie stede in Nederland aandui.  Dis nogals angswekkend om so langs hierdie afbeeldings te staan en te sien hoeveel hoër seevlak as jou kop is!
Openbare Bibliotheek Amsterdam

Jaco se "toer" het by die biblioteek langs die stasie geëindig en was dit nou 'n hoogtepunt so aan die einde van ons besoek aan Amsterdam!  Hierdie gebou is 28 000 vierkante meter en lok jaarliks 4,2 miljoen besoekers en/of lesers!  Daar is duisende rakke en afdelings met o.a bladmusiek, naaldwerkpatrone, cd's en dvd's te huur, tydskrifte, 600 rekenaars, 'n restaurant ens.  Groot. Baie. Kennis. Ongelooflik!

Dankie Jaco!

DEN HAAG
Ons het wyn geproe, Indonesiese kos geëet en laat aand van een museum na die ander gehop in 26°C, ons een dag van die somer - al was dit eintlik reeds herfs!

Ek. Herrie, Meredith & Elliot het die "Intercity" trein van Rotterdam Centraal na Den Haag Hollandspoor geneem. [Terloops: die "Intercity" is die vinnigste trein tussen stede, dan kom die "sneltrein" en uiteindelik die stadigste is die "sprinter" - die "stoptrein" is dieselfde as die "sprinter", maar die NS (Nederlandse Spoorweë) het gedink dit sou beter wees (en vinniger klink?) as hulle dit 'n Engelse naam gee?!  Dis als net 'n manier om ons uitlanders te verwar as jy my vra!]   

In Emmy en Daniel se omgewing aangekom het ons dadelik na 'n wynproe geleentheid in die buurt by Cave du Vin gestap, waar hulle Italiaanse wyne te proe aangebied het.  
 Wynproe in Den Haag

Nadat ons 'n paar bottels gekoop en die wyn winkel toegemaak het, het ons terug na Emmy en Daniel se pragtige woonstel gestap vir Indonesiese "take aways".  Ons het heerlik op hul terras gesit en die warm son op ons kaal arms waardeer...  
Indonesies by Emmy & Daniel

Met ons mage tevrede het ons gereed gemaak vir "Museum Nacht" in Den Haag: 'n briljante konsep, waar 'n kaartjie ter waarde van 13 € vooraf gekoop word wat jou toegang bied tot meeste gallerye en museums wat almal spesiaal laat oop bly.  3 van die bekende museums wat ons gesien het sluit die Gemeentemuseum, die Mesdag Panorama en die Mauritshuis in.    Ek't al vantevore vir julle van die Mesdag Panorama vertel - dis mos die 360 º uitsig van die strande van Scheviningen wat in die laat 1800's geverf is.  By die Mauritshuis het ons 'n blitsige toer met 'n gids gedoen waartydens jy in 30 minute deur die twee-verdieping herehuis beweeg met die klem op die beste werke van klassieke Nederlandse kunstenaars soos Vermeer en Rembrandt.  
Museum Nacht, Den Haag

Ons treinrit huistoe is onnodig lank uitgerek toe ons in die vroeë oggendure van verskeie treine, busse en taxi's gebruik moes maak as gevolg van iemand wat voor 'n trein ingespring het op een van die spore tussen Den Haag en Rotterdam.  Toe ek aan een van die NS manne by die stasie vra of alles OK is, toe antwoord hy my heel kalm: "yes, the train is fine"!  Sy kollega moes die geskokte uitdrukking en afguns op my gesig sien en verduidelik toe dat hulle al gewoond is aan die gedagte want dit gebeur baie gereeld in Holland dat mense so selfmoord pleeg... gemiddeld 16 keer per maand om presies te wees!  Hoe verskriklik moet dit wees as jy die bestuurder van daai trein is?!

Op 'n meer positiewe noot vertel ek julle graag van my en Herrie se uitstappie na Dordrecht want oppad hierheen het ons niks met treine te doen gehad nie... ons het Dordrecht bereik deur middel van 'n boot, De Waterbus!

DORDRECHT
Dit was 'n Maandagoggend toe ons voet aan wal in Dordrecht sit, wat beteken dat ALLES toe is tot 13h, (soos in alle Hollandse stede of dorpe) en ons was onseker waar ons 'n kaart gaan kry om die plek te verken.  Maar die kaaskoppe was ons een voor want 20 meter vanwaar die Waterbus ons afgelaai het was 'n groot "informatie balie" en as jy sy lang arm trek, spoeg hy kaarte uit!
Waterbus en Informatie Balie in Dordrecht

Met ons kaart in die hand het ons 'n draai deur Dordrecht gestap en die mooi kanale, goedversorgde ou huisies en luukse seiljagte waardeer.  Daar was ook nou stegies en valbrûe wat my terug gevoer het na 'n tyd lank, lank gelede...  Asook paar raar maar ware dinge soos bankies in die dorp met een wiel onderaan wat lyk of dit 'n dubbele doel dien en ook gebruik kan word as nood draagbare?!, vreemde boeke vir kinders wat nooit in my huis toegelaat sal word nie en 'n mooi ou kerk wat vandag gebruik word as 'n winkel (Aktie Sport) waaruit sportskoene verkoop word?! 
Dordrecht
Let op die voetpad, fietspad en motorpad...
aan weerskante!

Ons het 'n lekker Turkse middagete geniet wat ons laat terug verlang het na Istanbul, en stadig begin aanstap stasie toe vanwaar ons die trein terug na Rotterdam geneem het.  Tevrede omdat ons nog 'n dorpie van Holland verken het, het ons toegelaat dat die trein ons aan die slaap sus...  My Ouma praat altyd van iets wat "amper so lekker soos treinry" is en as 'n klein dogtertjie het dit vir my glad nie sin gemaak nie, maar ek besef nou waar sy vandaan kom daarmee!

KRÖLLER-MÜLLER
'n Dag in De Hoge Veluwe National Park... iets wat elke besoeker aan Holland by hulle program moet insluit! Die park beslaan 5400 hektaar van bosveld, heide, grasvelde en veenmoerasse en saam met die Kröller-Müller Museum en die beeldtuin vorm die park 'n unieke en (inter)nasionaal bekende kombinasie van die natuur, kuns en argitektuur.
De Hoge Veluwe National Park, Otterlo

Dit was 'n vriesende dag waarop ek en Herrie besluit het om besoek hier af te lê en skielik het die 40km se fietspaaie minder aanloklik geklink!  Die park het 1700 wit fietse wat tot die beskikking van besoekers is en buiten perdekarre is fietse jou enigste manier van rondbeweeg want karre is verbode.  Dit was wonderlik om weer vir 'n hele dag lank uit die stad en in die natuur te kom en my kamera het nóg harder as gewoonlik gewerk!
Fietsen in De Hoge Veluwe!

In die park is die wêreldbekende Kröller-Müller Museum en beeldetuin wat sy bestaan te danke het aan 'n besonderse vrou, Helene Kröller-Müller (1869-1939). Helene het byna 11 500 kunswerke gedurende haar leeftyd versamel met die hulp van haar raadgewer, HP Bremmer en kapitaal van haar man, Anton Kröller. Sy het gedroom van 'n "museum-huis", 'n droom wat waar geword het in 1938 toe die Rijksmuseum Kröller-Müller sy deure oopgemaak het, 1 jaar voordat sy oorlede is.

Die permanente versameling sluit werke van bekende kunstenaars soos Vincent van Gogh, Pablo Picasso, Auguste Renoir, Claude Monet en Piet Mondriaan in en buiten die versameling werke wat aan die Van Gogh familie self behoort, spog die Kröller-Müller Museum met die grootste privaat versameling van Van Gogh werke in die wêreld.   Die huidige tentoonstelling: "Windflower. Perceptions of Nature" het ons in verwondering gehad...
8 van Kröller-Müller se bekendste skilderye

Die beeldetuin is 25 hektaar groot en huisves meer as 150 beeldhouwerke.  Ons was baie geinteresseerd in van hierdie werke en het lekker idees vir ons tuin eendag gekry!  Sommige beelde lyk na eenvoudige ontwerpe (en Herrie kon nie verstaan waaroor die bohaai gaan nie) en ander het weer baie noukeurige ingenieurswerk geverg!  Ons het ons vergaap aan die kreatiwiteit...
Beeldetuin by Kröller-Müller...  wow!

Gaan spandeer 'n dag by hierdie plek as jy ooit Holland toe kom, jy sal nie spyt wees nie!
Die Vanderbijler in Herrie kom alweer uit...

SINTERKLAAS
Die Nederlanders het hul eie tradisie in Desember: Sinterklaas. Hierdie man moet nie met Kersvader verwar word nie (selfs al doen hulle soort van dieselfde werk) want Sinterklaas kom nie van die Noordpool nie en hy het nie rendiere of 'n slee nie.  Sinterklaas woon in Spanje - maar hy kom oorspronklik uit Turkye - en hy het 'n wit perd.   In plaas van die elfies het hy Zwarte Pieten wat hom help op sy reise (hulle is so swart van die roet in skoorstene) en hulle kom nie 24 of 25 Desember met geskenke nie, maar kan enige tyd van middel November af hul verskyning maak en 05 Desember bring hulle sakke vol geskenkies vir elke huis!

Jip, bogenoemde is hoe my Hollandse vriendinne doodernstig die tradisie van Sinterklaas aan my verduidelik het! Halfpad deur November, is daar is 'n groot skouspel wanneer die man in Nederland aankom... 'n Televisiespan wag vir sy aankoms by een van die meer fotogeniese hawens waar hy met sy stoomboot (uit Spanje) vol geskenke, Zwarte Pieten, en soms selfs sy perd deur 'n groot skare van ouers en kinders (wat soos Zwarte Pieten aangetrek is) verwelkom word.  Selfs die Burgermeester van Rotterdam ontvang Sinterklaas persoonlik by die hawe!  Alle skole in Rotterdam het vooraf 'n CD en "lespaket" ontvang sodat die kinders die lied "Welkom Sinterklaas hier in Rotterdam" kon leer! Dis nogals snaaks om al die "swart" kindertjies te sien in hulle Zwarte Pieten pakkies maar snaakser was toe ons 'n regte swart seuntjie in die pakkie sien die naweek, sy ma hoef nie moeite te gedoen het met grimering nie :-)

Hierdie groot gebeurtenis was Saterdag in Rotterdam en ek, Herrie & Meredith het van die Erasmusbrug af gaan kyk:
Groot opwinding heers op die Erasmusbrug in Rotterdam...
Almal wag in spanning... en daar arriveer hy en die Zwarte Pieten toe met sy boot uit Spanje!

Sodra Sinterklaas in jou stad arriveer het, moet jy vir 2 weke lank jou skoen voor die kaggel los - met 'n wortel vir die perd - en vir hom 'n liedjie sing en as jy soet was gedurende die jaar (en jou ouers onthou), sal daar môre oggend ietsie kleins in jou skoen wees!  My vriendin Emmy vertel dat hulle as kinders altyd vir Sinterklaas prentjies geteken het of briefies geskryf het waarin hulle vra of hy hulle asseblief in aanmerking sal neem vir "Pietenschool" sodat hulle sy helpers kan word :-)

05 Desember word 'n mandjie vol geskenke dan deur 'n buurman met 'n harde geklop voor jou huisdeur gelos en die kinders hardloop opgewonde in die straat op en af om te kyk of hulle nie dalk vir Sinterklaas gewaar of 'n Zwarte Piet se hoedjie êrens sien lê nie...  Ander tradisies sluit die skryf van sarkastiese briefies in waar jy 'n familielid spottenderwys herinner aan iets wat gedurende die jaar gebeur het wat hulle liewer wou vergeet en hierdie briefie vergesel dan jou geskenk aan daardie persoon.  Ook kry elke lid van die familie 'n sjokolade letter waarmee jou naam begin van Sinterklaas in jou kous!  Wonderlike tradisies, mag dit nog jare lank voortleef...

"Sinterklaas in Rotterdam" was in die pers hierdie week!  Kyk gerus na hierdie website wat alle gebeure van die dag verduidelik asook die persberigte insluit.  As jy so 3 minute op die "website" rondspeel sal jy 'n opname van die liedjie wat die kinders moes leer ook hoor (baie oulik en vertel Sinterklaas se hele storie) - sit die klank aan en luister na die Hoof Piet se geselsies!
http://www.sinterklaasintocht.nl/

Omdat Sinterklaas se intocht in Rotterdam eers die afgelope naweek was, is daar nog nie veel op Youtube daaroor nie, maar ek't wel video materiaal van sy aankoms in Dordrecht en Nijmegen ontdek... dit gee mens nogals 'n idee van presies hoe groot hierdie tradisie in Nederland is!
Sint in Dordrecht: http://www.youtube.com/watch?v=gRUDf4TNb1A
Sint in Nijmegen: http://www.youtube.com/watch?v=X1RptGzWdLI

Ek moet gaan, wil gou 'n wortel vir my skoen gaan koop en die liedjie leer!

Sinterklaas kapoentje
gooi wat in mijn schoentje
gooi wat in mijn laarsje
dank u Sinterklaasje!