Monday, November 21, 2011

Hup Holland Hup!

Ek probeer om by beloftes te hou en daarom vertel ek jul graag vandag meer oor Nederland!Van besoekies aan Amsterdam, Den Haag, Dordrecht en Kroller-Muller, en van 'n baie belangrike gas se verskyning in Rotterdam... Sinterklaas homself was hier!

Ek wil graag begin deur julle te vertel van die dag in Amsterdam nadat ons op die plaas in Warder oornag het, waaroor ek laas week geskryf het...

AMSTERDAM
In Amsterdam aangekom het ons deur die stad en oor die Vondelbrug gestap na Vondelpark waar ons bietjie tyd spandeer het in die pragtige tuine.
Vondelbrug, Amsterdam.  Tsk, tsk, tsk...
Herfs in Vondelpark...

Ons het verder gestap na Museumplein (nee, nie om ons foto by die I AMSTERDAM te neem nie) waar ons besoek afgelê het aan die Rijksmuseum want geen mens kan 'n jaar lank in Nederland woon en nie na die meesters se werke gaan kyk nie! Hulle is tans besig met groot restourasiewerk by die Rijksmuseum wat eers in 2013 voltooi gaan wees en daarom is slegs "Rijksmuseum, The Masterpieces" toeganklik wat perfek was vir ons twee wat nie baie tyd gehad het nie, want dit bied die unieke geleentheid om al die hoogtepunte van die Goue Era op een plek te sien.  Werke van Jan Steen, Rembrandt van Rijn, Frans Hals en Johannes Vermeer was alles deel van die tentoonstelling en die bekendste hiervan was Rembrandt se "De Nachtwacht" en Vermeer se "Het Melkmeisje".
Het Melkmeisje & De Nachtwacht

Die eintlike rede vir ons besoek aan Amsterdam was 'n afspraak by die konsulaat vir visums vir ons UK vakansie, so na afsonderlike onderhoude (wat op film vasgelê is) waartydens 60 vrae beantwoord moes word en foto's en baie ander dokumente ingehandig is, kon ons die res van die dag ontspan en het die middag saam met 'n vriend van my deurgebring wat ek in 2006 in Amsterdam ontmoet het.

Jaco is 'n Suid Afrikaner wat al 30 jaar in Amsterdam woon en die laaste 3 jaar spandeer hy slegs die somers hier en die res van die jaar in SA.  Hy het ons by die World Trade Centre ontmoet - waar ons onderhoude was - in sy beste safari pakkie en elke moontlike skakering van khaki in sy kas!  Ons het lekker middagete geniet by een van sy gunsteling plekkies in Amsterdam, Puccini, waarna hy ons klomp interessante hoekies van A'dam gaan wys het wat die toeriste nie sonder 'n bekwame gids sal uitsnuffel nie.

Ons het onder andere na die Theater Tuschinski, 'n oulike ontwerpers winkel (met fantastiese idees soos banke wat sakkies bevat vir kinders se speelgoed), die Magere Brug, Die Blauwbrug, die Stopera en paar interessante kunswerke op ons pad gaan kyk!
Amsterdam saam met Jaco!

Die Magere Brug (op die foto hier bo is hy onder regs) is blykbaar vir 2 susters gebou wat weerskante van die rivier gewoon het en elke dag by mekaar wou kuier.  Omdat dit net smal genoeg was vir 'n mens om die rivier te kruis, het die Hollanders dit die Magere Brug begin noem.  Interessant was die foto bo die brug waar julle kan sien dat hulle tydens restourasiewerk deesdae nie net meer stellasies het wat soos 'n seer oog orals in Europa uitstaan nie, maar hulle span nou 'n doek waarop die gebou gedruk is sodat dit die restourasiewerk wat agter die doek plaasvind wegsteek... oulik!  

Die Stopera is 'n samevoeging van Stadhuis en Opera en is in die hartjie van die voormalige Joodse buurt in Amsterdam geleë.   Die violis hier bo wat deur die marmer breek is in die Stopera geleë en is een van die anonieme kunstenaars van A'dam se werke - ek't julle mos al vantevore van hierdie kunswerke vertel wat net so oornag verskyn!  'n Ander interessante ding in die Stopera is 'n uitbeelding van 'n oos-wes deursnit van Nederland wat die geboue, kanale, strata en see aandui (hier bo is ook 2 foto's daarvan), asook kolomme wat die watervlakke in 'n verskeie stede in Nederland aandui.  Dis nogals angswekkend om so langs hierdie afbeeldings te staan en te sien hoeveel hoër seevlak as jou kop is!
Openbare Bibliotheek Amsterdam

Jaco se "toer" het by die biblioteek langs die stasie geëindig en was dit nou 'n hoogtepunt so aan die einde van ons besoek aan Amsterdam!  Hierdie gebou is 28 000 vierkante meter en lok jaarliks 4,2 miljoen besoekers en/of lesers!  Daar is duisende rakke en afdelings met o.a bladmusiek, naaldwerkpatrone, cd's en dvd's te huur, tydskrifte, 600 rekenaars, 'n restaurant ens.  Groot. Baie. Kennis. Ongelooflik!

Dankie Jaco!

DEN HAAG
Ons het wyn geproe, Indonesiese kos geëet en laat aand van een museum na die ander gehop in 26°C, ons een dag van die somer - al was dit eintlik reeds herfs!

Ek. Herrie, Meredith & Elliot het die "Intercity" trein van Rotterdam Centraal na Den Haag Hollandspoor geneem. [Terloops: die "Intercity" is die vinnigste trein tussen stede, dan kom die "sneltrein" en uiteindelik die stadigste is die "sprinter" - die "stoptrein" is dieselfde as die "sprinter", maar die NS (Nederlandse Spoorweë) het gedink dit sou beter wees (en vinniger klink?) as hulle dit 'n Engelse naam gee?!  Dis als net 'n manier om ons uitlanders te verwar as jy my vra!]   

In Emmy en Daniel se omgewing aangekom het ons dadelik na 'n wynproe geleentheid in die buurt by Cave du Vin gestap, waar hulle Italiaanse wyne te proe aangebied het.  
 Wynproe in Den Haag

Nadat ons 'n paar bottels gekoop en die wyn winkel toegemaak het, het ons terug na Emmy en Daniel se pragtige woonstel gestap vir Indonesiese "take aways".  Ons het heerlik op hul terras gesit en die warm son op ons kaal arms waardeer...  
Indonesies by Emmy & Daniel

Met ons mage tevrede het ons gereed gemaak vir "Museum Nacht" in Den Haag: 'n briljante konsep, waar 'n kaartjie ter waarde van 13 € vooraf gekoop word wat jou toegang bied tot meeste gallerye en museums wat almal spesiaal laat oop bly.  3 van die bekende museums wat ons gesien het sluit die Gemeentemuseum, die Mesdag Panorama en die Mauritshuis in.    Ek't al vantevore vir julle van die Mesdag Panorama vertel - dis mos die 360 º uitsig van die strande van Scheviningen wat in die laat 1800's geverf is.  By die Mauritshuis het ons 'n blitsige toer met 'n gids gedoen waartydens jy in 30 minute deur die twee-verdieping herehuis beweeg met die klem op die beste werke van klassieke Nederlandse kunstenaars soos Vermeer en Rembrandt.  
Museum Nacht, Den Haag

Ons treinrit huistoe is onnodig lank uitgerek toe ons in die vroeë oggendure van verskeie treine, busse en taxi's gebruik moes maak as gevolg van iemand wat voor 'n trein ingespring het op een van die spore tussen Den Haag en Rotterdam.  Toe ek aan een van die NS manne by die stasie vra of alles OK is, toe antwoord hy my heel kalm: "yes, the train is fine"!  Sy kollega moes die geskokte uitdrukking en afguns op my gesig sien en verduidelik toe dat hulle al gewoond is aan die gedagte want dit gebeur baie gereeld in Holland dat mense so selfmoord pleeg... gemiddeld 16 keer per maand om presies te wees!  Hoe verskriklik moet dit wees as jy die bestuurder van daai trein is?!

Op 'n meer positiewe noot vertel ek julle graag van my en Herrie se uitstappie na Dordrecht want oppad hierheen het ons niks met treine te doen gehad nie... ons het Dordrecht bereik deur middel van 'n boot, De Waterbus!

DORDRECHT
Dit was 'n Maandagoggend toe ons voet aan wal in Dordrecht sit, wat beteken dat ALLES toe is tot 13h, (soos in alle Hollandse stede of dorpe) en ons was onseker waar ons 'n kaart gaan kry om die plek te verken.  Maar die kaaskoppe was ons een voor want 20 meter vanwaar die Waterbus ons afgelaai het was 'n groot "informatie balie" en as jy sy lang arm trek, spoeg hy kaarte uit!
Waterbus en Informatie Balie in Dordrecht

Met ons kaart in die hand het ons 'n draai deur Dordrecht gestap en die mooi kanale, goedversorgde ou huisies en luukse seiljagte waardeer.  Daar was ook nou stegies en valbrûe wat my terug gevoer het na 'n tyd lank, lank gelede...  Asook paar raar maar ware dinge soos bankies in die dorp met een wiel onderaan wat lyk of dit 'n dubbele doel dien en ook gebruik kan word as nood draagbare?!, vreemde boeke vir kinders wat nooit in my huis toegelaat sal word nie en 'n mooi ou kerk wat vandag gebruik word as 'n winkel (Aktie Sport) waaruit sportskoene verkoop word?! 
Dordrecht
Let op die voetpad, fietspad en motorpad...
aan weerskante!

Ons het 'n lekker Turkse middagete geniet wat ons laat terug verlang het na Istanbul, en stadig begin aanstap stasie toe vanwaar ons die trein terug na Rotterdam geneem het.  Tevrede omdat ons nog 'n dorpie van Holland verken het, het ons toegelaat dat die trein ons aan die slaap sus...  My Ouma praat altyd van iets wat "amper so lekker soos treinry" is en as 'n klein dogtertjie het dit vir my glad nie sin gemaak nie, maar ek besef nou waar sy vandaan kom daarmee!

KRÖLLER-MÜLLER
'n Dag in De Hoge Veluwe National Park... iets wat elke besoeker aan Holland by hulle program moet insluit! Die park beslaan 5400 hektaar van bosveld, heide, grasvelde en veenmoerasse en saam met die Kröller-Müller Museum en die beeldtuin vorm die park 'n unieke en (inter)nasionaal bekende kombinasie van die natuur, kuns en argitektuur.
De Hoge Veluwe National Park, Otterlo

Dit was 'n vriesende dag waarop ek en Herrie besluit het om besoek hier af te lê en skielik het die 40km se fietspaaie minder aanloklik geklink!  Die park het 1700 wit fietse wat tot die beskikking van besoekers is en buiten perdekarre is fietse jou enigste manier van rondbeweeg want karre is verbode.  Dit was wonderlik om weer vir 'n hele dag lank uit die stad en in die natuur te kom en my kamera het nóg harder as gewoonlik gewerk!
Fietsen in De Hoge Veluwe!

In die park is die wêreldbekende Kröller-Müller Museum en beeldetuin wat sy bestaan te danke het aan 'n besonderse vrou, Helene Kröller-Müller (1869-1939). Helene het byna 11 500 kunswerke gedurende haar leeftyd versamel met die hulp van haar raadgewer, HP Bremmer en kapitaal van haar man, Anton Kröller. Sy het gedroom van 'n "museum-huis", 'n droom wat waar geword het in 1938 toe die Rijksmuseum Kröller-Müller sy deure oopgemaak het, 1 jaar voordat sy oorlede is.

Die permanente versameling sluit werke van bekende kunstenaars soos Vincent van Gogh, Pablo Picasso, Auguste Renoir, Claude Monet en Piet Mondriaan in en buiten die versameling werke wat aan die Van Gogh familie self behoort, spog die Kröller-Müller Museum met die grootste privaat versameling van Van Gogh werke in die wêreld.   Die huidige tentoonstelling: "Windflower. Perceptions of Nature" het ons in verwondering gehad...
8 van Kröller-Müller se bekendste skilderye

Die beeldetuin is 25 hektaar groot en huisves meer as 150 beeldhouwerke.  Ons was baie geinteresseerd in van hierdie werke en het lekker idees vir ons tuin eendag gekry!  Sommige beelde lyk na eenvoudige ontwerpe (en Herrie kon nie verstaan waaroor die bohaai gaan nie) en ander het weer baie noukeurige ingenieurswerk geverg!  Ons het ons vergaap aan die kreatiwiteit...
Beeldetuin by Kröller-Müller...  wow!

Gaan spandeer 'n dag by hierdie plek as jy ooit Holland toe kom, jy sal nie spyt wees nie!
Die Vanderbijler in Herrie kom alweer uit...

SINTERKLAAS
Die Nederlanders het hul eie tradisie in Desember: Sinterklaas. Hierdie man moet nie met Kersvader verwar word nie (selfs al doen hulle soort van dieselfde werk) want Sinterklaas kom nie van die Noordpool nie en hy het nie rendiere of 'n slee nie.  Sinterklaas woon in Spanje - maar hy kom oorspronklik uit Turkye - en hy het 'n wit perd.   In plaas van die elfies het hy Zwarte Pieten wat hom help op sy reise (hulle is so swart van die roet in skoorstene) en hulle kom nie 24 of 25 Desember met geskenke nie, maar kan enige tyd van middel November af hul verskyning maak en 05 Desember bring hulle sakke vol geskenkies vir elke huis!

Jip, bogenoemde is hoe my Hollandse vriendinne doodernstig die tradisie van Sinterklaas aan my verduidelik het! Halfpad deur November, is daar is 'n groot skouspel wanneer die man in Nederland aankom... 'n Televisiespan wag vir sy aankoms by een van die meer fotogeniese hawens waar hy met sy stoomboot (uit Spanje) vol geskenke, Zwarte Pieten, en soms selfs sy perd deur 'n groot skare van ouers en kinders (wat soos Zwarte Pieten aangetrek is) verwelkom word.  Selfs die Burgermeester van Rotterdam ontvang Sinterklaas persoonlik by die hawe!  Alle skole in Rotterdam het vooraf 'n CD en "lespaket" ontvang sodat die kinders die lied "Welkom Sinterklaas hier in Rotterdam" kon leer! Dis nogals snaaks om al die "swart" kindertjies te sien in hulle Zwarte Pieten pakkies maar snaakser was toe ons 'n regte swart seuntjie in die pakkie sien die naweek, sy ma hoef nie moeite te gedoen het met grimering nie :-)

Hierdie groot gebeurtenis was Saterdag in Rotterdam en ek, Herrie & Meredith het van die Erasmusbrug af gaan kyk:
Groot opwinding heers op die Erasmusbrug in Rotterdam...
Almal wag in spanning... en daar arriveer hy en die Zwarte Pieten toe met sy boot uit Spanje!

Sodra Sinterklaas in jou stad arriveer het, moet jy vir 2 weke lank jou skoen voor die kaggel los - met 'n wortel vir die perd - en vir hom 'n liedjie sing en as jy soet was gedurende die jaar (en jou ouers onthou), sal daar môre oggend ietsie kleins in jou skoen wees!  My vriendin Emmy vertel dat hulle as kinders altyd vir Sinterklaas prentjies geteken het of briefies geskryf het waarin hulle vra of hy hulle asseblief in aanmerking sal neem vir "Pietenschool" sodat hulle sy helpers kan word :-)

05 Desember word 'n mandjie vol geskenke dan deur 'n buurman met 'n harde geklop voor jou huisdeur gelos en die kinders hardloop opgewonde in die straat op en af om te kyk of hulle nie dalk vir Sinterklaas gewaar of 'n Zwarte Piet se hoedjie êrens sien lê nie...  Ander tradisies sluit die skryf van sarkastiese briefies in waar jy 'n familielid spottenderwys herinner aan iets wat gedurende die jaar gebeur het wat hulle liewer wou vergeet en hierdie briefie vergesel dan jou geskenk aan daardie persoon.  Ook kry elke lid van die familie 'n sjokolade letter waarmee jou naam begin van Sinterklaas in jou kous!  Wonderlike tradisies, mag dit nog jare lank voortleef...

"Sinterklaas in Rotterdam" was in die pers hierdie week!  Kyk gerus na hierdie website wat alle gebeure van die dag verduidelik asook die persberigte insluit.  As jy so 3 minute op die "website" rondspeel sal jy 'n opname van die liedjie wat die kinders moes leer ook hoor (baie oulik en vertel Sinterklaas se hele storie) - sit die klank aan en luister na die Hoof Piet se geselsies!
http://www.sinterklaasintocht.nl/

Omdat Sinterklaas se intocht in Rotterdam eers die afgelope naweek was, is daar nog nie veel op Youtube daaroor nie, maar ek't wel video materiaal van sy aankoms in Dordrecht en Nijmegen ontdek... dit gee mens nogals 'n idee van presies hoe groot hierdie tradisie in Nederland is!
Sint in Dordrecht: http://www.youtube.com/watch?v=gRUDf4TNb1A
Sint in Nijmegen: http://www.youtube.com/watch?v=X1RptGzWdLI

Ek moet gaan, wil gou 'n wortel vir my skoen gaan koop en die liedjie leer!

Sinterklaas kapoentje
gooi wat in mijn schoentje
gooi wat in mijn laarsje
dank u Sinterklaasje!

3 comments:

  1. Ek sê jou mos ek wheelie enige ding!

    Lekker herhinneringe van al ons uitstappies!

    ReplyDelete
  2. Ek't nou lekker gelag met die lees van hierdie groetjes...
    Baie "entertaining"! Sien julle amper!! Liefde Mamma X

    ReplyDelete
  3. Harry se malheid skuur af op jou Anellie... Pragtige fotos en heerlik om te weet wat in julle lewens aangaan. Dankie vir jou blogs deur die jaar. EN SIEN JULLE AMPER STAMPER!!!

    Laf joe

    ReplyDelete