Saturday, May 14, 2011

La Dolce Vita!

Buongiorno!

Soos julle weet was ek en Herrie vir 'n week in Rome...  dit was tussen sy male se eerste en tweede kuier in Holland om presies te wees, maar daar was soveel opwindende naweke tussen in dat ek nou eers tyd kry om vir julle te vertel van ons week daar.

Die eerste snaakse ding van ons trip het Maandagoggend 04h30 in Rotterdam gebeur toe ons stasie toe stap om 'n bus lughawe toe te neem.  Ons het besluit om so saam-saam aan ons sak te dra want daai wieletjies raas so vroeg in die oggend en ons sou 'n paar ongelukkige bure gehad het.  Oppad stasie toe hoor ons 'n klomp jolige ouens wat reg deur Sondagnag gekuier het al van ver af aankom en een van hulle wat op sy eie stasie was (pun intended) stop dood voor my en Herrie waar ons met die "duffel bag" tussen ons om die hoek gesukkel kom en se benoud vir sy palle: "er is zeker een lijk in"!

Nadat ons in Rome aangekom en ons "lyk" by die hotel gaan aflaai het, het ons die strate ingevaar en sommer op ons eerste dag al vinnig na die Colosseum, Pantheon, Fontana di Trevi en Spanish steps gaan kyk.
Colosseum
Pantheon
Herrie gooi 'n munt in Fontana di Trevi
Spanish steps

Net vinnig vir die maats wat nog nie in Rome was nie, die Pantheon is amper 2000 jaar gelede gebou as 'n tempel vir alle gode van Antieke Rome en is tot vandag toe die grootste "unreinforced" beton koepel in die wereld.  Bo in die middel van die koepel is 'n gat wat die enigste bron van lig was in die ou dae en op die vloer van die Pantheon is klomp klein gaatjies waardeer die reen wat deur die gat in die dak val kan dreineer.

Fontana di Trevi is 'n baie bekende fontein in Rome en die legende is dat elke besoeker wat 'n munt in die fontein gooi verseker weer na Rome sal terugkeer.  Hulle skat dat daar daagliks 3000 Euro in die fontein gegooi word en die geld word gebruik om 'n supermark vir behoefdige mense in Rome (en glo my daar is BAIE van hulle) te subsidieer!

Na 'n glasie vino en 'n lekker pizza het ons die Palatine Hill en Roman Forum verken.  Dis ongelooflik om te sien hoe daar tot vandag toe nog elke dag nuwe opgrawings in Rome gedoen word en hulle rykdom van geskiedenis en "artifacts" steeds groter word!  Dis blykbaar ook die rede waarom daar net 2 metro lyne in Rome is want elke keer wat daar gegrawe word aan 'n derde lyn ontdek hulle nog oudhede.



Palatine Hill en die Roman Forum

Oppad huistoe na 'n heerlike bord pasta is daar vinnig weer by Fontana di Trevi verby gestap om te sien hoe hy in die aand verlig is...

Hoogtepunte van die volgende dag was 'n toer van die Colosseum, die Typewriter, middagete by Piazza de Navona, die engele brug na Castello Saint Angelo en aandete saam met die Van der Merwes en die ongelooflike uitsig oor Rome van hulle hotel af.

 Colosseum
 Palatine Hill van die Colosseum af gesien

Die Colosseum is 'n besonderse voorbeeld van argitektuur en ingenieurswese van antieke Rome maar mens kan nie help om te dink aan al die wreedhede wat daar plaas gevind het om die wat dit kon bekostig te vermaak nie!  Daar word geskat dat omtrent 'n halfmiljoen mense hier wreed gesterf het tydens die historiese spele.  Ek sal eintlik graag nou weer Gladiator wil kyk... 

 Typewriter
Die "Typewriter" se amptelike naam is Monumento Nazionale a Vittorio Emanuele II en hy is opgerig ter ere van die eerste koning van 'n "verenigde Italie".  Die reuse gebou is van wit marmer met vreeslik baie trappe, fonteine en standbeelde.  Ons het lekker gelag vir die afgetrede Italiaanse omies wat verwoed op en af begin spring en op hul fluitjies begin blaas as 'n toeris op 'n trappie durf sit vir 'n foto, of hulle arms in die lug opsteek, of vinnig 'n slukkie water vat... of enige iets doen buiten afkyk en voortbeweeg!
 Piazza de Navona
 Die engele brug na Castello Saint Angelo
 Rome snags

Rome kan nogals oorweldigend wees want daar is so baie om te sien dat mens later nie meer als waardeer nie.  So ek en Herrie het op die oggend van ons derde dag bietjie gaan stilsit op die sirkel by Piazza del Repubblica en ons was oortuig daarvan dat ons 'n ongeluk sou sien gebeur indien ons 5 minute langer bly sit het want die verkeer in Rome is absolute chaos!  Daarom dat ons besluit het om 'n "breuk van ons vakansie te vat" en is na Orivieto in die platteland vir die dag :-)

Daar aangekom is ons met 'n kabelkar van die stasie af teen die berg op na die dorpie toe en welige groen weivelde het ons verwelkom...


Orvieto is: groen lande, nou straatjies, ou huise met wasgoed wat by die vensters uithang, die oulikste speelgoedwinkel met 'n eienaar wat my aan Geppetto van Pinocchio herinner en die mees indrukwekkende kerk wat ek al ooit gesien het!
 Nou straatjies van Orvieto
 Oulike deurklokkie by een van die woonstelblokke
Wasgoed buite die vensters
Die ou huisies en teeldakke lyk soos iets uit 'n storieboek

Die katedraal in Orivieto het soveel detail op die "facade" dat dit net te veel was vir my om in te neem...  Al die kleur wat julle op die foto hier onder sien is mosaiek van klein teeltjies!  Selfs die gedraaide pilare moes teeltjie vir teeltjie versier word... Is dit nie net verregaande nie?!



Ek en Herrie het so lekker in hierdie wonderbaarlike dorpie gekuier dat ons besluit het om die laaste trein terug Rome toe te vat.  Die limoncello en die vino het al hoe lekkerder geraak en hoe later hoe kwater!  Toe ek weer sien, het Hendrik Johannes Hertzog Badenhorst in Hendrico Giovanni Hertzogius Badenhorsti verander en die kelner besluit toe sommer dat hy wildevark moet eet.  Ons het juis vroeer die dag so varkie in 'n winkelvenster gesien.

Op 01 April het ek en Herrie ons eerste huweliksherdenking gevier!  Dit was wel 'n maand vroeg maar ons het geweet dat ons die eerste naweek in Mei 'n vol huis sou he.  Ons het 'n heerlike ontbyt in die son geniet by Piazza del Popolo waarna ons die tuine van Villa Borghese gaan verken het.  Ons het in die Borghese tuine verdwaal en Herrie wat soos 'n seuntjie met sy nuwe horlosie gespeel het kondig toe trots aan dat ons 220 grade moet stap om terug by die hotel te kom...  ek moes daai ding vir hom aan die begin van die week al gegee het!
 Piazza del Popolo
 Piazza Siena by Villa Borghese
 In die tuine van Villa Borghese

Na 'n kort siesta - die laatnag in Orvieto het sy tol geeis - het ons die pad gevat na 'n restaurant wat Herrie vir ons bespreek het.  Ons het al langs Via Appia Antica gestap na die restaurant want dis tot vandag toe die langste reguit pad in Europa (62km) en die eerste gedeelte van hierdie pad is in 312 vC al voltooi!  Daar word ook gese dat Jesus en Petrus mekaar op hierdie pad ontmoet het toe Petrus vervolg is.  Wat Tripadvisor nie vir ons gese het nie, is dat verkeer op Via Appia Antica 'n nagmerrie is en daar geen padjie vir voetgangers is nie.  Herrie het bloed gesweet om ons in een stuk by die restaurant te kry!

Ons het by Hostaria Antica Roma gaan eet en ek sal dit verseker aanbeveel!  Die restaurant is in 'n ou monument gelee en in die mure is daar holtes vir kruike met as so jare gelede is dit as 'n "columbary" gebruik.  Soos orals in Rome word hierdie ou geboue en ruines as staatseiendom beskou, maar hierdie monument is al in 1724 as wynkelder en in 1796 as restaurant geregistreer daarom mag hulle vandag nog 'n besigheid hier he.  Dis die ongelooflike ding van Rome... al die legkaartstukke van wie wanneer regeer het en hoe oud sekere geboue is ensovoorts kan so mooi in mekaar gepas word want ALLES is erens gedokumenteer!  Die eienaar van Hostaria Antica Roma, Paulo, kom gesels elke nou en dan by die tafel met jou en hy't 'n storie om te vertel oor meeste van die disse op die menu.

Een snaakse een wat ek wil deel gaan oor tiramisu.  Paulo het vertel van 'n ryk ou Italianer wat 'n mooi jong meisie na ete terug gevat het na sy hotelkamer.  Erens in die nag het hy na die sjef gaan soek en gese hy het dringend ietsie nodig wat hom energie kan gee en die sjef het besluit om klomp bestanddele wat baie kaloriee bevat bymekaar te gooi en het koffie, room, suiker en mascarpone kaas gemeng.  Ek weet glad nie of dit vir die ou man gehelp het nie, maar tiramisu beteken letterlik pick me up!
 
Ons het die beste vir laaste gehou en wou die Vatikaanstad op ons laaste dag in Rome doen, minwetend dat alle publieke vervoer sou staak.  Hoekom wou ons van die busbestuurders en polisie by die geslote metrohekke weet?  En hulle antwoord bloot: want dis Vrydag.  Ons het al ons opsies oorweeg en besef dat die enigste oplossing sou wees om 'n scooter te huur.  Nou 'n toeris op 'n scooter in Rome moet of:
a) baie desperaat wees om van punt A na B te kom, of
b) 'n "death wish" he!

Hier moet ek bieg dat ek saam niemand anders agter op daai fietsie sou klim as saam Hertzog wat jare se ondervinding het nie.  En om alles te kroon, moes ek navigator speel met 'n kaart wat ek teen sy rug vasgedruk het - die van julle wat my goed ken sal weet dat ek GEEN sin van rigting het nie!


By die Vatikaanstad aangekom het ons 'n toer gedoen saam met 'n Amerikaanse meisie wat kuns in Rome geswot het en sy het ons baie interessante goed vertel wat ons nie andersins sou weet nie.  Niks wat ek hier gaan tik gaan julle kan oortuig om die Vatikaanstad en die Sixtynse Kapel te besoek nie.... al wat ek kan se is dis net so ongelooflik soos wat almal se! 

Michaelangelo was 'n beeldhouer, nie 'n sklider nie.  Hy't in sy lewe nog nooit 'n "fresco" gedoen nie - dis wanneer daar met waterverf op nat pleister geverf word sodat die verf saam met die sement droog word en is dus 'n kuns op sy eie.  Tog het Pous Julius II vir Michaelangelo gevra om die plafon van die Sixtynse Kapel te beskilder en al wou hy nie die werk aanvaar nie agv sy agtergrond as beeldhouer en geskiedenis met hierdie Pous, moes hy maar instem omdat sy lewe daarvan afgehang het.  Hy't weke lank op "scaffolding" spandeer en slegs paar ure per nag geslaap en nadat die kunswerk na bietjie meer as 4 jaar voltooi is, het daar so sterk spier onder sy ken ontwikkel omdat hy vir 4 jaar moes op kyk, dat hy vir die res van sy lewe nie weer sy kop kon laat sak tot sy oorspronklike posisie nie!

Ek kan ongelukkig nie foto's wys van die Sixtynse Kapel nie want daar is 'n wag wat soos 'n gramafoonplaat wat vashaak se: "Shhhhhhh.... Noooooo photooooooo"!  Ek heg wel vir julle paar ander kiekies aan van die res van die Vatikaanstad en die ongelooflike kunswerke wat hier uitgestal word.
Die gids het ons vertel van hierdie ongelooflike bronsbal wat in die rondte kan draai en al wat die staalman langs my wonder is hoe sterk die "bearings" is!

Hierdie is net 'n stukkie van 'n mosaiek vloer wat 'n hele kamer beslaan.  Die ongelooflike is dat hierdie vloer erens anders in Italie gele was en dit het hulle 8 jaar geneem om teeltjie vir teeltjie te skuif en dit oor te le in die Vatikaanstad!

Eindelose gange van fresco's en skilderye waarvoor niemand in besonder erkenning kry nie

Ons besoek aan die Vatikaanstad is afgesluit met die Sint Pieters Basilika waar ek en Herrie die 582 trappies in nou gangetjies uitgeklim het om Rome van bo te aanskou!  Die uitsig is pragtig en die klim werd.  Dis inspirerend om te dink dat hierdie groot kerk met sy besonderse koepel in die 1500s opgerig is en ook gepas dat die grootste gebou in Rome opgerig is om Hom te eer!
Sint Pieters Basilika
Die koepel vanuit die kerk geneem
Die nou gangetjies en baie trappe in die koepel na bo
Rome van bo gesien

 Skryf gou poskaarte in die kerk sodat dit uit die Vatikaanstad gepos kan word

Na 'n middag van kuns en kultuur het ons besluit om ons laaste aand by die Colosseum deur te bring en het vir oulaas gesmul aan gnocchi quattro formaggi.
  Ons waag weer ons lewens na die Colosseum toe tydens spitsverkeer
Colosseum snags

Wat 'n onvergeetlike week!  Vino, gelato, pasta en pizza was aan die orde van die dag... elke dag!  Ons het die gesegde "When in Rome do as the Romans" holrug gery en om een of ander rede was dit net in elke situasie gepas!

Ons het orals in Rome die Italiaanse vlag opgelet wat op grasperke pronk, uit vensters hang, bo-op geboue in die wind wapper... en dis weereens bewys dat hulle 'n baie trotse nasie is.


Vars water uit fonteine orals

En die nou straatjies en gangetjies wat mens op foto's van Italie sien bestaan regtig en lok mens om elke hoek en draai in om die stad verder te verken!


Ek het my hart in Orvieto verloor, en wie weet, ons mag dalk oor paar jaar terug keer... ons het immers 'n muntjie in Fontana di Trevi agtergelaat!

Ciao!

5 comments:

  1. Baie cool! Ons gan ook so vinnige draai daar maak in Julie, kannie wag nie..

    Groete

    ReplyDelete
  2. Ciao Bella!

    Ek het jou Rome blog verskriklik geniet Anel - jy verduidlik alles so oulik tot op die punt dat dit my sommer dadelik aan my tyd in Italie herinner het..die klein straatjies, klere op wasgoed drade, die vars water fonteine, ou klein dorpies met mensies wat omtrent niks engels praat nie.. Ooo Orvieto laat dink my so baie aan my eie klein middeleeuse dorpie waar ek studeer het, Macerata, die plattelandse dorpies was defnitief my gunsteling.. so bly jy het jou hart in Orvieto verloor!

    Mi manchi, forse possiamo incontrare in Italia per lo sci di Natale?! :)

    Tanto amore e un grande bacio,

    JM X

    ReplyDelete
  3. Roma caput mundi... I cannot understand what you wrote, but as far as I can see from the photos, I think you enjoyed Italy. Am glad that you loved it!!!
    A presto. Bacioni
    xxx

    ReplyDelete
  4. Lovely pictures and so well-written! ...thanks to Google Chrome for translating... ;)

    ReplyDelete
  5. Lekker! Verlang ek nou terug na 'n rooi wyntjie daar in Rome!

    ReplyDelete