Monday, May 16, 2011

Trip down memory lane...

Hi julle!

Ek was "home alone" hierdie naweek gewees so daar was lekker tyd om my blog op datum te bring!  Herrie is Donderdagoggend vroeg saam met die skool Parys toe vir die MBA Olympics - dis 'n jaarlikse byeenkoms waar 2000+ studente van MBA skole in Europa teen mekaar deelneem.  Hertzog het krieket, volleyball, dodge ball en petanque (sy enigste ervaring in laasgenoemde was by Kubu Eiland in die panne...) gespeel.  Nogals snaaks, ek sien nou van die foto's wat iemand op Facebook gesit het en Herrie is die enigste wit gesiggie in die krieketspan gewees, die kwota speler :-)

Ons was vir Paasnaweek in Belgie en het in Brussels, Brugge en Antwerpen gedraai.  Ek het mos in 2006 vir 'n jaar in Brussels gewerk en dit was heerlik om vir Herrie te wys waar ek gewerk, gebly en gekuier het!  Min van my vriende was daar want meeste van hulle was vir Paasnaweek na hul families toe maar dit was heerlik om al die lekker tye te onthou en herleef.

Tydens ons eerste middag in Brussels het ek vir Herrie gaan wys waar ek gewerk het en ons het soos oudergewoonte frites by Maison Antoine op Place Jourdan gekoop en in Parc Leopold gaan eet.  Daar word beweer dat Maison Antoine die beste frites in Belgie maak en die 45 minute wag was die moeite werd.
 Maison Antoine se frites in Parc Leopold
 My ou kantoor in Avenue du Maelbeek

Ons het so draai deur Brussels gestap en verby die parlement, die paleis, 'n paar mooi tuine en die Mercedes House gestap.  Dis vreemd, toe ons net in Brussels by die stasie aankom het ek dadelik vir 'n kaart gevra maar toe ons eers in die pad val was dit asof ek nooit daar weg is nie en sommer vinnig het my voete weer die ou pad wat ek altyd saam met kuiergaste gaan stap het gevind!
 Parlement
 Herrie dink hulle het die straat na hom vernoem...
 Badenhorste met die paleis se tuin in die agtergrond
 Mercedes House

Ons het my Spaanse vriendin Arantza ontmoet vir 'n biertjie by Cafe Belga en het daarna aan eg Belgiese kos gesmul by VolleGas.
Saam met liewe Arantza by VolleGas

Saterdagoggend is afgeskop met my destydse "breakfast on the go" wat ek altyd oppad werk toe gekoop het: 'n warm croisant en vars lemoensap!  Hierdie was 'n regte egte toeriste dag en ek't vir Herrie na al die besienswaardighede gevat wat mens moet sien om te kan se jy was in Brussels.   

Die atomium, Grand Place, Mannekenpis en St Hubert Galerie was op ons oggendprogram. 
Die atomium is 'n reuse yster molekuul wat opgerig is vir die wereldtentoonstelling in 1958, hy is 102 meter hoog en elkeen van die sfere weeg 2400 ton!
Atomium

Daar is twee stories wat die rondte doen oor hoekom die klein brons mannetjie wat op 'n hoek staan en piepie soveel toeriste lok!  Een is dat die Mannekenpis opgerig is om mense te herinner aan 'n groot brand wat Brussels verwoes het en mense was so desperaat en hulpeloos dat kinders selfs gehelp het om die vuur te blus met enige iets moontlik.  Die ander storie is dat die seuntjie van 'n baie gesiene man weggeraak het en die hele dorp is gevra om te help soek.  Hy't aangekondig dat 'n beeld opegerig sal word sodra hulle die seuntjie opspoor, minwetend hy gaan staan en piepie en nie erens kniel en sy gebedjies se of dapper sy man staan en veg teen die koue soos Rageltjie de Beer nie!
Mannekenpis in die agtergrond

Quiche was op die spyskaart vir middagete by een van my gunsteling plekkies.
 

Gedurende die middag was ons in die Grand Place, ons het 'n gedeelte van die "comic strip" gestap, ons het na die Sint-Michiels Kathedraal gaan kyk en ek't vir Herrie gewys waar ek gebly het in 2006! Ek weet nie of julle weet nie, maar TinTin en die Smurfs is beide Belgies.
Grand Place
Comic Strip
Sint-Michiels Kathedraal
My ou huis in Avenue Emile Max

Na 'n lekker pot vol mossels het ons 'n draai by Jannenkepis gaan maak (ja, sy is die vroulike weergawe) en is toe na Delirium... meer vir die ervaring as vir die bier!  Arme Herrie hoor nou al 5 jaar lank by my van hierdie kroeg wat te alle tye 2000 biere waarborg en hulle het 'n Guinness Record vir die meeste verskillende biere op een perseel gewen - 2004!  Die merkwaardige ding van die Belge is dat elke tipe bier in sy eie glas bedien word en Delirium is altyd so besig so stel julle die stoorkamer voor waar 2000 tipes bier en hulle glase gestoor word!
 Mossels!
 Jannekenpis
 Herrie wys die Suid Afrikaanse biere op Delirium se spyskaart uit
Klapperbier!

Ons het Sondag by 2 van my ou vriende, Natacha en Nicolas en hul kroos, gaan ontbyt eet.  Hulle het letterlik verdubbel vandat ek hulle laas gesien het - nie in grootte nie maar wat getalle betref :-)

Brussels is sinoniem met wafels, bier, mossels, frites en sjokolade en toe ons elkeen van daai boksies kon tiek het ons op die trein gespring na Brugge.

In Brugge was daar nog bier en mossels, 'n mooi Grote Markt, blomme, nou straatjies...
 Grote Markt in Brugge
 Bier in sy spesiale glas en die nouste straat in Brugge

... maar wat aan Brugge haar sjarme verleen is die water!
 
Kyk mooi (of vergroot selfs deur op die foto te dubbelkliek), ek het nie die foto geneem vir die mooi blomme nie maar vir die hond wat daar in die vensterbank sit asof hy betaal word!

Ek moet weereens vir Tripadvisor bedank wat ons na 'n restaurant met die lekkerste steak en ribs gelei het!  Hierdie boertjies was so bietjie uitgehonger vir vleis en In't Nieuw Museum se kos was hemels.  Een van Herrie se Griekse vriende van RSM, Nikos en sy meisie, Effie het saam met ons gaan smul.

Oppad huistoe het ons bietjie deur die pragtige strate gewandel en met al die toeriste in die kooi het Brugge in 'n sprokieswereld verander!

Brugge wanneer almal gaan slaap het...

Maandagoggend stap ons 'n laaste draai deur Brugge en besluit spontaan om in Antwerpen af te klim oppad huistoe.
Brugge . . . . .       Tussen treine . . . . .     Antwerpen

Daar is 'n oulike storie oor die naam, Antwerpen.  Hulle vertel dat daar 'n reus was wat tolgeld van almal gevra het wat die rivier oorsteek en as jy weier om te betaal is jou hand afgekap en in die water gegooi.  Die naam kom van die Vlaamse woorde "hand werpen".
Grote Markt in Antwerpen

Buiten die Grote Markt lok Antwerpen se indrukwekkende stasie ook baie toeriste.  So ook die Onze Lieve Vrouwekathedraal en kasteel.  Ander redes hoekom mense hierdie stad kom besoek is vir inkopies in die mooi ou geboue (tot Herrie se groot vreugde was die winkels almal toe want dit was Paas-Maandag) en vir diamante, maar ons het liewer nie gaan kyk nie want my man is weer student en ek is 'n huisvrou!  Nie dat ek kla nie, inteendeel, ek dink ek geniet die huishen speel eintlik 'n bietjie te veel ;-)
Onze Lieve Vrouwekathedraal en die mooi stasie
Kasteel en mooi winkels

Ek skryf sommer baie binnekort oor al ons pret tydens Koninginnedag...

Lekker week...
x

1 comment:

  1. So Brugse Zot of 'n Kwak (dis bier vir die wat wonder...) saam met 'n pot mossels sal darem nou loop!

    ReplyDelete