Omtrent so week nadat my ouers hier weg is bevind ek myself weer oppad na die lughawe... maar hierdie keer is dit ek wat vlieg, Milan toe! My nefie, Derek, en sy Italiaanse meisie, Francesca, gaan trou in haar tuisdorp Bergamo en die familie gaan fees vier... behoorlik!
Ek het die Donderdag al gevlieg om bietjie tyd saam met my Ouma te spandeer en Herrie kon eers Vrydagaand by ons aansluit omdat hy moes klas loop Vrydag. Bietjie onseker oor hoe ek van die "cheap airline airport" wat natuurlik myle wes van Milan is, tot in Bergamo (wat 'n uur oos van Milan is), en weer van Bergamo stasie af tot by die hotel waar die familie bly gaan kom, klim ek toe van die vliegtuig af en stap stadig aan om vir my tas te wag. Skielik laat weet my foon my dat ek 'n boodskap het van die bruid wat se dat haar drywer, Bruno, my 18h sal oplaai en ek kan hom net 'n lui gee as my planne verander! Wow, dis nou wat ek bederf noem... Francy dink ook aan ALS. Skielik klop my hart in my keel van al die opwinding, nog net 2 slapies... hierdie mag dalk net die ongelooflikste troue ooit wees!
Bergamo van die snelweg af gesien
In Bergamo aangekom het ons vir 'n koningsmaal aangesit want die restaurant van die hotel waar ons gebly het, het 3 Michelin sterre! Die kos was pragtig voorgesit en ongelooflik lekker... maar daarmee saam kom natuurlik ook die ongelooflike pryse en ek het my verstom dat daar mense is wat aandete hier 'n gereelde uitstappie kan maak. Na ete het die dames nog ure lank in een van die kamers gesels en ons tabberts vir die troue vir mekaar aangepas tot lank na middernag! Ek was 4 uur daai oggend nog vas aan die slaap toe Ouma aan my arm vat en vra of ek al wakker is... sy is uitgeslaap en wil gesels! Omdat mens nie 'n prys aan jou Ouma se geselsies in die vroeë oggendure op die vooraand van haar oudste kleinseun se troue kan sit nie, het ek haar verseker dat ek ook nie meer kan slaap nie en het gesê sy kan maar skiet met 'n onderwerp. Na so uur se praatjies het ek haar oortuig dat al die mense van wie sy praat more steeds so dierbaar of oud of geskei gaan wees en het gevra of ons die volgende dag ons gesprekke kon verder voer dat ek nog so uurtjie kan oë toe knyp.
Gaap-gaap het ons vrouens Vrydag die reen aangedurf en die strate ingevaar want my Tannie moes vir die laaste keer haar rok gaan pas. Bergamo met sy nou klipstraatjies en mooi ou geboue is prentjie mooi en die ideale plek vir 'n feetjie troue!
Saam met twee van my Tannie se vriendinne, Tannies Naomi en Jorina
Dit was baie duidelik waarom Milan een van die wereld se top modestede is want selfs die winkels in hierdie klein plattelandse dorpie het die mooiste klere en mens kan die vrouens op straat deur 'n ring trek. In een van die winkels het ek my hart verloor op 'n mooi rokkie (niks deftigs nie, maar baie stylvol)... en toe ek die prys sien het ek my stem verloor en net verstom na die "tag" gestaar: 9 000 EURO... dis reg ja, amper R100 000!
Meeste van die gaste (onder andere Herrie en my ouers) het Vrydagaand in Bergamo gearriveer en ons het almal saam geëet en gekuier. Dis Saterdag! Ons word begroet deur die more son! Weg is die donker wolke en als verloop volgens plan. Mens kan die opgewondenheid in die gange van die hotel waar meeste gaste vir die een-slapie-om-te-gaan nag geslaap het aanvoel... Alles het glad verloop tot ek 'n gat so groot soos my palm voor in my rok gebrand het! Oeps.
My Pa se simpel grappie was nie op hierdie oomblik waardeer nie!
Dis 12h. Die troue is 16h. Daar is nog tyd om Milan toe te jaag en iets te soek wat by my handsak en skoene (en my man of my Pa se sak) pas! My Pa het al benoud na 'n taxi se nommer begin soek toe Herrie aankondig dat hy 'n naaldwerkstelletjie in sy naweektas het... Ja, dis my man! Hy kom voorbereid!
Gelukkig was my rok baie vloeiend en het uit baie sagte lae bestaan (small miracles) so Hertzog het net die boonste laag na een kant toe gevat en waar die gat was het hy dit met 'n haakspeld vasgesteek - ek is seker dis nie heeltemal wat die ontwerper in gedagte gehad het nie, maar niemand by die troue het geweet van die gat nie en Herrie se "there I fixed it" uitdrukking was kostelik! En dit my skat, is net nog 'n rede hoekom jy my held is! Altyd koel en kalm... regte ou planmaker!
Die Van der Lindens en die Badenhorsts terwyl ons vir ons taxi wag
Die tweede benoude kwartier van die dag was toe die taxi bestuurder wat ons van die hotel na die kerk moes neem, nie met sy groot bussie deur al die nou strate kon ry nie en hy laai ons toe net af op 'n punt en sê ons moet 200 meter stap en waai met sy arm in 'n sekere rigting. Het ek genoem dat ons op hierdie stadium reeds 20 minute laat was? Of dat ek voor in die kerk moes sit oor ek 'n stukkie uit die Bybel moes voorlees?! Ons hardloop toe hoppitie-hoppitie met ons hakke oor die "cobbles" en besef skielik dat nie een van ons eers weet wat die kerk se naam is nie! Groot was ons verligting toe ons om 'n draai kom en bekende gesigte in mooi rokkies en pakke gewaar wat tussen die baie toeskouers uitstaan...
Die diens was vir ons boertjies baie interessant. Dit was 'n Katolieke seremonie en als was in Italiaans behalwe die stukkie wat ek moes voorlees, die gebed wat my niggie moes doen en my nefie se beloftes. Dit was ook baie duidelik dat die klem tydens 'n Katolieke huweliksbevestiging is op die kinders wat uit die huwelik moet spruit... en meer spesifiek die hoeveelheid kinders! Hoe langer die preek was, hoe groter het my nefie se oë gerek. Op 'n stadium het die priester gevra of iemand vir hom 'n paar dinge kan vertaal en nadat hy lank gepraat het en die Italianers in die kerk lekker gelag het, sê die vrou wat vertaler gespeel het bloot: "It is difficult to translate but the priest basically said that you must breed". Haha, praat van "calling a spade a spade"!
Paar foto's van die seremonie:
Mr & Mrs Derek and Francesca Fratus Brink
Die onthaal was in 'n ou kasteel wat oor die hele dorpie uitkyk en die spyseniering was gedoen deur dieselfde restaurant waarvan ek vroeër vertel het... uit die boonste rakke!
Iets wat vir ons bietjie anders en uniek was is daar was 2 ballerinas wat buite rondgestap het en blomme uitgedeel het... dis moontlik 'n Italiaanse ding? Francesca sê by my en my sussie se troues was die toesprake en heildronke vir haar baie eienaardig want dis weer iets wat hulle nie doen nie. Interessant die kultuurverskille!
Na die ete is almal na buite vir die sny van die ENORME koek en nagereg!
Ek vind dit moeilik om te glo dat my Ma en haar sussie dieselfde Ma & Pa het!
Na die nagereg het almal nog so rukkie buite rondgestaan en sjampanje gedrink wat soos die weduwee se kruik nooit opraak nie want as jy maar net sien het iemand jou glasie opgetop. My nefie se nuwe swaer het 'n "tumbler" onder die mans se neuse verby getrek en hulle letterlik in gelid agter hom aangelei na 'n klein kamertjie in die kasteel... Na so halfuur kom Francesca uit die rigting van die kamertjie na ons toe aangetrippel en skree vir my: "Anel come quick, your husband is fluent in Italian"!
Daar aangekom kry ek vir Herrie met 'n mikrofoon... hy sing uit vollebors... in Italiaans!
Soos in Orvieto het Hendrico Giovanni Hertzogius Badenhorsti weer sy verskyning gemaak :-)
My nefie hulle het 'n man en vrou gereel om karaoke by die "after party" in hierdie kamertjie te begelei. Die sing saam met dans en 'n oop kroeg was 'n wenresep en baie van die gaste, onder andere my legendariese Ouma, het daar gekuier tot in die vroeë oggend ure... My Ouma het die joligheid so baie geniet en was regtig ontsteld toe my Tannie haar 02h00 wou huistoe vat!
Steeds was dit nie die einde van 'n onvergeetlike naweek nie, want Sondagmiddag het meeste gaste vir oulaas saam geëet by die "brunch" wat Francy gereel het. Hertzog en my Ma & Pa het die oggend reeds na Rotterdam en Rome vertrek en omdat Herrie na die laat nag bietjie later geslaap het as beplan en daarom nie kon tyd mors om te sukkel met publieke vervoer lughawe toe nie, moes hy maar opdok vir 'n taxi. Die rit van die hotel in Sarnica, na Milan Malpensa lughawe via Bergamo het hom meer uit die sak gejaag as sy vlug terug Holland toe!
En so leer mens dat elke gratis premium whiskey tog sy prys het :-)
Later die middag het ek en my niggie Tallinn toe gevlieg vir 'n week saam in die Baltics... daaroor vertel ek volgende keer!
Verder gaan dinge goed in Rotterdam. Ons woonstel is mos verkoop en ons trek hierdie week na 'n nuwe plekkie net om die draai van hier. Ons het baie lekker hier gebly maar ek is seker dat daar nog baie lekker herinneringe in ons nuwe woonstel wag om gemaak te word! Hierdie rondte gaan ons spaarkamer wel 'n bed hê, so toekomstige gaste is baie welkom en julle hoef nie meer met die opblaasmatras te sukkel nie :-)
Ek wil sommer weereens vir almal baie dankie sê vir julle verjaarsdagboodskappe via al die verskillende kommunikasie kanale... Al was ek nie in my SA huis of my tydelike Rotterdam huis nie (want ek was saam my niggie in die Baltics), het elke boodskap bygedra om my dag net meer spesiaal te maak! Ons beplan om Saterdag 'n Bring&Braai in die park te hou vir my verjaarsdag want Herrie hulle het verlede week klaar gemaak met die eksamen en aan die einde van die week kom 'n groot projek tot 'n einde so dan kan almal weer asem haal.
Oe, dit ruik of my quattro formaggi sousie reg is... die Italianers het my nou weer geinspireer!
Ciao!
x
PS: Hierdie Ouma van my word more 81! Sy lyk so goed vir haar jare en is nog so jonk van gees en vol plannetjies... altyd tyd vir 'n ou grappie. Ek is 'n baie geseende kleinkind om nog saam met haar te kan kuier en by haar te leer en boonop nog haar naam te deel ook ;-)
My liewe Ouma Lena