Tuesday, June 14, 2011

Koffie in my kombuis, saam my MA en PA!!

Hallo!

Ja dis reg, die oumense het hier in Rotterdam kom kuier vir paar dae voordat hulle verder deur Europa getoer het en ons mekaar weer in Italie by my nefie se troue gesien het.

Ek't alles by my huisie reggekry vir hul koms en nogals 'n duurder kaartjie Schiphol toe gekoop sodat ek op die vinnige trein lughawe toe kan gaan en rustig vir hulle daar wag, toe breek die trein in 'n tonnel waar ek geen selfoonopvangs gehad het nie en ek kom toe baie later daar as wat die stadige trein sou vat!  By Schiphol hardloop ek toe soos 'n vlakhaas na die "arrivals hall" toe en reg by hulle verby!

Terug in Rotterdam het ons lekker koffie gedrink en cupcakes geeet by die woonstel en het daarna ten spyte van die onvoorspelbare weer (hier reen dit en die son skyn mos in 'n kwessie van 15 minute) die stad op die fietse gaan verken.  Ons eerste stop was Oudehaven en daarna Het Park.  Die twee kon nie uitgepraat raak oor hoe "mooi" die hawestad vir hulle is nie!
 Rotterdam - let op hoe vinnig die weer verander het!

Ons was soos oudergewoonte oppad Witte de Wit toe om die fietstoer met 'n biertjie af te sluit, toe my ma (wat heeldag bietjie van balans af was na die min slaap op die deurnag vlug) van 'n sypaadjie afgery het en soos 'n sak pattats voor De Witte Aap in die pad neergeslaan het!  Haar knieg en arm was nerf-af en sy't seer genoeg gekry dat ek en my pa dadelik van ons fietse afgespring het om haar te help maar dit was tog 'n bietjie snaaks ;-)

Herrie het by ons aangesluit in Witte de Wit en ons het lekker gesmul aan Marokkaanse kos by Hotel Bazar.


Na ete is ons weer op die fietse terug huistoe en nadat ons die huurfietse ingegee het moes ons 100 meter stap huistoe deur die markplein.  
Die ouvrou het nie die boonste trappie van 'n stel in die plein in die donker gesien nie en 'n tweede keer op dieselfde dag in die pad geval en haar ander knieg was die keer in die slag!  Moedeloos het sy net in die pad bly sit en lag en verbygaande voetgangers moes gedink het ons is dronk of hoog - enige iets is moontlik in Holland!
Beserings wat op die eerste dag opgedoen is!

Vrydag was ons Keukenhof toe en dit was ongelukkig die heel laaste dag van die seisoen wat die tuin oop was vir die publiek so meeste van die tulpe het reeds klaar geblom.  Dit was steeds 'n wonderlike ervaring want die tuine is so pragtig en hulle het twee binneshuise uitstallings gehad van lelies en orgidee wat mens na jou asem laat snak het.

 Keukenhof - vir oulaas!
Orgidee

Die middag het ons poffertjes by Seth gaan eet en ek't vir my ma-hulle 'n paar van Rotterdam se vreemde "kunswerke" gaan wys.  Onder andere die beeld van Fikkie.  Fikkie is 'n hondjie, en hier is sy verhaal wat op 'n brons plaatjie voor hom staan: "Op 16 November 1963 werd Fikkie in het kader van het Xe Lustrum van het Rotterdamsch Studenten Corps aan de gemeente Rotterdam geschonken.  Fikkie heeft eerst wat gezworven door Rotterdam en is zelfs geroofd geweest.  Hij heeft zijn vaste stek op deze plaats sinds 1992.  Op 8 Juli 1999 is Fikkie, symbool van die jonge hond, door die XVIIe Lustrumcommissie officieel geadopteerd en zo verzekerd van een goede en blijvende verzorging! - Kunstenaar: Joeki Simak, Budapest, 1925."  Is dit nie vreemd nie?  Verbeeldingryke mense die kaaskoppe!   Fikkie

Poffertjes by Seth

Saterdag = Markdag!  Ons eerste stop was die Vlaamsch Broodhuys om die draai van die woonstel vir ontbyt waarna ons die mark en Delft aangepak het.

 Vlaamsch Broodhuys van buite na binne geneem

My Pa het eers lekker praatjies gemaak met Peet van der Linden wat plante by die mark verkoop om uit te vind of ons nie dalk net familie is nie!

In Delft is ons met bitterballen en 'n uitsmijter bederf en het na die kleinste huisie in die stad gaan kyk.  Volgens 'n bordjie langs die huis, het die "stadsgeneesheer en lijfarts van Prins Willem van Oranje" in hierdie huisie gebly van 1558 tot 1595.

Die pienk een is die kleinste huisie in Delft!

 Mooie Delft...

Dis ook hier waar ons die Red Hatters in hul kenmerkende rooi hoede en pers pakkies raakgeloop het!  My ma het my vertel van hierdie sosiale organisasie vir vrouens van 50 jaar en ouer.  Volgens Wikipedia was daar in Januarie 2011 meer as 70 000 geregistreerde lede!
 Red Hat Society

Sondag het die 3 van ons van 'n paar van Rotterdam se publieke vervoersisteme gebruik gemaak sodat ek die oumense bietjie kon touwys maak vir die res van hul vakansie.  Ons is met 'n "metro" en toe 'n "tram" na Hotel New York en het 'n watertaxi terug geneem.

Bietjie agtergrond inligting oor Hotel New York: vroëer jare het baie Europeers as gevolg van armoede of vervolging na Amerika gevlug in die hoop op 'n beter lewe daar in die "beloofde land".  In 1873 is die Nederlandsch Amerikaanse Stoomvaart Maatschappij gestig wat later as die Holland America Line bekend gestaan het.  Die emigrante het by Hotel New York op die Nieuw Amsterdam aan boort gegaan en het weer in New York voet aan wal gesit.  Die gebou, Hotel New York, was vroëer jare die Holland America Line se hoofkantoor en is vandag 'n hotel en restaurant.

 Herrie het tuis gebly terwyl ons na Hotel New York gaan kyk het om 'n ogie op die skaapboud te hou (en ook bietjie te swot) en ons het heerlik geeet en noodgedwonge 'n middagslapie gevat toe ons terug by die huis was.

Die middag het ons na 'n ouer deel van Rotterdam gaan kyk, Delfshaven, wat nie tydens die oorlog verwoes is nie en ek't vir hulle ons enigste windmeul gaan wys. Interessante feit oor hierdie windmeul is dat hy nie gebou is om water te pomp nie, maar om meel te maal.  Hy is in 1727 gebou, toe afgebrand in 1940 omdat die Duitsers vermoed het dat daar vanuit die Windmeul tydens die oorlog geskiet sou word, en is in 1985 herbou en word vandag steeds gebruik om koring, mielies en rog te maal tot meel.  Daar is buite 'n kennisgewing op wat se dat die publiek op Saterdae en Woensdae tussen spesifieke ure kan kom meel koop daar!  Is dit nie oulik nie?!  Ek dink ek moet dit doen as ek weer beskuit wil bak, net vir die ervaring daarvan :-)

Delfshaven, Rotterdam

Ons het die uitstappie na Delfshaven afgesluit met 'n besoek aan De Pelgrim, 'n brouery.  
 De Pelgrim

Die volgende oggend vroeg is my ouers op 'n trein hier weg na Parys.  Ons het weer later in Italie by mekaar aangesluit en hulle is toe verder Rome toe en ek en my niggie het in die Baltics gaan toer!  Oor die troue en die Baltics skryf ek binnekort....  

Na Rome is die oumense Griekeland toe en oppad huistoe het ons mekaar weer vir een aand in Amsterdam gesien.  Herrie kon ongelukkig nie ook saam kuier in Amsterdam nie want sy eksamen het Maandag begin en hy het darem die naweek klaar gemaak en nou wag ons net vir die uitslae...

In Amsterdam het ons na die gewone toeriste dinge soos die Jordaan area, Blommemark, Museumplein en Walletjie straat gaan kyk (en ook op 'n winkel afgekom wat net kondome verkoop - net in Amsterdam), maar was ook op die uitkyk na iets vreemds en uniek in Amsterdam waarvan my niggie my vertel het: An Unknown Artist!

Amsterdam

Daar is 'n paar kunswerke in Amsterdam wat net oornag in buurte verskyn het en niemand weet wie hierdie "unknown artist" is wat Amsterdam se inwoners sedert die vroee 80's aan die wonder het nie!  Gaan kyk hier na van sy werke: http://www.livius.org/dutchhistory/amsterdam/amsterdam_artist.html

Ons het ook 'n paar beelde van die Unknown Artist kon opspoor:
Unknown Artist - Amsterdam

Ag dit was heerlik om vir my Ma en Pa te kon wys waar ek en Herrie leef en werk en speel!  My ma het eerste ingegee op die lughawe en hartstogtelik begin huil toe ek hulle moes groet.  Ek en my Pa kon toe ook nie langer terug hou nie, ons "van der Lindens" se blase sit mos naby aan ons oë soos Jacs sou se!  Ek het net vir paar minute by Schiphol se stasie staan en snik terwyl ek vir my trein Rotterdam toe gewag het, want skielik sien ek toe hierdie advertensiebord raak:
Dis mos genoeg om enige trane op te droog :-)

Volgende nuusbrokkie: Matrimonio italiano

PS: Baie mense het my al laat weet dat hulle sukkel om op die blog te "comment".  Herrie lag en se dis net ons langhare wat nie weet hoe nie, maar ek't intussen ook 1 of 2 versoeke van ouens gehad (wat ook al langhare gehad het) om te verduidelik.  So, dis hoe dit gedoen word, stap vir stap:


Kliek heel onder aan die "post" op "comments" (in rooi en onderstreep)

 Dan maak hierdie venster oop:

 Kliek op "Select profile" en kies "name/url"

 Tik dan net jou naam (vergeet van URL) en kliek op "continue"












Tik dan boodskap in die blokkie en kliek op "Post Comment"











Jy gaan dan 'n weird woord kry wat jy moet oortik om seker te maak jy is nie 'n robot nie. Tik dit en se "Post"


















Tada!

4 comments:

  1. What lovely photo combinations! ;)

    ReplyDelete
  2. Ek lag te lekker vir de fokker vluegtuig! Alles lyk so lekker en mooi. Mis jou! Laf joe

    ReplyDelete
  3. Hierdie is n toets op die "how to" van boodkskappe post ....

    ReplyDelete
  4. Ag great fantasties ... ekt nou hierdie storiethie meer geniet as die SARIE .... jy moes n joernalis geword het vriendin xxx

    ReplyDelete