Monday, October 31, 2011

ManneWALLIS!

Ek't julle mos onlangs vertel van ons tyd in Londen saam met Pampoen en Vita waarna ons deur paar plattelandse dorpies gery het tot by Cardiff...

CAERDYDD (Cardiff)
In Cardiff aangekom het ons op Gisela en Pieter (wat 'n jaar in Cardiff gewoon het) se aanbeveling by Jamie's Italian gaan eet! The Naked Chef was ongelukkig nie self daar nie, maar die kos was heerlik en ons het klomp lekker idees gekry wat die dekor aanbetref...

My hart was so seer dat Pieter & Gizi nie saam met ons by Jamie's kon kuier nie en ek was baie spyt dat ons nie vroeër in die jaar hier kon uitkom nie... net 'n maand te laat. Oppad huistoe het ons verby 'n winkel gestap wat klere verkoop maar die hele venster was vol ou naaldwerkmasjiene - I like!
Jamie's Italian, Cardiff saam met Pieter & Gizi :-)
Waar kry hulle hierdie?  'n Hele venster vol!

Ons het Dinsdag oggend in Cardiff spandeer en het na die kasteel gaan kyk en later by die Cardiff Bay & Waterfront area gaan rondloop.  Mense hier was vreeslik vriendelik!
Cardiff Castle
Cardiff Bay & Mermaid Quay

Nadat ons bietjie opgelees het, het ons besluit om die aand in Snowdonia deur te bring en oppad soontoe het ons orals groot groen lande met klomp wit skapies op gesien!  Elke plaas se skape is anders gemerk: van hulle met 'n rooi kol, ander blou, sommige met 'n groen streep ens. Ons het ook gesien hoe 2 skaaphonde 'n trop skape aanjaag dat daai wit bolletjies wol hardloop teen 'n helse spoed!
Grasgroen platteland in Wallis!

Ons het besluit om by 'n klein dorpie genaamd Devil's Bridge te stop en het deur die woud gaan stap om na die 3 brûe en watervalle hier te gaan kyk. Daar is 'n oulike storie oor die brug... hy gaan so:

Once upon a time...
around the IIth Century, the Devil visited Wales as he had never been there before and he had heard that the scenery was breathtaking.
He soon came across an old lady who seemed upset. 
"What's the matter?" he asked out of curiosity. "Oh, I'm in such a terrible muddle and I don't know what to do! My cow has wandered across the river and I can't get her back".
"Ah!" said the Devil "What you need my dear, is a bridge, and I am just the man to build you one. Why don't you go home, and in the morning there will be a bridge waiting for you. 
All I ask in return is to keep the first living thing to cross the bridge!
"Okay then" she said "It's a bargain, I'll see you in the morning.  Nos da, Goodnight"

That night she wondered about this stranger who would build her a bridge. 
"What a strange request! Why should I cross the bridge to get my cow back if he gets to keep me in exchange? Mind you it is very tempting offer..."

The next day she got up and called for her faithful dog.
Together they went down to the river. 
"Well well" she couldn't believe her eyes... In front of her was the best bridge that she had ever seen! 
"I told you that I would build you a bridge" said the Devil appearing from nowhere. 
"Now it's your turn to keep your side of the bargain".
"I know, you get to keep the first living thing to cross the bridge" and she started to walk towards the bridge. But just when she got to the entrance, she stopped, took out a loaf of bread from her apron pocket and hurled it across the bridge. As quick as a flash and before the Devil could stop it, the dog chased after it. 
"Aaaaaaagh!!!!!" screeched the Devil. "You stupid old woman, I don't believe it! Your smelly, hairy farm dog has become the first living thing to cross my bridge. It's no good to me" he screamed and then he vanished.

Well, the Devil was never seen in Wales again as he was so embarrassed at being outwitted by the old lady. High in the mountains near Aberystwyth, there is a village where a very old bridge crosses a deep gorge. Above it are two other bridges built at later dates. But the lowest one....Well, they say that the Devil himself built it!

So ons het gaan kyk:
Devil's Bridge

Daar is ook watervalle en 'n pragtige bospadjie wat mens daarheen lei...
Devil's Bridge Falls

Van Devil's Bridge af na Betws-y-Coed waar ons die aand moes slaap het ons nog 100e skape gesien! G'n wonder ons is elke aand so moeg nie, ons tel heeldag skape! Dis interessant, in Cardiff is alle padtekens en kennisgewings eers in Engels aangedui en dan in Wallies maar hoe meer noord ons beweeg het, hoe minder prominent was die Engels en Wallies is 'n taal wat ons glad nie kon uitspreek nie - van die woorde bestaan slegs uit konsonante!

BETWS-Y-COED
Ons het donker eers by ons gastehuis aangekom en die eienaar het die padjie in dorp toe vir iets te ete as volg verduidelik: stap oor die pad en in by die plaashek, regs om die ou plaashuis en al langs 'n nou padjie tot jul die hangbrug kry. Stap oor die hangbrug, links verby die begraafplaas en deur die stasie! Ons het lekker skaap geëet - wat op 4 verskillende maniere voorberei is - by die Betws-y-Coed Bistro en is bederf met Mead en Welsh cake.
Padjie van ons gastehuis na Betws-y-Coed

Woensdagoggend het ons Betws-y-Coed in die reën verken en het in die pad na Llundudno aan die kus geval.
Niks soos 'n bont sambreel om 'n grys dag op te helder nie :-)
Betws-y-Coed

Oppad na Llundudno het ons by Conwy, 'n ou stad wat nog heeltemal omring is met die ou muur wat die kasteel omring het, gestop.  Conwy en sy kasteel is in 1283 deur Koning Edward I gestig en die ou muur en middeleuse straat uitleg van die stad bestaan steeds!  Ons het al om die stad in die muur gestap (1.2km) tot by die see - ongelooflik!!
Hierdie skildery van Conwy se kasteel en mure dateer uit die 14de eeu, maar 'n skildery vandag sal baie soortgelyk lyk!
Conwy - al hierdie foto's is vanaf/vanuit die muur geneem

In Llandudno het ons 'n heel ander boustyl gesien, soos die van 'n Victoriaanse oord. Ons het lekker vis & chips geëet soos mens moet as jy by die see is, en het die tram op na die "Great Orme" gevat. Dit is 'n groot kalksteen punt aan die Creuddyn Skiereiland en staan reeds jare as die "Great Orme Head" bekend (Walliese naam: Pen-y-Gogarth) en is waarskynlik die grootste toeriste aantreklikheid in Llandudno. "Orme" is 'n ou Viking woord wat "slang" beteken en hierdie groot kalksteen punt het die vroeë matrose aan 'n reuse seeslang herinner... vandaar die naam.
Llandudno

Bo-op die Great Orme was dit vriesend en nat en is ons amper weggewaai!   Ek was 'n paar keer effe van balans af gewaai en Herrie wou die windspoed meet maar sy foon kon nie meer as 40km/h lees nie.
Bo-op die Orme - HAHA, kyk hoe waai ons neusvleuels!

Dankbaar dat ons beide dit weer tot by die kar gemaak het, vertrek ons na Dave & Joan, familie vriende van die Badenhorsts, waar ons die aand geslaap het by hul huis naby Disley (terug in Engeland).

ENGELAND
Lake View is soos ek 'n Engelse estate voorgestel het: lowergroen met 'n groot tuin, dam en riviertjie en 'n pragtige sandsteen huis! Ons is met ope arms deur die hele Helm familie ontvang en is bederf met vriendelike geselskap en lekker kos in 'n warm, huislike atmosfeer... Dit was wonderlik om hierdie familie wat so diep in my skoonfamilie se harte gekruip het, beter te kon leerken!
Lake View - kyk hoe pragtig is Joan se tuin!
Als van sade wat my skoonma uit SA stuur...

Donderdagoggend groet 'n nat, grou dag ons en Dave & Joan het besluit om saam met ons na 'n paar dorpies in die omgewing te ry. Ons het deur Castleton, Hope, Bradwell en Foolow tot by Eyam gery waar die "black plague" uitgebreek het in 1665 en orals in die dorpie is brons plaatjies op die huise wat sê hoeveel familielede in daardie huisgesin as gevolg van die plaag gesterf het... so hartseer! Die plaag het in Eyam begin toe daar 'n pakkie met nat lappe van Londen af by 'n kleremaker in Eyam aangekom het en om die lappe droog te kry het hy dit toe voor 'n kaggel gehang en al die vlooie wat die plaag gedra het, het uitgebroei.  'n Maand later was die kleremaker die eerste slagoffer van die plaag en dit het vinnig deur die dorp versprei.

Om te keer dat alle buurdorpe ook besmet raak, het die inwoners van Eyam besluit om net in hulle dorp te bly en so is daar op 'n area buite die dorp besluit waar omliggende buurdorpe kos gelos het en die inwoners van Eyam het hulle daarvoor betaal deur munte in asyn te los op hierdie punt want asyn was al wat die plaag venietig het.  Party families het 6 uit 8 gesinslede verloor... siestog.  Daar is een tragiese storie van 'n vrou wat self haar man en 6 van haar eie kinders begrawe het.  Hulle het almal 'n week uit mekaar gesterf en omdat sy bang was dat ander wat haar sou help ook besmet kan raak, het sy die hartseer taak van die lyke begrawe vrou alleen aangepak!  14 maande na die uitbraak van die plaag en ongeveer 260 sterftes later, is Eyam se laaste slagoffer oorlede.

Julle kan meer van Eyam en sy hartseer geskiedenis lees hier: http://www.beautifulbritain.co.uk/htm/outandabout/eyam.htm

Engelse platteland saam Dave & Joan - die reën het verhoed dat ons meer kon uitklim en dorpies verken

Die laaste plek wat ons saam met die Helms besoek het was Chatsworth - 'n statige huis in Derbyshire wat aan die 12de Hertog van Devanshire behoort! Die huis het meer as 126 kamers en is omring met 'n pragtige tuin wat jaarliks deur 300 000 mense besoek word.  Daar is ook 'n unieke versameling skilderye wat talle toeriste lok.  Om die tuin is daar 'n reuse park en die area is pragtig... só mooi dat Chatsworth House al herhaaldelik as "UK's favorite Country House" aangewys is.

Interessante brokkie geskiedenis: Hierdie grond behoort sedert 1549 aan die Cavendish familie en is van een Hertog aan die volgende oorgedra.  In die vroeë 20ste eeu het sosiale veranderinge en belasting 'n effek op die Devonshires' se leefstyl begin hê en toe die 8ste Hertog in 1908 sterf, is die familie met meer as 500 000 pond se "death duties" belas!  Talle grondstukke, skilderye en versamelings van onskatbare waarde is in die volgende paar jaar verkoop te vereffening van skuld, waarna lewe op Chatsworth baie soos voorheen voortgegaan het...  
Chatsworth House, Derbyshire

Om te verhoed dat geskiedenis herhaal word het die 10de Hertog gedurende sy leeftyd meeste van sy bates aan sy seun oorgedra om sodoende die "death duties" te vermy, maar soos die duiwel dit wou hê het hy 'n paar weke te vroeg gesterf vir die leeftyd vrystelling om effektief te wees en belasting is gehef teen 80% van die totale boedel... In 1950 was dit 7 miljoen pond... met inflasie in ag geneem beteken dit 179 MILJOEN POND in vandag se tyd!!!  My kop is te klein om laasgenoemde te verwerk :-)

Weer is talle waardevolle besittings en baie grond verkoop en onderhandelings met Binnelande Inkomste het 17 jaar lank geduur - al die tyd is rente op die skuld gehef! Die huis en sy bates word vandag deur "The Chatsworth House Trust" bestuur.

2 Interessante, dog nuttelose feite:
* Die Chatsworth House was in 2005 in die fliek "Pride & Prejudice" te sien as die tuiste van Mr. Darcy;
* Prins Charles besoek vandag nog elke November die Chatsworth House om sy Kerskaartjies te skryf!
Thank you Dave, Joan and Family!  Special times... x

Nadat ons afskeid geneem het van die Helm familie het ons verder gery na Edinburgh!

Ek skryf later in die week oor skotse danse, Herrie se debut in die vermaaklikheidswêreld en ander avonture wat ons in Skotland gehad het!

Thursday, October 27, 2011

LONDEN Lekkerte!

Ons het slegs 2,5 ure geslaap ná Christian (ons vriend uit Alabama) se "fare well" partytjie (hy doen nou 'n uitruilsemester in Suid Afrika by UCT) toe ons opstaan om 06h30 ons eerste trein na Brussels en van daar die Eurostar na Londen te neem. Dit was die eerste "point of interest" op ons 2 weke lange Oktober vakansie in Engeland, Wallis, Skotland en Ierland gewees!

LONDEN
Op London St Pancras Station het Pampoen (ons gasheer vir die naweek) én Vita ons ingewag... wat 'n aangename verrassing! Vita was in Londen vir werk die week en ons het sommer ons tasse by sy hotel gaan los voor ons vriende van hom by Borough Market gaan ontmoet het. Daar het ons die lekker atmosfeer en aangename aromas van vars gebakte koeke, sappe en vleisies op die rooster geniet en hier en daar aan happies geproe. Herrie het by die droëwors stalletjie vasgehaak en was baie teleurgesteld dat die man uit Australië kom en die Suid Afrikaanse vlag wat so groot daar gepronk het waarskynlik net was om kliënte te lok!
Borough Market, Londen - yum!
Mens kan hom uit Afrika haal, maar nie die Afrika uit hom nie!

Met ons mage vol het ons 'n biertjie gaan drink by 'n restaurant op die Teems Rivier naby London Bridge om die lieflike somersweer te waardeer en ek en Herrie het die klomp daar gelos terwyl ons afsprake met ander mense in Londen gehad het. By Piccadilly Circus het ons vir Jacs ontmoet (my baas in SA) wat in Oxford was vir die week en het so uurtjie saam gekuier waarna ons ons vergaap het aan 'n jong "street performer" langs die Eros beeldjie, se fenominale "beatbox" talent! Hierdie ou gebruik NET sy mond, ongelooflik! Die middag het ons 'n ou vriendin van Herrie, Tessa, ontmoet vir 'n drankie en het lekker geselsies in Soho gemaak.
Piccadilly Circus saam Jacs

"Brilliant Beatbox" - Turn up the volume!

5 ure nadat ons die maats by die restaurant op die Teems Rivier gelos het, ontmoet ons hulle weer daar en kuier vir nog 5 ure saam! Oppad huistoe het ons 'n draai gemaak by 'n ander kuierplek waar Vita nie die geselskap van die Iere langs ons waardeer het nie... Die meisie is 'n haarkapper en het vir hom gesê dat 'n tannie van 80 laas week vir haar gevra het vir dieselfde haardos as dit waarmee hy spog!

02h00 uur vat ek, Herrie, Vita en Pamps 'n "black cab" na Vita se hotel want ons het besluit dis te vêr na Pampoen se huis in Hatfield so die 4 van ons het 'n kamer gedeel! Na 'n opwindende 23 uur dag bederf klaasvakie ons met 'n diep slaap wat Pamps se snorkies nie eers kon versteur nie!
Hier het ons gekuier, 14h00 en weer 24h00!

Na 'n vrugte ontbyt - dankie Pampoen - verken ons Londen se strate en die 3 manne laat my toe om 'n volle uur in die mees fantastiese winkel te spandeer: Liberty! Wow! My vriendin Meredith het my soontoe gestuur en op 'n manier haat ek haar daarvoor want dis die mooiste 5 verdieping gebou gevul met als wat ongelooflik mooi en belaglik duur is! Ek't 'n serpie gesien waaroor my sussie Carien sou mal wees maar teen 245 pond moes hy maar liefs op die rak bly.
Liberty of London... LOVE!

So opgewonde soos ek oor goed in Liberty geraak het, so was die drie manne in Hamleys: For over 250 years the Finest Toy Shop in the World...  As mens kyk na die foto hier links onder moes dit iets ongeloofliks fasinerend wees waarna hulle staar!  Wat was dit?  'n Demonstrasie van kryte!
Wat hulle egter die meeste geinteresseer het was die speelgoed helikopter wat regs onder bo-oor Herrie se kop sirkel.
Hamleys... Maak seuntjies van volgroeide mans!

Dit was 'n fantastiese sonskyndag en ons het die stad plat gestap en na die Big Ben, Houses of Parliament en die London Eye gaan kyk en het afgesluit by London Bridge. Oppad het ons by 'n uitstalling van die Oos-Kaap afgekom en dit was lieflik om in London - 'n ongelooflike wêreld stad - te wees en te sien hoe ander toeriste ons pragtige land waardeer!
Londen Lekkerte...

Ons het ook deur 'n "flashmob" gestap onder die Waterloo Bridge waar klomp mense by 'n 2de handse boek verkoping spontaan begin sing het en 'n ou man kom op sy fiets verby gery, stop en val in uit volle bors, ens. Dit was 'n lekker ervaring om dit in die regte wêreld te sien gebeur!  Ek't 'n kort video geneem (hy is hier onder ingesluit) maar het hier ook 'n video daarvan ontdek: http://www.youtube.com/watch?v=KEvAN5VfZJw "Folk Flashmob: Waterloo Bridge, 02 October 2011, in which a large number of singers gather by the bookstall to surprise the English with their own music. "Pleasant and Delightful" and "Lowlands" were the songs. "
Flashmob - die kort video wat ek geneem het

Ons het afskeid van Vita geneem en begin pendel na Pamps se huis waar 'n lekker boerworsie gewag het wat hy spesiaal vir ons kuier bestel het. Opgewonde het ons aartappels en groente gekoop sodat ek vir ons "mash & sheba" daarby kon maak maar toe ons in nr 7 Barlow Close aankom was die hel los want die nuwe inwoner uit Zambië het die wors uit die yskas gehaal en op die toonbank vergeet vir die naweek! Die dominos pizza wat toe die honger gestil het was amper so lekker soos die wors sou wees :-) In die taxi vanaf die stasie na Pampoen se huis het die drywer haar selfoon met 'n "handsfree kit" geantwoord en toe sy vir die persoon op die lyn 'n vraag vra, het Pamps geantwoord! Ons almal het lekker gelag en net daarna vra sy nog 'n vraag en toe antwoord Herrie haar! Toe wonder ek nogal waarvoor hy gelag het na Pampoen se blabs?!

Ek en Herrie het Maandag vir Pamps gegroet en die trein na Oxford geneem en ek het my verwonder aan die pragtige London Paddington Station waar ons op 'n ander trein moes klim. Ek't intussen uitgevind dat Paddington Station die Londen terminaal van die Great Western Railway was sedert 1838 en 'n groot gedeelte van die huidige stasie bestaan sedert 1854! Hierdie stasie het ook geskiedenis gemaak deur die oorspronklike ondergrondse stasie te wees van die wêreld se eerste moltrein, wat in 1863 die lig gesien het - "pun intended".
Paddington Station - die ou foto's heel bo en onder links dateer uit die 1940's en 50's

OXFORD
In Oxford het ons die kar opgelaai wat vir die volgende week ons nuwe vriend sou word en 2 ure in hierdie stad was genoeg om 'n groot indruk op ons te maak! Ons het ons verkyk na al die mooi ou geboue, netjiese tuine, vele biblioteke en kerke. Nog 'n oulike winkel, Cath Kidston, het my spyt gemaak dat ek nie hierdie jaar werk nie :-)
Oxford strate en die University Church of St Mary the Virgin
Pragtige biblioteek in Oxford

Die hoogtepunt van Oxford was verseker die Christ Church College waar dit voel of mens jare terug beweeg het. Ek het deur die hek geloer na die tuine agter die College, en waarmee hou studente in die Engelse Platteland hulle besig op 'n warm herfsdag? Croquet! Soos dit die prentjie in my kop betaam. 
Christ Church: Oxford's Unique Foundation of College and Cathedral

ENGELSE PLATTELAND
Terug in die kar het ons die gps gevra om ons via die Cotswolds na Cardiff te lei en ons het vinnig in Bibury gestop - 'n pragtige middeleeuse plekkie langs water.
Bibury

In Painswick het ons gaan kyk na die grafstene en 100 gesnoeide "yew" bome wat rondom die St Mary's Kerk geplant is. Daar is al die jare geglo dat indien die 100ste boom geplant word, die duiwel hom sal kom vernietig, maar met die nuwe millenium is boom nr100 tog geplant en tot nou toe was daar nog geen teken van die bose een nie.
Painswick

Ons het ietsie gedrink by The Falcon Beacon en weer in die pad geval na Cardiff.
Julle kan binnekort in ManneWALLIS!! lees van 'n kaal kok, ses duisend skape en 'n sprokieshuis op 'n rivier...
Oppad na Wallis...

x


Monday, October 24, 2011

Daai week toe hy in Italië en sy in Duitsland was...

My en Herrie se paaie het 06h00 die 22ste September op Rotterdam Centraal Station gesplit: Ek was oppad na Gräfenberg via Utrecht & Frankfurt en hy na Portofino via Schiphol & Milan.

Hertzog het saam met die RSM Sailing Club aan 'n regatta in Portofino gaan deelneem en ek het 'n vriendin se troue gaan bywoon in Gräfenberg, die klein Duitse dorpie waar ek in 2005 gebly het. Dit was so toevallig en onnodig dat hierdie 2 goed op dieselfde naweek geval het en ons het maar besluit dat ons beide moet bywoon.

Siende dat ek nie op die regatta was nie, kan ek niks daaroor skryf nie, maar Herrie het my belowe hy sal foto's neem en het ingestem om 'n "guest appearance" op my blog te maak en julle self daarvan te vertel!

Goed, ‘n "guest appearance"? Kom ek probeer hierdie blog ding...

So ek en Anel het mekaar gegroet op die stasie en ons is in ons aparte rigtings. Ek ontmoet my groep mense op die lughawe en ons vat die pad na Milan met Easyjet. Daar aangekom gaan kry ek en Yannis die karre wat hy vir ons bespreek het. Nou dis waar ons die eerste klein probleem teëkom met die feit dat ons 12 mense is in ons 2 karre! Die griek Yannis sê net dis geen probleem nie. Ek gee toe dat die een kar ‘n minibus was, maar die ander een was ‘n nano grootte Citroën. Na klomp meet en pas is almal en ons bagasie in en is ons oppad na Genoa en Portofino - ek bestuur die nano Citroën en Yannis die minibus. Dit het ons omtrent 3km gevat om mekaar te verloor op die hoofpad!
Kinderlik opgewonde!

Ons kar gaan toe maar na Marco se huis toe in Genoa om goed daar op te tel en hy laat ons onmiddelik die focaccia proe waarvoor die area so bekend is – baie lekker! Na bietjie rondloop daarso, gaan ons na Santa Margharita Ligure waar die regatta plaasvind. Hier check ons in ons boot in en kom agter als gaan baie hooipolooi wees. Rolex borg die hele affêre, daars aperetifs in ‘n kasteel, ‘n konferensie in ‘n 500 jare oue katedraal ens. Ook maar bly ek het toe daai "black tie & suit" ingepak soos hulle gevra het anders moes hierdie boertjie in sy plakkies en swembroek rondloop tussen die klomp pikkewyne in hulle tuxedo’s!
Sjoe, fancy pancy...
Portofino - Prentjie mooi!

Die seil self was oor 2 dae met min of meer 3 regatta’s elke dag, afhanged van die wind situasie. Ons het almal ±40ft seiljagte gehad om mee rond te jaag en dis dan ook waar jy in die aande slaap. (Ek en Christos het maar buite op die dek geslaap want die "cabins" raak maar knap as mens so styf teen ‘n ander man moet lê! Gelukkig was dit nog lekker warm in hierdie deel van die wêreld gewees.)  

Ons oranje boot was nou nie die hoog aangeslaanste boot met die meeste ervaring gewees nie, maar ons het wel die meeste Grieke gehad en dis altyd pret en interessant! Ons was dus partykeer redelik blatant amateuragtig gewees (soos die eerste resies toe ons so bietjie vergeet het die resies gaan eintlik al amper begin en ons dog ons kan daarmee wegkom om die enjin bietjie aan te sit en so bietjie ‘n hupstoot te kry oor die wegspring lyn… daai Italiaanse "race committee" jakkalse het goeie oë en hulle ruik ook daai diesel van ‘n myl af lyk dit my! Hulle val ook nie vir ons plan om almal so “Brrrrrrr” met ons monde te maak om die klank van die enjin weg te steek nie.) Tussen die resiese spring mens maar af en swem rond en ons het weer ons "mascot", Dolfie, saamgevat en lekker saam met hom rondgeswem en gestoei.  Ons het toe nou nie die seil gewen nie, maar ons het onsself darem goed van ons taak gekwyt in die A divisie deur nie heel laaste te kom nie (daar was 2 divisies, met omtrent 25 bote elk, en omtrent 500 mense van 21 verskillende MBA skole van reg oor die wêreld).
For the fun of it...

Ons het onsself wel baie geniet oor die 3 dae in Italië. Die weer was lekker, daar was lekker geselskap, baie oulike goed gereel deur die gasheer skool, baie interessante mense van reg oor die wêreld en almal baie lus vir groot partytjie. Verseker die moeite werd gewees en net nog ‘n lekker ding om te onthou van hierdie ongelooflike jaar oorsee!
Die Oranje RSM Boot

PS. Natuurlik het dit ons weer omtrent 3km gevat om mekaar te verloor oppad terug Milan toe, maar na bietjie hare kloof en ‘n klomp “Ade gamisou malaka’s” (dis Grieks vir iets wat eerder nie Afrikaans wil se nie, so sê maar net vir jouself "it's all greek to me")het albei karre daar aangekom en NET NET ons vlug gemaak… "Never a dull moment" saam met die Grieke!
Die Grieke - gotta love them!

Nou my beurt om te vertel van Duitsland en die troue wat ek bygewoon het!  Gräfenberg is 'n klein dorpie (3.7ha met 4000 mense) ongeveer 20km buite Nürnberg in Bayern geleë en ek het 'n jaar hier spandeer ná my studies op Potch as 'n intern by omgewingskonsultante.  Ek was 21 toe ek braaf in 2005 met my 23kg tas die eerste keer in Gräfenberg gekom het, en die eerste paar weke was baie moeilik want ek kon nie 'n woord Duits praat nie en in die plattelandse dorpies is Duitsers baie sku om Engels te praat want hulle het geen selfvertroue nie.  Stadig maar seker het dit beter geraak soos ek begin Duits leer en maats gemaak het en na 'n jaar het hierdie plekkie en sy mense so diep in my hart gekruip dat ek baie swaar aanbeweeg het Brussels toe waar ek 2006 spandeer het.  Opgewonde het ek vir 7 ure op die trein uitgesien na die "trip down memory lane" en al die ou gesiggies, "Frankonian" disse en reuke op die bekende sypaadjies wat in Gräfenberg op my wag!!

In Duitsland trou mens voor die gereg, "standesampt", en dan ook tydens 'n seremonie soos ons dit ken in 'n kerk of tuin. Marina & Frank is my maats wat getrou het en hulle "standesampt" was Donderdag middag by die stadsaal, "Rathaus", en dis daar waar ek vir die eerste keer in 5 jaar weer al my maatjies gesien het! My beste vriendin destyds, Andrea Kasch, en haar familie het my altyd by als betrek en ek moes swaar sluk toe ek haar Ma, Gertrud weer sien! Die Kasch familie is baie musikaal en die 3 kinders: Andrea, Franzi en Christof het tydens die "standesampt" opgetree. Na afloop van die "standesampt" is dit tradisie onder die Duitsers dat die bruidspaar die naaste familie en vriende uitvat vir ete en ons het lekker gaan eet in Igensdorf, 'n nabygeleë dorpie.  

Die video hier onder is van een van die liedjies wat die Kasch trio gesing het, asook foto's van die "standesampt", voorbereiding vir die groot dag en die kerklike seremonie die Saterdag.  Dis sommer uit die hoek van die vertrek met my mik en druk geneem en ek't die hele eerste vers uitgesny en die inleiding en vers 2 weer aanmekaar geplak sodat dit nie te lank of te groot is om af te laai nie, so verskoon asb die skaafplekke, ek leer nog :-)


Ek vertel sommer gou eers klaar van die troue voor ek oor die res van my tyd in Gräfenberg praat.  Heel aan die einde van die kerkdiens het my maatjies as verrassing vir die bruidspaar, "Siyahamba" gesing en dit was die eerste keer tydens die hele seremonie waar ek maar 'n tissue moes uithaal... Afrika klop sterk in hierdie hart! Die kerklike seremonie het reeds 12h00 Saterdag begin waarna alle gaste koek en tee by die onthaallokaal geniet het en dan is dit gebruiklik dat alle gaste die hele middag saam spandeer tot aandete bedien word.  Ek kon my nie indink wat ons die hele middag gaan doen tot dit donker raak nie maar 2 van die gaste het 'n helder oomblik gehad en besluit om by die schnaps plaas op in die pad 'n draai te gaan maak en kort voor lank volg die bruid en die ander 69 gaste in hul spore!  Die boer se vrou was baie verbaas om soveel mense in hul mooi-moois op haar stoep te sien maar het ons spontaan ingenooi en gou is daar tafels uit 'n skuur gehaal en opgeslaan en Marina se pa het 4 bottels schnaps vir die gaste bestel!  Die kinders by die troue het dadelik met die plaaskinders maats gemaak en begin ry op die kalfies en toe ons weer sien hang die son al laag en is dit tyd om terug te keer onthaal toe vir aandete...  Oe, ietsie vreemds wat ek gesien het is hoe een koei so boog gepiepie het en 'n ander drink dit toe sommer so direk uit die lug uit!  ERG grillerig, maar soooo snaaks gewees :-D

Spontane Schnaps probe... net in die platteland!

Tradisionele "sauerbraten mit kloss & blaukraut" was van die geregte op die spyskaart en my mond water alweer deur net daaraan te dink!  Daar is ook gedans en lekker gekuier soos op Suid Afrikaanse troues na afloop van die ete en die ruiker en kousband is ook gegooi, maar anders as by ons is daar deur die loop van die aand 'n hele paar speletjies gespeel waarby die gaste betrek is en van dit was nogals regtig pret.  Vir my was die grootste vermaak egter deur "Jurgen's Sound Express" verskaf...  nie omdat hierdie "one-man-show" wat klavier speel en sing so besonders goed was nie, maar omdat hy die klassieke fout gemaak het wat alle stereotipe Duitsers maak deur die Engelse "THE" met "ZIE" te vervang! Ongelukkig was daar niemand by die troue wat die paar Engelse nommertjies wat hy gesing het so baie soos ek kon waardeer nie... maar toe hy Vengaboys se: "My heart goes shalalala shalala in ZIE morning.... in ZIE sunshine.... in ZIE evening... Shalalala shalala just for you!" gesing het was ek byna histeries!
Lekker eet, lag en dans...

Die res van my naweek was eintlik baie nostalgies en ek't al my gunsteling hoekies van die dorp gaan besoek en soos oudergewoonte by die bakker en slaghuis gedraai en met my proviant onder die arm die koppie uitgeklim om bo by die "Denkmal" te gaan poskaarte skryf!  (Dis ongelooflik dat sulke plekke nog bestaan, maar omdat die winkels tussen 12h00 en 14h00 toemaak, kon ek vir my 'n lemoen op die groentewinkel  se sypadjie vat en net die 20 sent in sy plek los!)   Ek't een oggend na my ou woonstel gaan kyk en deur die woud en al langs die ou padjie af dorp toe gestap soos ek elke oggend vir 'n jaar lank gedoen het  (soms in dik sneeu en ek onthou nog dat my koudste oggend daai tyd -22ºC was) en het vir 2 ure by my ou kantoor saam met kollegas gaan kuier!  Alles was presies dieselfde maar tog anders?!  Ek't tot die besef gekom dat ek baie dankbaar is oor alles wat die afgelope 6 jaar in my lewe gebeur het en ek kon in die Gräfenberg dae maar net wens dat my familie en vriende gespaar sou bly, dat ek die man van my drome sal ontmoet en dat alles in my lewe so goed sou uitwerk soos dit nou het... Ek is vreeslik geseënd!

Saam met al die ongelooflike gelukkige oomblikke om almal weer te sien en die oorweldigende emosies van dankbaarheid wat ek hierdie naweek beleef het, was daar ook 'n tikkie hartseer... Een van die mense vir wie ek baie lief was het intussen skielik siek geword en is oorlede in 2007.  Dis was baie moeilik om Manfred se vrou, Sigrid, en kinders aan wie ek almal baie geheg was weer te sien want hy was altyd daar om saam met ons te kuier en te lag en met 'n swaar gemoed het ek hom gaan groet waar hy nou in Gräfenberg se "Friedhof" lê...  
Al my gunsteling plekkies in Gräfenberg...

Huis bou in Suid Afrika is redelik algemeen sodra mens getroud is en die woonstel te klein begin raak soos die babatjies hul verskyning maak... maar huis bou in die Duitse platteland is 'n perd van 'n ander kleur!  Hier word ook huis gebou, maar voor mens trou en ek neem aan dat dit seker sin maak so want van wat ek hoor sal jou huwelik byna enige iets oorleef as hy eers deur die pyne van huis bou is.  Maar wat ek so merkwaardig vind van huis bou in Gräfenberg, is dat die huiseienaars fisies in spring en SELF bou!  Dit help seker dat die huise oor die algemeen kleiner hier is as dié in SA, maar stel julle voor om elke dag na werk vir enige iets tussen 2 tot 5 ure nog te moet bou, naweke ingesluit!  Tawwe mense hierdie hoor, ek haal my hoed af vir hulle.  So is twee paartjies wat ek ken in Gräfenberg tans besig met huis bou: Daniel & Katrin en Marina & Frank (die bruidspaar).  Ek het na die boupersele gaan kyk... so opwindend!!
 Daniel & Katrin se huis in wording

Frank & Marina se huis in wording

Ek't ook afsprake met al my vriende en families gehad wie nie by die troue betrokke was nie en die sosiale kalender was nogals taamlik vol!  Ek't so uitgesien na 'n kuiertjie by Andrea se ouma by wie ek destyds elke week 'n draai gemaak het, maar groot was my teleurstelling toe Ouma Annie my van geen kant meer ken nie :-( Sy't nietemin lekker saam my koffie gedrink terwyl ek probeer het om haar geheue te prikkel en het ingestem om saam met my en Gertrud te sit vir 'n foto :-)
Ouma Annie & Gertrud

Die aand voor die troue het al die maats ook bymekaar gekom en ons het om 'n groot bonfire gekuier en broodjies gemaak met Nürenberger Bratwürste... hmmm!  Ander kuiers het 'n aand saam met Sigrid en haar kinders en hulle families ingesluit, ai ek is lief vir haar!  Ek't ook 'n heerlike aandete saam met Doris en haar familie geniet, asook 'n tradisionele Sondagmiddagete van Schnitzel (hoender, vark & kalkoen) en kartoffel salat by Familie Kasch!  (Gelukkig het Ouma Annie my nou herken!)  Ná ete het ons schnaps gedrink wat Pa Jürgen self gemaak het!  Almal se kinders het so groot geword en dit was so lekker om weer saam met almal te kuier... regtig asof ek nooit hier weg was nie!
Mense van my hart!  
v.b.n.o en l.n.r: Maats, Sandra, Sigrid & Familie, Doris & Familie en Jürgen met sy schnaps!

Sondagmiddag het ek en Franzi in die kersiewoud gaan stap en toe het ons 'n "mauer fest" bygewoon wat sommer die oggend deur 'n paar bure gereel is ter ere van die ou stadsmuur! Christof en Franzi het by die "mauer fest" vir my 'n liedjie gesing omdat my kuier in Gräfenberg weer einde se kant toe gestaan het :-) 
Andrea & Franzi Kasch by die "Mauer fest" en in die kersiewoud!

Dinsdag oggend toe ek my tassies pak het Marina en haar Ma Sylvia my met 2 vars gebakte kaaskoek harte verras wat hulle vir my en Herrie ingepak het, asook 'n hele boek vol Dr. Oetker kaaskoekresepte... hulle het onthou, ek is mal oor kaaskoek!  Dit was so spesiaal...

Hierdie was 'n wonderlike trip en ek het weer besef dat 'n groot deel van my hart in Gräfenberg lê...  'n deel van my lewe wat ek baie graag met Hertzog sal wil deel en daarom gaan ons probeer om gou weer daar te draai voor die einde van die jaar... 

Gute Nacht!
x