Thursday, October 27, 2011

LONDEN Lekkerte!

Ons het slegs 2,5 ure geslaap ná Christian (ons vriend uit Alabama) se "fare well" partytjie (hy doen nou 'n uitruilsemester in Suid Afrika by UCT) toe ons opstaan om 06h30 ons eerste trein na Brussels en van daar die Eurostar na Londen te neem. Dit was die eerste "point of interest" op ons 2 weke lange Oktober vakansie in Engeland, Wallis, Skotland en Ierland gewees!

LONDEN
Op London St Pancras Station het Pampoen (ons gasheer vir die naweek) én Vita ons ingewag... wat 'n aangename verrassing! Vita was in Londen vir werk die week en ons het sommer ons tasse by sy hotel gaan los voor ons vriende van hom by Borough Market gaan ontmoet het. Daar het ons die lekker atmosfeer en aangename aromas van vars gebakte koeke, sappe en vleisies op die rooster geniet en hier en daar aan happies geproe. Herrie het by die droëwors stalletjie vasgehaak en was baie teleurgesteld dat die man uit Australië kom en die Suid Afrikaanse vlag wat so groot daar gepronk het waarskynlik net was om kliënte te lok!
Borough Market, Londen - yum!
Mens kan hom uit Afrika haal, maar nie die Afrika uit hom nie!

Met ons mage vol het ons 'n biertjie gaan drink by 'n restaurant op die Teems Rivier naby London Bridge om die lieflike somersweer te waardeer en ek en Herrie het die klomp daar gelos terwyl ons afsprake met ander mense in Londen gehad het. By Piccadilly Circus het ons vir Jacs ontmoet (my baas in SA) wat in Oxford was vir die week en het so uurtjie saam gekuier waarna ons ons vergaap het aan 'n jong "street performer" langs die Eros beeldjie, se fenominale "beatbox" talent! Hierdie ou gebruik NET sy mond, ongelooflik! Die middag het ons 'n ou vriendin van Herrie, Tessa, ontmoet vir 'n drankie en het lekker geselsies in Soho gemaak.
Piccadilly Circus saam Jacs

"Brilliant Beatbox" - Turn up the volume!

5 ure nadat ons die maats by die restaurant op die Teems Rivier gelos het, ontmoet ons hulle weer daar en kuier vir nog 5 ure saam! Oppad huistoe het ons 'n draai gemaak by 'n ander kuierplek waar Vita nie die geselskap van die Iere langs ons waardeer het nie... Die meisie is 'n haarkapper en het vir hom gesê dat 'n tannie van 80 laas week vir haar gevra het vir dieselfde haardos as dit waarmee hy spog!

02h00 uur vat ek, Herrie, Vita en Pamps 'n "black cab" na Vita se hotel want ons het besluit dis te vêr na Pampoen se huis in Hatfield so die 4 van ons het 'n kamer gedeel! Na 'n opwindende 23 uur dag bederf klaasvakie ons met 'n diep slaap wat Pamps se snorkies nie eers kon versteur nie!
Hier het ons gekuier, 14h00 en weer 24h00!

Na 'n vrugte ontbyt - dankie Pampoen - verken ons Londen se strate en die 3 manne laat my toe om 'n volle uur in die mees fantastiese winkel te spandeer: Liberty! Wow! My vriendin Meredith het my soontoe gestuur en op 'n manier haat ek haar daarvoor want dis die mooiste 5 verdieping gebou gevul met als wat ongelooflik mooi en belaglik duur is! Ek't 'n serpie gesien waaroor my sussie Carien sou mal wees maar teen 245 pond moes hy maar liefs op die rak bly.
Liberty of London... LOVE!

So opgewonde soos ek oor goed in Liberty geraak het, so was die drie manne in Hamleys: For over 250 years the Finest Toy Shop in the World...  As mens kyk na die foto hier links onder moes dit iets ongeloofliks fasinerend wees waarna hulle staar!  Wat was dit?  'n Demonstrasie van kryte!
Wat hulle egter die meeste geinteresseer het was die speelgoed helikopter wat regs onder bo-oor Herrie se kop sirkel.
Hamleys... Maak seuntjies van volgroeide mans!

Dit was 'n fantastiese sonskyndag en ons het die stad plat gestap en na die Big Ben, Houses of Parliament en die London Eye gaan kyk en het afgesluit by London Bridge. Oppad het ons by 'n uitstalling van die Oos-Kaap afgekom en dit was lieflik om in London - 'n ongelooflike wêreld stad - te wees en te sien hoe ander toeriste ons pragtige land waardeer!
Londen Lekkerte...

Ons het ook deur 'n "flashmob" gestap onder die Waterloo Bridge waar klomp mense by 'n 2de handse boek verkoping spontaan begin sing het en 'n ou man kom op sy fiets verby gery, stop en val in uit volle bors, ens. Dit was 'n lekker ervaring om dit in die regte wêreld te sien gebeur!  Ek't 'n kort video geneem (hy is hier onder ingesluit) maar het hier ook 'n video daarvan ontdek: http://www.youtube.com/watch?v=KEvAN5VfZJw "Folk Flashmob: Waterloo Bridge, 02 October 2011, in which a large number of singers gather by the bookstall to surprise the English with their own music. "Pleasant and Delightful" and "Lowlands" were the songs. "
Flashmob - die kort video wat ek geneem het

Ons het afskeid van Vita geneem en begin pendel na Pamps se huis waar 'n lekker boerworsie gewag het wat hy spesiaal vir ons kuier bestel het. Opgewonde het ons aartappels en groente gekoop sodat ek vir ons "mash & sheba" daarby kon maak maar toe ons in nr 7 Barlow Close aankom was die hel los want die nuwe inwoner uit Zambië het die wors uit die yskas gehaal en op die toonbank vergeet vir die naweek! Die dominos pizza wat toe die honger gestil het was amper so lekker soos die wors sou wees :-) In die taxi vanaf die stasie na Pampoen se huis het die drywer haar selfoon met 'n "handsfree kit" geantwoord en toe sy vir die persoon op die lyn 'n vraag vra, het Pamps geantwoord! Ons almal het lekker gelag en net daarna vra sy nog 'n vraag en toe antwoord Herrie haar! Toe wonder ek nogal waarvoor hy gelag het na Pampoen se blabs?!

Ek en Herrie het Maandag vir Pamps gegroet en die trein na Oxford geneem en ek het my verwonder aan die pragtige London Paddington Station waar ons op 'n ander trein moes klim. Ek't intussen uitgevind dat Paddington Station die Londen terminaal van die Great Western Railway was sedert 1838 en 'n groot gedeelte van die huidige stasie bestaan sedert 1854! Hierdie stasie het ook geskiedenis gemaak deur die oorspronklike ondergrondse stasie te wees van die wêreld se eerste moltrein, wat in 1863 die lig gesien het - "pun intended".
Paddington Station - die ou foto's heel bo en onder links dateer uit die 1940's en 50's

OXFORD
In Oxford het ons die kar opgelaai wat vir die volgende week ons nuwe vriend sou word en 2 ure in hierdie stad was genoeg om 'n groot indruk op ons te maak! Ons het ons verkyk na al die mooi ou geboue, netjiese tuine, vele biblioteke en kerke. Nog 'n oulike winkel, Cath Kidston, het my spyt gemaak dat ek nie hierdie jaar werk nie :-)
Oxford strate en die University Church of St Mary the Virgin
Pragtige biblioteek in Oxford

Die hoogtepunt van Oxford was verseker die Christ Church College waar dit voel of mens jare terug beweeg het. Ek het deur die hek geloer na die tuine agter die College, en waarmee hou studente in die Engelse Platteland hulle besig op 'n warm herfsdag? Croquet! Soos dit die prentjie in my kop betaam. 
Christ Church: Oxford's Unique Foundation of College and Cathedral

ENGELSE PLATTELAND
Terug in die kar het ons die gps gevra om ons via die Cotswolds na Cardiff te lei en ons het vinnig in Bibury gestop - 'n pragtige middeleeuse plekkie langs water.
Bibury

In Painswick het ons gaan kyk na die grafstene en 100 gesnoeide "yew" bome wat rondom die St Mary's Kerk geplant is. Daar is al die jare geglo dat indien die 100ste boom geplant word, die duiwel hom sal kom vernietig, maar met die nuwe millenium is boom nr100 tog geplant en tot nou toe was daar nog geen teken van die bose een nie.
Painswick

Ons het ietsie gedrink by The Falcon Beacon en weer in die pad geval na Cardiff.
Julle kan binnekort in ManneWALLIS!! lees van 'n kaal kok, ses duisend skape en 'n sprokieshuis op 'n rivier...
Oppad na Wallis...

x


2 comments:

  1. Hi Herrie en Anel! [Pampoen en Vita ook - hoop julle lees darem wanneer julle in 'n privaat tabloid verskyn]. Flippen mooi foto's. Julle trip klink bef**(ok).

    Marais

    ReplyDelete
  2. Marais, dit was lekkerder as wat dit klink :-) Samuel Johnson het in 1777 al gesê: "When a man is tired of London, he is tired of life!" Wonderlik dat mens vandag steeds so kan voel!

    ReplyDelete