Monday, October 24, 2011

Daai week toe hy in Italië en sy in Duitsland was...

My en Herrie se paaie het 06h00 die 22ste September op Rotterdam Centraal Station gesplit: Ek was oppad na Gräfenberg via Utrecht & Frankfurt en hy na Portofino via Schiphol & Milan.

Hertzog het saam met die RSM Sailing Club aan 'n regatta in Portofino gaan deelneem en ek het 'n vriendin se troue gaan bywoon in Gräfenberg, die klein Duitse dorpie waar ek in 2005 gebly het. Dit was so toevallig en onnodig dat hierdie 2 goed op dieselfde naweek geval het en ons het maar besluit dat ons beide moet bywoon.

Siende dat ek nie op die regatta was nie, kan ek niks daaroor skryf nie, maar Herrie het my belowe hy sal foto's neem en het ingestem om 'n "guest appearance" op my blog te maak en julle self daarvan te vertel!

Goed, ‘n "guest appearance"? Kom ek probeer hierdie blog ding...

So ek en Anel het mekaar gegroet op die stasie en ons is in ons aparte rigtings. Ek ontmoet my groep mense op die lughawe en ons vat die pad na Milan met Easyjet. Daar aangekom gaan kry ek en Yannis die karre wat hy vir ons bespreek het. Nou dis waar ons die eerste klein probleem teëkom met die feit dat ons 12 mense is in ons 2 karre! Die griek Yannis sê net dis geen probleem nie. Ek gee toe dat die een kar ‘n minibus was, maar die ander een was ‘n nano grootte Citroën. Na klomp meet en pas is almal en ons bagasie in en is ons oppad na Genoa en Portofino - ek bestuur die nano Citroën en Yannis die minibus. Dit het ons omtrent 3km gevat om mekaar te verloor op die hoofpad!
Kinderlik opgewonde!

Ons kar gaan toe maar na Marco se huis toe in Genoa om goed daar op te tel en hy laat ons onmiddelik die focaccia proe waarvoor die area so bekend is – baie lekker! Na bietjie rondloop daarso, gaan ons na Santa Margharita Ligure waar die regatta plaasvind. Hier check ons in ons boot in en kom agter als gaan baie hooipolooi wees. Rolex borg die hele affêre, daars aperetifs in ‘n kasteel, ‘n konferensie in ‘n 500 jare oue katedraal ens. Ook maar bly ek het toe daai "black tie & suit" ingepak soos hulle gevra het anders moes hierdie boertjie in sy plakkies en swembroek rondloop tussen die klomp pikkewyne in hulle tuxedo’s!
Sjoe, fancy pancy...
Portofino - Prentjie mooi!

Die seil self was oor 2 dae met min of meer 3 regatta’s elke dag, afhanged van die wind situasie. Ons het almal ±40ft seiljagte gehad om mee rond te jaag en dis dan ook waar jy in die aande slaap. (Ek en Christos het maar buite op die dek geslaap want die "cabins" raak maar knap as mens so styf teen ‘n ander man moet lê! Gelukkig was dit nog lekker warm in hierdie deel van die wêreld gewees.)  

Ons oranje boot was nou nie die hoog aangeslaanste boot met die meeste ervaring gewees nie, maar ons het wel die meeste Grieke gehad en dis altyd pret en interessant! Ons was dus partykeer redelik blatant amateuragtig gewees (soos die eerste resies toe ons so bietjie vergeet het die resies gaan eintlik al amper begin en ons dog ons kan daarmee wegkom om die enjin bietjie aan te sit en so bietjie ‘n hupstoot te kry oor die wegspring lyn… daai Italiaanse "race committee" jakkalse het goeie oë en hulle ruik ook daai diesel van ‘n myl af lyk dit my! Hulle val ook nie vir ons plan om almal so “Brrrrrrr” met ons monde te maak om die klank van die enjin weg te steek nie.) Tussen die resiese spring mens maar af en swem rond en ons het weer ons "mascot", Dolfie, saamgevat en lekker saam met hom rondgeswem en gestoei.  Ons het toe nou nie die seil gewen nie, maar ons het onsself darem goed van ons taak gekwyt in die A divisie deur nie heel laaste te kom nie (daar was 2 divisies, met omtrent 25 bote elk, en omtrent 500 mense van 21 verskillende MBA skole van reg oor die wêreld).
For the fun of it...

Ons het onsself wel baie geniet oor die 3 dae in Italië. Die weer was lekker, daar was lekker geselskap, baie oulike goed gereel deur die gasheer skool, baie interessante mense van reg oor die wêreld en almal baie lus vir groot partytjie. Verseker die moeite werd gewees en net nog ‘n lekker ding om te onthou van hierdie ongelooflike jaar oorsee!
Die Oranje RSM Boot

PS. Natuurlik het dit ons weer omtrent 3km gevat om mekaar te verloor oppad terug Milan toe, maar na bietjie hare kloof en ‘n klomp “Ade gamisou malaka’s” (dis Grieks vir iets wat eerder nie Afrikaans wil se nie, so sê maar net vir jouself "it's all greek to me")het albei karre daar aangekom en NET NET ons vlug gemaak… "Never a dull moment" saam met die Grieke!
Die Grieke - gotta love them!

Nou my beurt om te vertel van Duitsland en die troue wat ek bygewoon het!  Gräfenberg is 'n klein dorpie (3.7ha met 4000 mense) ongeveer 20km buite Nürnberg in Bayern geleë en ek het 'n jaar hier spandeer ná my studies op Potch as 'n intern by omgewingskonsultante.  Ek was 21 toe ek braaf in 2005 met my 23kg tas die eerste keer in Gräfenberg gekom het, en die eerste paar weke was baie moeilik want ek kon nie 'n woord Duits praat nie en in die plattelandse dorpies is Duitsers baie sku om Engels te praat want hulle het geen selfvertroue nie.  Stadig maar seker het dit beter geraak soos ek begin Duits leer en maats gemaak het en na 'n jaar het hierdie plekkie en sy mense so diep in my hart gekruip dat ek baie swaar aanbeweeg het Brussels toe waar ek 2006 spandeer het.  Opgewonde het ek vir 7 ure op die trein uitgesien na die "trip down memory lane" en al die ou gesiggies, "Frankonian" disse en reuke op die bekende sypaadjies wat in Gräfenberg op my wag!!

In Duitsland trou mens voor die gereg, "standesampt", en dan ook tydens 'n seremonie soos ons dit ken in 'n kerk of tuin. Marina & Frank is my maats wat getrou het en hulle "standesampt" was Donderdag middag by die stadsaal, "Rathaus", en dis daar waar ek vir die eerste keer in 5 jaar weer al my maatjies gesien het! My beste vriendin destyds, Andrea Kasch, en haar familie het my altyd by als betrek en ek moes swaar sluk toe ek haar Ma, Gertrud weer sien! Die Kasch familie is baie musikaal en die 3 kinders: Andrea, Franzi en Christof het tydens die "standesampt" opgetree. Na afloop van die "standesampt" is dit tradisie onder die Duitsers dat die bruidspaar die naaste familie en vriende uitvat vir ete en ons het lekker gaan eet in Igensdorf, 'n nabygeleë dorpie.  

Die video hier onder is van een van die liedjies wat die Kasch trio gesing het, asook foto's van die "standesampt", voorbereiding vir die groot dag en die kerklike seremonie die Saterdag.  Dis sommer uit die hoek van die vertrek met my mik en druk geneem en ek't die hele eerste vers uitgesny en die inleiding en vers 2 weer aanmekaar geplak sodat dit nie te lank of te groot is om af te laai nie, so verskoon asb die skaafplekke, ek leer nog :-)


Ek vertel sommer gou eers klaar van die troue voor ek oor die res van my tyd in Gräfenberg praat.  Heel aan die einde van die kerkdiens het my maatjies as verrassing vir die bruidspaar, "Siyahamba" gesing en dit was die eerste keer tydens die hele seremonie waar ek maar 'n tissue moes uithaal... Afrika klop sterk in hierdie hart! Die kerklike seremonie het reeds 12h00 Saterdag begin waarna alle gaste koek en tee by die onthaallokaal geniet het en dan is dit gebruiklik dat alle gaste die hele middag saam spandeer tot aandete bedien word.  Ek kon my nie indink wat ons die hele middag gaan doen tot dit donker raak nie maar 2 van die gaste het 'n helder oomblik gehad en besluit om by die schnaps plaas op in die pad 'n draai te gaan maak en kort voor lank volg die bruid en die ander 69 gaste in hul spore!  Die boer se vrou was baie verbaas om soveel mense in hul mooi-moois op haar stoep te sien maar het ons spontaan ingenooi en gou is daar tafels uit 'n skuur gehaal en opgeslaan en Marina se pa het 4 bottels schnaps vir die gaste bestel!  Die kinders by die troue het dadelik met die plaaskinders maats gemaak en begin ry op die kalfies en toe ons weer sien hang die son al laag en is dit tyd om terug te keer onthaal toe vir aandete...  Oe, ietsie vreemds wat ek gesien het is hoe een koei so boog gepiepie het en 'n ander drink dit toe sommer so direk uit die lug uit!  ERG grillerig, maar soooo snaaks gewees :-D

Spontane Schnaps probe... net in die platteland!

Tradisionele "sauerbraten mit kloss & blaukraut" was van die geregte op die spyskaart en my mond water alweer deur net daaraan te dink!  Daar is ook gedans en lekker gekuier soos op Suid Afrikaanse troues na afloop van die ete en die ruiker en kousband is ook gegooi, maar anders as by ons is daar deur die loop van die aand 'n hele paar speletjies gespeel waarby die gaste betrek is en van dit was nogals regtig pret.  Vir my was die grootste vermaak egter deur "Jurgen's Sound Express" verskaf...  nie omdat hierdie "one-man-show" wat klavier speel en sing so besonders goed was nie, maar omdat hy die klassieke fout gemaak het wat alle stereotipe Duitsers maak deur die Engelse "THE" met "ZIE" te vervang! Ongelukkig was daar niemand by die troue wat die paar Engelse nommertjies wat hy gesing het so baie soos ek kon waardeer nie... maar toe hy Vengaboys se: "My heart goes shalalala shalala in ZIE morning.... in ZIE sunshine.... in ZIE evening... Shalalala shalala just for you!" gesing het was ek byna histeries!
Lekker eet, lag en dans...

Die res van my naweek was eintlik baie nostalgies en ek't al my gunsteling hoekies van die dorp gaan besoek en soos oudergewoonte by die bakker en slaghuis gedraai en met my proviant onder die arm die koppie uitgeklim om bo by die "Denkmal" te gaan poskaarte skryf!  (Dis ongelooflik dat sulke plekke nog bestaan, maar omdat die winkels tussen 12h00 en 14h00 toemaak, kon ek vir my 'n lemoen op die groentewinkel  se sypadjie vat en net die 20 sent in sy plek los!)   Ek't een oggend na my ou woonstel gaan kyk en deur die woud en al langs die ou padjie af dorp toe gestap soos ek elke oggend vir 'n jaar lank gedoen het  (soms in dik sneeu en ek onthou nog dat my koudste oggend daai tyd -22ºC was) en het vir 2 ure by my ou kantoor saam met kollegas gaan kuier!  Alles was presies dieselfde maar tog anders?!  Ek't tot die besef gekom dat ek baie dankbaar is oor alles wat die afgelope 6 jaar in my lewe gebeur het en ek kon in die Gräfenberg dae maar net wens dat my familie en vriende gespaar sou bly, dat ek die man van my drome sal ontmoet en dat alles in my lewe so goed sou uitwerk soos dit nou het... Ek is vreeslik geseënd!

Saam met al die ongelooflike gelukkige oomblikke om almal weer te sien en die oorweldigende emosies van dankbaarheid wat ek hierdie naweek beleef het, was daar ook 'n tikkie hartseer... Een van die mense vir wie ek baie lief was het intussen skielik siek geword en is oorlede in 2007.  Dis was baie moeilik om Manfred se vrou, Sigrid, en kinders aan wie ek almal baie geheg was weer te sien want hy was altyd daar om saam met ons te kuier en te lag en met 'n swaar gemoed het ek hom gaan groet waar hy nou in Gräfenberg se "Friedhof" lê...  
Al my gunsteling plekkies in Gräfenberg...

Huis bou in Suid Afrika is redelik algemeen sodra mens getroud is en die woonstel te klein begin raak soos die babatjies hul verskyning maak... maar huis bou in die Duitse platteland is 'n perd van 'n ander kleur!  Hier word ook huis gebou, maar voor mens trou en ek neem aan dat dit seker sin maak so want van wat ek hoor sal jou huwelik byna enige iets oorleef as hy eers deur die pyne van huis bou is.  Maar wat ek so merkwaardig vind van huis bou in Gräfenberg, is dat die huiseienaars fisies in spring en SELF bou!  Dit help seker dat die huise oor die algemeen kleiner hier is as dié in SA, maar stel julle voor om elke dag na werk vir enige iets tussen 2 tot 5 ure nog te moet bou, naweke ingesluit!  Tawwe mense hierdie hoor, ek haal my hoed af vir hulle.  So is twee paartjies wat ek ken in Gräfenberg tans besig met huis bou: Daniel & Katrin en Marina & Frank (die bruidspaar).  Ek het na die boupersele gaan kyk... so opwindend!!
 Daniel & Katrin se huis in wording

Frank & Marina se huis in wording

Ek't ook afsprake met al my vriende en families gehad wie nie by die troue betrokke was nie en die sosiale kalender was nogals taamlik vol!  Ek't so uitgesien na 'n kuiertjie by Andrea se ouma by wie ek destyds elke week 'n draai gemaak het, maar groot was my teleurstelling toe Ouma Annie my van geen kant meer ken nie :-( Sy't nietemin lekker saam my koffie gedrink terwyl ek probeer het om haar geheue te prikkel en het ingestem om saam met my en Gertrud te sit vir 'n foto :-)
Ouma Annie & Gertrud

Die aand voor die troue het al die maats ook bymekaar gekom en ons het om 'n groot bonfire gekuier en broodjies gemaak met Nürenberger Bratwürste... hmmm!  Ander kuiers het 'n aand saam met Sigrid en haar kinders en hulle families ingesluit, ai ek is lief vir haar!  Ek't ook 'n heerlike aandete saam met Doris en haar familie geniet, asook 'n tradisionele Sondagmiddagete van Schnitzel (hoender, vark & kalkoen) en kartoffel salat by Familie Kasch!  (Gelukkig het Ouma Annie my nou herken!)  Ná ete het ons schnaps gedrink wat Pa Jürgen self gemaak het!  Almal se kinders het so groot geword en dit was so lekker om weer saam met almal te kuier... regtig asof ek nooit hier weg was nie!
Mense van my hart!  
v.b.n.o en l.n.r: Maats, Sandra, Sigrid & Familie, Doris & Familie en Jürgen met sy schnaps!

Sondagmiddag het ek en Franzi in die kersiewoud gaan stap en toe het ons 'n "mauer fest" bygewoon wat sommer die oggend deur 'n paar bure gereel is ter ere van die ou stadsmuur! Christof en Franzi het by die "mauer fest" vir my 'n liedjie gesing omdat my kuier in Gräfenberg weer einde se kant toe gestaan het :-) 
Andrea & Franzi Kasch by die "Mauer fest" en in die kersiewoud!

Dinsdag oggend toe ek my tassies pak het Marina en haar Ma Sylvia my met 2 vars gebakte kaaskoek harte verras wat hulle vir my en Herrie ingepak het, asook 'n hele boek vol Dr. Oetker kaaskoekresepte... hulle het onthou, ek is mal oor kaaskoek!  Dit was so spesiaal...

Hierdie was 'n wonderlike trip en ek het weer besef dat 'n groot deel van my hart in Gräfenberg lê...  'n deel van my lewe wat ek baie graag met Hertzog sal wil deel en daarom gaan ons probeer om gou weer daar te draai voor die einde van die jaar... 

Gute Nacht!
x

3 comments:

  1. Lovely travels! Life is good, eh? xo

    ReplyDelete
  2. The best Mer... we are SO blessed! x

    ReplyDelete
  3. AI prentjie mooi soos altyd met geurige en kleurige vertellingtjies...

    xxxxtanja

    ReplyDelete