Monday, July 18, 2011

B vir Baltics!

Goeie more!

Soos julle weet was ek en my niggie, Rita, vir 'n week saam op vakansie na afloop van my nefie se troue in Bergamo.  Ons het in die Baltics gaan toer: Estonia, Latvia en Lithuania...  lande waarvan ons voorheen niks geweet het nie wat die opwinding net soveel groter gemaak het!

[Ek vra om verskoning dat hierdie nuusbrokkie so lank is maar daar is net so baie wat ek julle van hierdie fasinerende lande kan vertel - lees hom maar tydens jou koffiebreuk of oor middagete :-)  As jy nie lus is om deur als te lees nie, doen jouself net een guns en kyk na die laaste video clip.]

ESTONIA - Tallinn
Dis die Sondag na Derek & Francesca se troue en na 'n heerlike "brunch" saam met die familie en trougaste vertrek ek en Rita na die lughawe waar ons op 'n Ryanair vlug na Tallinn klim.  Dit was 30 grade + in Milan maar soos ons oor Oostenryk vlieg kon ons sneeu op die bergtoppe sien!

Dit reen in Tallinn en Dimitri bied aan om ons in sy taxi na Hotel Telegraph te neem.  Soos Tripadvisor, kan ek verseker die hotel aanbeveel want hy is in die hartjie van die oudorp en ons het heerlik daar gebly.
 Hotel Telegraph

Die aand is nog jonk en ek en Rita gaan stap 'n draai opsoek na ietsie te ete.  Oppad restaurant toe en terug en tydens die uur wat ons geëet het, het ons nie minder nie as 3 keer geskok omgekyk as iemand uit volle bors begin sing!  Gou het ons besef dat ons die enigste 2 mense is wat hierdie gesing vreemd vind en terug in ons hotelkamer het die Lonely Planet ons vertel dat sang 'n groot rol gespeel het in die onafhanklikheid van die Baltics.

Hier volg gou bietjie geskiedenis: In 1988 het 300 000 Estonians (30% van die bevolking) in Tallinn bymekaar gekom om te sing vir hul vryheid en in 1989 het 2 000 000 mense 'n menslike ketting gevorm van Tallin, deur Latvia tot in Vilnius wat die hoofstad van Estonia is en hulle het almal gesing, as't ware 'n "singing revolution".  Op 06 September 1991 is die Baltic State deur die USSR onafhanklik verklaar!

Oor die volgende 2 dae verken ons Tallin en sy pragtige oudorp. Tallinn is as "Culture Town 2011" aangewys en sonder dat ons dit enigsins beplan het was daar toevallig 'n fees aan die gang (Tallinn Treff Festival) tydens ons besoek en die atmosfeer was betowerend!  Daar was volksdanse in die Raekoja Plats en ons het vir so uur gesit en lag vir die klomp ou tannies (en ooms in van die spanne) wat vêr gereis het en senuagtig opgewarm het vir hulle groot oomblik.  Ons gunsteling groep was die "strikkoppe" soos Rita hulle gedoop het!
 Die Strikkoppe

Nadat ons wild geklap en die Strikkoppe aangemoedig het sit ons en wonder hoe jou Ma te werk sou gaan as sy so groep wou stig.  Daar moet musiek gekies word, danspassies moet uitgewerk word, klere moet gemaak word... al hierdie takies is redelik maklik.  Dan sal hulle ook verlof moet vat vir die week wanneer hulle in Estonia moet deelneem en vervoer moet gereel word... steeds alles haalbaar.  Maar die uitdaging gaan wees waar sy nog 4 ander vrouens gaan kry wat haar passie gaan deel, wat nog te sê 24?! (Want dis hoe groot van die groepe was).  Dis wanneer mens so na hierdie dinge begin kyk dat jy besef hoe vreemd dit eintlik is!

Ons het later 'n groep jongmensies raakgeloop wat verseker drama studente is.  Hulle was wit geverf en elkeen so opgevang in sy of haar rol dat ons hulle vir ure bewonder het terwyl hulle die mense op straat vermaak.  Daar was 'n bruid, 'n fotograaf, 'n hasie, een met 'n vangnet, 'n nar, 'n malle in 'n "straitjacket" wat uit 'n inrigting ontsnap het - om die waarheid te se, hulle almal het bietjie mallerig voorgekom!
 Mal wit mensies


Orals in die stad is daar gemaklike stoele met 'n tafeltjie of laaikas met koerante uitgesit vir as jy bietjie wil sit en lees... te oulik.  Stel jou voor hulle probeer dit in Pretoria, sommer gou is 'n man se huis gemeubileer!
Stoele en tafeltjies orals in die stad

Tallinn is 'n vreeslike kunstige dorpie en die handwerk wat in die winkels verkoop word herinner my aan goed wat mens by 'n vlooimark in SA sal kry.  Die meeste winkels verkoop houtwerk, of amber want dit is hier volop, asook hoede is baie gewild.
 Hoede te koop

Meeste van die winkels is onder straatvlak geleë en mens moet met baie styl trappies en deur klein deurtjies sukkel om in die winkels te kom!
 
Styl trappies en lae deurtjies om in winkels te kom

Die mense leef nogals primitief en hier en daar vind jy nog iemand op straat in ou tradisionele drag.  Ons was baie beindruk deur die manier hoe winkels hulself adverteer het teen die mure buite die winkels deur middel van 'n kunstige staal embleem soos van die voorbeelde hier onder:
Pragtige naambordjies voor winkels

Nog iets wat ons van Estonia geleer het wat selfs vreemder as die "singing revolution" is, is dat daar in 2007 'n "cyber war" was!  I kid you not!  Ek sluit vir julle stukkies uit 'n koerantberig in:
"A three-week wave of massive cyber-attacks on the small Baltic country of Estonia, the first known incidence of such an assault on a state, is causing alarm across the western alliance."... "While Russia and Estonia are embroiled in their worst dispute since the collapse of the Soviet Union, a row that erupted at the end of last month over the Estonians' removal of the Bronze Soldier Soviet war memorial in central Tallinn, the country has been subjected to a barrage of cyber warfare, disabling the websites of government ministries, political parties, newspapers, banks, and companies."... en ""We have been lucky to survive this," said Mikko Maddis, Estonia's defence ministry spokesman."
Ander woorde wat in hierdie berig gebruik is sluit "cyber-terrorism", electronic defences", "warfare" en "military action".  Ons het aanvanklik hieroor gelag, maar het later besef watter ernstige implikasies dit op 'n land kan he...

Al was Tallinn lank onder Russiese beheer het die stad ons baie aan Skandinawië laat dink en mens is net 'n kort bootrit van Helsinki af.  Soos Skandinawië is Tallinn ook baie vêr noord geleë en al was dit nie hoogsomer toe ons daar was nie, was dit nie voor 23h30 saans donker nie!  Die kos het 'n sterk Duitse invloed en vark en sauerkraut was orals op die spyskaart.

Ons het na die talle uitkykpunte oor die stad gestap en êrens langs die pad vra Rita dat 'n verbyganger van ons 'n foto neem en sê so half vir haarself: "moenie ons kamera steel nie", waarop die man antwoord: "ek sal nie!"   Die oudorp word omring deur 'n muur, daar is steeds 'n kasteel, vele nou straatjies en verskeie mooi kerke en ander toeriste aantreklikhede (o.a die fotografie museum) waarna ons gaan kyk het.
 Tallinn in al sy glorie

Ek weet nie of die Aptekers onder julle hiervan bewus is nie, maar die Raeapteek in Tallinn is een van die oudste werkende apteke in die wêreld en bestaan vanaf 1422 af!  Ek en Rita het daardeur gestap en ek sluit vir julle paar skokkende foto's in van bestanddele van die medikasie daai tyd... Omdat die foto's klein is sal ek vir julle die onderskrifte hier tik en ek haal aan: "According to the TAXA (pricelists) all these things were sold in Town hall Pharmacy in 1695".  Dit sluit in: "sun-bleached dog faeces", "dried deer penises" en "mummy fragments"... EEUW!
Raeapteek - sedert 1422

Die laaste ding wat ek van Tallinn wil sê voordat ek jul van Riga gaan vertel is dat daar pragtige deure is!  Ek weet dat Dublin vir sy mooi deure bekend staan maar ek glo dat Tallinn net 'n kort koppie agter is.
Pragtige deure van Tallinn

LATVIA - Riga
Omdat daar nie 'n trein is wat Tallinn met Riga verbind nie moes ons bus ry en wat 'n aangename ervaring!  Ons het so baie plek gehad, met lugversorging, iets te ete ens.  Die man langs ons het vir die volle drie en 'n half ure hard op sy laptop gewerk en het verskeie hardeskywe en USB stokkies gehad wat voortdurend in en uit geprop is... ons was oortuig daarvan dat hy 'n soldaat in die voorry van die "cyber war" was :-)
Busrit na Riga

By Riga stasie aangekom besef ons dat vrouens hier anders aantrek as in Tallinn... weg is die tradisionele rokke en in is die mini's - hoe korter hoe beter!  Die interessante ding is dat almal vleeskleurige sykouse onder die mini's dra en elke derde vrou se hare is in 'n lang vlegsel.

Pavel vat ons met sy taxi hotel toe en ons besluit dat daar van nou af na alle mans in Riga as Pavel verwys sal word :-)  By die hotel aangekom is daar 'n groot bohaai met polisiemanne en sekuriteitswagte orals en ons vind uit dat Prins Albert van Monaco ook die aand daar oornag!

Die volgende oggend word ons by ontbyt verwelkom met 'n glas sjampanje en 'n pragtige koek - sonder dat Rita enigsins iets gesê het, het die vrou by ontvangs wat die vorige middag tydens "check-in" 'n kopie van my paspoort gemaak het besef dat ek die volgende dag verjaar!  Ek word heeldag deur verskeie personeellede van die hotel geluk gewens en ontvang verskeie emails en boodskappe van gelukwensing van die huis!
Verjaarsdagkoek!

Ons was oppad na die voordeur van die hotel om ons eerste dag in Riga te geniet toe Prins Albert vir ons waai - 'n spesiale verjaarsdag bederfie!  Ons het ook later op 'n seremonie by die Freedom Monument in die stad afgekom wat die rede was vir sy besoek aan Riga en die snaakste tydens die hele formele storie was om te sien hoe een van die soldate die een voor hom se kraag regtrek en die soldate wat op "rubber ducks" die rivier gepatroleer het!
Prins Albert in Riga

Soos Tallin, was Riga vir jare deur die Nazi's en Soviet Unie onderdruk en die regering van Latvia het baie ver gegaan om in die laaste jare alle spore van hierdie donker tydperk in hul geskiedenis te verwyder.  Een gebou, die "Museum of Occupation" is egter agtergelaat om die kontras tussen die grou Soviet geboue en die ander geboue in die res van die stad aan te dui.  Op die foto hier onder is die kontras tussen die Museum of Occupation en die House of Blackheads (links) baie duidelik.  Laasgenoemde was 'n koshuis vir die Blackheads gilde van ongetroude Duitse handelaars en is in 1344 opgerig, in 1941 tydens die oorlog verwoes, later deur die Soviet Unie platgeslaan en in 2001 weer  in sy voormalige glorie herbou vir Riga se 800ste verjaarsdagvieringe!
House of Blackheads en die Museum of Occupation

Ons het orals in die strate mense met klein bossies blomme sien rondstap en het later uitgevind dat jy nêrens besoek gaan aflê sonder om 'n bossie blomme te vat nie.  En dis baie belangrik dat dit 'n onewe getal blomme moet wees, want ewegetalle is slegs vir begrafnisse bedoel!

Hulle se Riga is die Parys van die Noorde... en dis wel pragtig maar ek weet darem nie of dit met Parys vergelyk kan word nie!  Ons het vir 'n paar minute op die oewer van die Daugava rivier gesit en 1 of 2 romantiese paartjies gesien.
Riga: Parys van die Noorde

Ons sien 'n ouvrou op 'n straathoek dans, sonder enige musiek!  Haar vriende sê seker altyd vir haar dat sy talent het en sy't besluit om te kyk of dit vir haar 'n geldjie kan inbring - sy't ons oortuig!

Op ons eerste dag kon ons amper alles tiek wat 'n toeris in Riga moet sien! 

 Kerke, kastele, beelde, monumente... van Riga

Laatmiddag het ek oor 1 van die 3 brue wat die ooste en weste met mekaar verbind na die ander kant van die Daugava rivier gestap en die kalmte van die water waardeer.
 Daugava rivier en die 3 brue waar jy kan oorsteek

Die volgende oggend het ons by die mark afgeskop en daar was pragtige blomme en die mooiste groente: reusagtige pampoene en die rooiste tamaties.  Ons het 'n paar interessante hair-do's (of liewer hair-don'ts) gesien maar die tannies met die mullets het die koek gevat!
Riga is wêreldbekend vir sy Art Nouveau argitektuur en meer as 750 geboue pronk met hierdie boustyl!  Ek en Rita het besluit om strate te verken opsoek na van hierdie geboue en daar word gesê dat as mens vra waar om hierdie geboue te kry die antwoord 90% van die tyd sal wees: "kyk op!"
Ons stap Riga plat!
Art Nouveau in Riga

Ons 2de laaste aand in Riga gaan kyk ons na die Latvian National Symphony Orchestra in die Petera Baznica - "Riga's skyline centrepiece: Gothic St Peter's Lutheran Church".  Die musiek het ons skoon tranerig gehad en ek het 'n volle 2 ure gehad om vir almal wat vir my lief en dierbaar is, naby of vêr, te bid... die atmosfeer was ongelooflik!

Terwyl ons vir 20h gewag het om by die kerk in te gaan vir die konsert het ons gou 'n cocktail gedrink by 'n nabygeleë restaurantjie en het 'n baie interessante ontmoeting tussen 2 mense wat by die tafel langs ons gesit het waargeneem.  Die ruiker in 'n emmertjie op die tafel en 'n man en vrou wat handjies vashou het dit na 'n normale "date" laat lyk.  Sinne soos "you will like it in London", "I ordered us some books that we can read about our different cultures so that we have something to talk about", hy: "you will note that I don't nag you" sy: "what does nag mean?"  Hoe meer ons geluister het, hoe meer wou ons hoor!  Sy van Latvia, hy van Engeland.  Gou het ons besef dat dit 'n "Russian bride" opset is en dit was so moeilik om te glo want albei mense was baie aantreklik en in hulle 30's.  Hierdie "mail order" bruide is mos net vir desperate mense, of hoe?!

Op Rita se aanbeveling het ek terug in Rotterdam die boek "Moonlight in Odessa" gelees en bietjie meer navorsing oor die onderwerp gedoen en dit lyk my dat dit in baie gevalle 'n wen-wen situasie is en dat beide partye beter af is met 'n eggenoot uit 'n ander land!  Wel, hierdie tweetjies het baie oulik saam gelyk en ek hoop dat dit vir hulle uitgewerk het... sou graag wou sien hoe hulle storie eindig.

Op daai noot, daar is 'n interessante brug in Riga wat vol slotte is en blykbaar verteenwoordig elke slot 'n huwelik en baie van hulle was selfs gegraveer.
Brug vol slotte

 Ons besluit dat ons nie Riga kan verlaat sonder om die befaamde "Black Balsam" te probeer nie en gaan drink 'n "nightcap" in 'n vierkant waar daar (soos in meeste ander buite areas) 'n groep musiek maak.  Daar was een tannie wat verseker 'n lekkerder tyd as ons gehad het want sy't elke tweede liedjie opgespring en voor die verhoog gaan dans asof niemand vir haar kyk nie :-)  Weer het ons besef watter groot rol sang en dans in hierdie nasie speel!  Ons het gelê soos ons lag...

LITHUANIA - The Hill of Crosses
Ons het besluit dat ons nie al die pad af gaan toer na die hoofstad Vilnius toe nie en het net 'n daguitstappie gedoen na The Hill of Crosses toe op ons laaste dag in die Baltics.  Sergio, 'n jong Latvian het ons kom oplaai en vergesel die dag en het vir ons baie interessanthede oor sy land en die Baltics vertel wat die Lonely Planet nie vir jou sê nie.  Soos dat Latvia se ekonomie deur Swede beheer word en dat hulle polities onder Duitsland val so hul onafhanklikheid is eintlik net op papier!  Dat hulle nie minder nie as 5 keer deur Duitsland gebombardeer is en slegs 1 keer deur die Soviet Unie wat hulle later weer help opbou het en daarom is hulle ten spyte van die kommunistiese era steeds nader aan Rusland as Duitsland.  Ook dat Latvia se geldeenheid een van die sterkstes ter wêreld is maar 300 000 van hulle mense het tydends die ekonomiese krisis in 2007 na Engeland gevlug om in sampioen en hoenderfabrieke te werk.
Lithuania... woo-hoo!

Die Hill of Crosses is in die middel van nêrens, naby Siauliai en daar is duisende x duisende kruise geplant.  Daar is 2 stories wat vertel word oor die oorsprong van hierdie plek: 1) 'n Gesiene man se dogter het baie siek geraak en hy't 'n groot kruis op die heuweltjie geplant en gebid dat sy genees word en toe sy gesond word het baie ander sy voorbeeld begin volg, en 2) daar was 'n kerk op die heuwel met 'n groot kruis op die bopunt en na afloop van een van die vele oorloë het die kerk in duie gestort en al wat nog bogronds sigbaar was, was die kruis en en ter herinnering aan die kerk is daar toe nog klomp kruise om die oorspronklike een geplant.  Ongeag watter storie jy wil glo, bly hierdie 'n ongelooflike plek van aanbidding en omdat daar altyd 'n ligte briesie hier waai vertel die plaaslike inwoners graag dat die wind altyd waai om die gebede bo by die Here uit te bring :-)
Hill of Crosses

My kruisie is geplant tussen geel veldblommetjies

Die Hill of Crosses is 4 keer tydens die kommunistiese era verwoes en keer op keer het mense weer begin kruisies plant.  Oppad huistoe het Sergio vir ons in Jelgava gestop wat die vorige hoofstad van Latvia was en ons het na 'n paleis, 'n universiteit en Jelgava se Russiese Ortodokse Kerk gaan kyk.
Jelgava, Latvia

Ek en Rita is sulke gemaklike reisgenote en het 'n fees in die Baltics gehad!
Dankie my liefste niggie vir 'n onvergeetlike week...

Lekker week almal!
x

6 comments:

  1. Dit weereens vreeslik geniet om "saam" met julle te travel!!! Aanvaar die uitdaging tot die Strikkop - dans groep….. hou vir jou 'n plekkie oop!

    ReplyDelete
  2. Haha Ilze! Dis reg, soek jy solank vir ons nog 23 gewilliges. Ma Lounie kan dalk vir ons uitrustings maak en ek sal solank werk aan die danspassies :-)

    ReplyDelete
  3. Ek is ook in vir die strikkoppe :-) dankie Anellie, voel of ek ook die plekke saam julle gesien het na die LEKKER nuusbrokkie xxx liefde

    ReplyDelete
  4. O… ek sien ons sal moet uitdinne hou vir die Strikkoppe!

    ReplyDelete
  5. Jene vriendin! Amazing lande ... ek sal nou my tassies kan gaan pak en dit alles wil sien! Dis pragtig... Ek luv die kultuur stukkies wat jy van vertel het, klink onvergeetlik! xxx

    ReplyDelete
  6. Sjoe Daardie dansende ou dame se goeie ritme gaan of haar rug beskadig of sy gaan nog lank rond trap. Dit klink regtig of julle n wonderlike tyd gehad het en so baie in die kort wekie kon doen. Ek weet darem nie van die klere maak nie! Ek het n skoondogter wat al goed bedrewe is met lap en stik!
    Liefde uit VTown.

    ReplyDelete