Monday, July 25, 2011

Dis reen, dis wind, dis water... die son kom eers weer later!

Ek wil vir julle ons situasie verduidelik in dieselfde styl as dié van my skoonsus se dogtertjie, Karli, toe sy ons paar jaar gelede vertel het van "Absadom" wat aan sy hare in die boom gehang het waarvan sy by die kleuterskool geleer het.

"Absadom was 'n seuntjie, maar hy het 'n ponytail gehad, maar hy was 'n seuntjie..." - dit was vir haar baie belangrik dat ons daai punt besef: seuntjies kan ook lang hare hê.

Dis somer in Nederland, maar dis nat en koud en onplesierig, maar dis somer!

Ek kon nie wag vir die somer om aan te breek na die lang en koue winter sodat ek bietjie son op my wit vel kan voel nie, maar helaas, my somer sandale en sonrokkies is vir waterskoene en 'n reenjas verruil!  Nie net is dit nat nie, dis ook vriesend en ek het die naweek my skibaadjie uit die boonste rakke moes haal want dit was vandag maksimum 13 grade... maar dis somer.

As Suid Afrikaners besef ons nie altyd hoe gelukkig ons is om in 'n land te bly waar die son elke dag skyn en temperature gematigd is nie, en ek voel dis my plig om julle almal by die huis daaraan te herinner:
Hierdie is 'n weersvoorspelling vir Pretoria en Rotterdam gewees verlede week... let op dat dit WINTER in SA is en SOMER in Holland!!

Goed, genoeg gekla vir een dag :-)  Behalwe vir die weer het ons geen klagtes nie en gelukkig affekteer dit die Hollanders net so baie soos vir ons.  Ek en Herrie lag te lekker vir die Kaaskoppe wat net geen tyd het vir 'n sambreel wat nie in die wind saamwerk nie!  In die week het Hertzog van die tramstop af huistoe gestap en letterlik in die 150 meter wat hy moes aflê op nie minder nie as 16 stukkende sambrele langs die pad afgekom wat sommer net so laat lê is.
Vat so jou stukkende sambreel, haha!

Ek het onlangs besef dat ek meestal op die blog vertel van uitstappies buite Rotterdam en ek skryf dalk te veel oor die speel in Europa en te min oor die bly in Nederland...  So ek het dit goed gedink om van nou af elke nou en dan bietjie meer oor Rotterdam en omgewing te gesels.

Ons het 'n baie sosiale week agter die rug!  Maandagaand het Veronique (Franse meisie wat saam my in die boekklub is) en Danilo (Italiaanse ou in Herrie se klas) by ons kom eet want hulle is volgende naweek oppad Singapore toe vir 5 maande waar Danilo deel is van 'n MBA uitruilprogram en Veronique gaan bietjie rus.  Hulle is beide "space engineers" en werk vir The European Space Agency wat hulle waarskynlik ons vriende met die mees interessante werk maak!

Ek't 'n seekossop as voorgereg bedien en kan die resep graag aanbeveel:
http://www.taste.com.au/recipes/14066/seafood+chowder
(Ek het die resep bietjie aangepas deur 'n ui by te voeg en saam met die groente te kook en ook aan die einde 'n gekapte grasui bo-oor die sop gestrooi).
Hmmm...

Danilo & Veronique

Dinsdagaand het SNAC bymekaar gekom om ons boek vir Julie te bespreek: The Hunger Games!  Die boek is die eerste een van 3 in die reeks en dit lees so vinnig en maklik dat ek reeds nommers 2 & 3 ook bestel het.  Let wel dat as julle hom dalk gaan koop julle na die "young adult" afdeling in die winkel moet gaan :-)

Donderdagaand het 2 van ons vriendinne, Rachel & Joyce by ons kom eet en Thai disse was op die spyskaart.  Rachel is saam met my in SNAC en het Desember van Amerika af hierheen getrek om, nadat hulle vir 3 jaar 'n langafstand verhouding gehad het, by Joyce in Rotterdam te wees.
Rachel & Joyce

Vrydag het Herrie afgevat en ons is Maastricht toe om Andre Rieu in die Vrijthof van sy tuisdorp te sien optree!  Oppad soontoe het ons eers 'n draai in Roermond gaan maak want die student het nooit tyd vir inkopies nie en het klere nodig gehad.

Roermond. Ons het lekker gelag vir Chris Vis en Piet Friet se kafees!

In Maastricht het ons saam met Arden & Terry (wat ook toevallig vir die dag in Maastricht was) gaan uiteet voordat ons na die konsert is.
Arden & Terry in Maastricht

Die Andre Rieu konsert in die Vrijthof van Maastricht was baie besonders want dis sy tuisdorp en hy't regtig aanklank by die gehoor gevind!  Die konsert was baie anders as wat ek verwag het want dis eintlik die ander mense saam met hom op die verhoog wat die aand spesiaal maak en nie noodwendig sy talent as violis nie.  

Hierdie jaar was die mense wat vir my uitgestaan het 'n Suid Afrikaner na wie hy as die "black diamond" verwys naamlik Kimmy Skota, 'n blonde Australiaanse meisie naamlik Mirusia Louwerse en The Platin Tenors.  Die NY Gospel Choir asook Johannesburg Gospel Choir toer ook saam met hom hierdie jaar en ons het lekker gelag vir ons Afrika boeties en sussies!  Daar is een GROOT Mama in 'n oranje pakkie gewees wat so lekker gedans het dat ek regtig huistoe verlang het en een van die booitjies het so groot geskrik op die verhoog toe 'n swart vrou in die NY Gospel Choir begin skree dat hy sommer sy ore toegedruk het :-D

Ek het 3 stukkies video clips vir julle bymekaar gesit van stukke wat ek besonders gevind het.  Die video is die kleinste wat ek hom kon maak sonder dat die kwaliteit té veel beïnvloed word maar dis ongelukkig steeds bietjie groot - tog verseker die moeite werd indien jy dit kan aflaai!

Die reen het ons heel aand geterg en hulle het selfs tydens 'n breuk vir almal in die gehoor plastiek "ponchos" uitgedeel maar gelukkig het net so paar druppeltjies geval!  Dit was so toevallig dat die ou oom & tannie wat langs my gesit het Suid Afrikaners was wat al 34 jaar in Nederland woon en ook die man & vrou wat voor ons gesit het was Suid Afrikaners wat al 3 jaar in Nederland is.  Ons het dadelik die K-Way top gesien en toe ek op die man se skouer tik om te vra of ons vermoede reg is en sy vrou omkyk wou ek op my rug val... Nie net is hulle Suid Afrikaners nie, maar sy het ook op die vloer onder my in Vergeet-My-Nie in Potch gebly!

Andre Rieu in die Vrijthof, Maastricht

Saterdag het ons in Maastricht spandeer.  Ons het 'n draai by die Sint Servaasbasiliek in die Vrijthof gaan maak wat die oudste kerk in Nederland is en ook as 'n "World Heritage Site" deur UNESCO verklaar is.  Die oulike vroutjies op van die verkeersligte in die stad instede van die standaard mannetjie was vir my baie oulik!  Ons het ook vinnig by die Lieve Vrouwekerk gaan draai en het toe die SA vs AUS rugby in 'n Ierse pub gaan kyk wat Herrie spesiaal die vorige dag gaan reel het!
Maastricht

Dit het omtrent die hele oggend gereen en was baie koud buite so ons het basies van kerk na kafee gehardloop en het flou na die rugby op die trein na Rotterdam geklim.  Ons was so uur of 2 by die huis en toe bevind ons onsself weer op 'n trein na Den Haag vir Danilo & Veronique se afskeidspartytjie.
Bo: Arden, ek, Meredith & Emmy - Onder: Ons en Matteo

Een van Veronique se kollegas het aangebied om ons in sy kar terug te vat na Den Haag stasie 02h30, en nadat Herrie gevra het wat hy doen het ons uitgevind hy is basies een stap weg van persoonlik op Mars land!  Hy werk ook vir ESA en werk tans aan 'n projek wat beoog om in 2018 monsters (soos in samples en nie groen mannetjies nie) van Mars na Aarde te bring...   Interessante mense wat ons hier teëkom!

Ek moet groet, ons is oppad na "Farewell Drinks" wat RSM aanbied om almal wat aan uitruilprogramme gaan deelneem te groet.

Lekker aand,
Anel

1 comment:

  1. My darling Anellie, ek LOVE jou staaltjies en stories. Dankie vir jou moeite om ons almal deel te maak van jou lewe daar doer in die wye wereld. Ek mis jou nogsteeds al die pad!

    ReplyDelete