Wednesday, July 13, 2011

Swaar dra al aan die een kant...

So ek't belowe die volgende nuusbrokkie gaan oor die Baltics wees, maar ek wil net vinnig vertel van ons trek en sommer die nuwe adres ook stuur! 

Soos meeste van julle teen die tyd weet en ek ook al op die blog genoem het, is die woonstel wat ons gehuur het verkoop en ons moes trek na 'n ander plekkie vir die volgende ses maande.  Die nuwe woonstel is omtrent 300 meter van die ou een af maar ons het nie 'n kar nie en na 'n groot gesmeek en soebat het die 4de supermark waar ek gaan vra het ingestem dat ek 'n deposito los en een van hul trollies kan leen :-)  {Ek het dit nooit besef nie, maar daai simpel waentjies is glo 150 EUR elk werd!}  Hertzog was baie teleurgesteld in die trollie want al 4 wiele kan draai wat dit baie moeilik maak om hom te beheer.  Ek moet bieg dat ek nooit opgelet het dat SPAR of PnP se trollies net 2 wiele het wat kan draai nie...

Ek en Herrie het oor 2 dae heen en weer oor gestap met ons trollie en tasse en soos dit natuurlik in Rotterdam die norm is het dit op dag 2 gereën!  Ons moes tydens die week trek so die meerderheid van ons trippies was in die aande en ek dink daar was paar kere wat ons baie verdag moes gelyk het met ons trollie vol baie eienaardige voorwerpe laatnag op straat :-)  Toevallig het ons op 2 van die trippies van Hertzog se skoolvriende raakgeloop!
 Swaar dra al aan die een kant...

Sodra al ons goed in die nuwe woonstel was en die ou een skoongemaak was het ons heerlik aan 'n pakkie "huis" gesmul wat Gizi al die pad van die SA winkel in Londen vir ons saamgebring het om krag te herwin vir die uitpak...
 'n Pakkie "huis", Nik Naks

Ons nuwe woonstel het nie 'n balkon nie maar daar is 'n dakterras wat almal in die kompleks deel en dis lieflik met 'n pragtige uitsig van die rivier en baie bekende bakens in Rotterdam.  Ons het die eerste week nadat ons getrek het omtrent elke aand iets op die dak gaan drink en die uitsig waardeer want al ervaar ons steeds nie somer temperature nie word dit eers tussen 22h en 23h donker!
 Dakterras
Ons nuwe posadres:
    Hoogstraat 113N
    3011 PL
    Rotterdam
    Nederland

Die laaste week van Junie het Meredith se ouers hier gekuier en ek was saam met hulle Utrecht toe om opinies te lewer as Meredith trourokke pas (sy en Elliot trou volgende jaar in California) en Brussels toe vanwaar haar ma-hulle terug gevlieg het Amerika toe.  Ek het al vir julle 'n paar foto's van Utrecht gewys maar met elke besoek daarheen leer ek meer en het nou gehoor dit is sedert die agtste eeu die Godsdienstige Hoofstad van Nederland.  
Somer in Utrecht!

Ons het die 465 trappies na die bopunt van die Domtoren geklim om die ongelooflike struktuur van die hoogste kerktoring in Nederland (112.5m) en die uitsig te waardeer.  Die Domtoren was aanvanklik deel van die Domkerk wat tussen 1321 en 1382 gebou is, maar in 1674 het 'n tornado Utrecht verwoes en die middelste gedeelte van die kerk weggewaai!  Die klokke in die Domtoren weeg saam 32 000kg!
Domtoren, Utrecht

Vir almal in Afrika wat dink die gras is groener aan hierdie kant, dink weer!  Stel jou voor om 'n plaas se prys aan huur te betaal vir 'n spogwoonstel langs 'n grag...  Maar jou bure weerskante woon letterlik teenaan jou en daar is ook vreemdes bo en onder jou. Mens is geneig om te dink dat die rooi of blou of wit huise hier onder net vir een gesin is, maar in werklikheid is daar een stel trappe per "huis" en elke vloer word aan 'n ander familie uitverhuur.  Mens kry nogals weer perspektief as die dinge so van bo gesien word!
Spogwoonstelle in Utrecht

Utrecht is uniek in die sin dat van die strate langs die gragte op 2 vlakke geleë is soos die onderstaande foto aandui:
Dubbelvlak strate van Utrecht

In Brussels het ons net een doel voor oë gehad: om antieke winkels te fynkam opsoek na dinge vir die troue wat Meredith se ouers moet saam vat huistoe.  Ons het 'n paar uur gehad om deur verskeie winkels te hardloop en het hier en daar tussen al die minder waardevolle goed regtig skatkisse ontdek!

Ek het verlief geraak op baie van die swaar hout meubelstukke en het vir Herrie 'n boodskap gestuur om te sê dat ons asseblief voordat ons terug keer SA toe 'n draai by die antieke winkels in Brussels moet maak waarop hy net geantwoord het: "It begins!"
Pragtige goed in die antieke winkels van Brussels

Na al die mooi inneem en hardloop om betyds op die trein te spring beloon ons onself met 'n Kriek vir die pad!

Herrie se derde termyn het vanoggend aangebreek en hy is lekker uitgerus na 'n week en 'n half vakansie waartydens ons in Slovakia, Oostenryk en Praag gedraai het!  Van ons vakansie skryf ek later (nadat ek eers van my en my niggie se tyd in die Baltics vertel het).  Hierdie termyn is net 2 en 'n half weke lank dan het hul weer vakansie vir 3 weke.  Dis so eienaardig dat 4 uit die 5 weke wat hy per jaar vakansie het binne 1 maand val maar sy aftydjies word met ope arms ontvang!

Lekker slaap...
Volgende nuus: B vir Baltics!

x

2 comments:

  1. Dankie Anellie,
    altyd lekker om van julle avonture te hoor!! sien darm die naaldwerkmasjien het op die fiets gepas en die biltongmaker is bo-op die trollie
    :-) ENJOY xxx

    ReplyDelete
  2. What a lovely day that was in Brussels! I can't wait to spend some time on that roofdeck--if the rain ever stops!! xo

    ReplyDelete