Saturday, July 30, 2011

Deel 1: Berge, Bratislava, Bruilof, Ballet & Beerpong!

Tydens Hertzog se kort vakansie aan die begin van Julie het ons 'n draai in Slovakia, Wien, Linz en Praag gaan maak!  Vandag vertel ek julle van Slovakia...

Op Vrydag, 1 Julie skree die wekker ons 05h00 wakker na ons 'n karige 3 ure geslaap het sodat ons 07h00 saam met 19 ander troepe van RSM op 'n bus na Brussels kan klim om 'n Ryanair vlug te vat na Bratislava. 
On the road again! (mooi straat voor RSM)

SLOVAKIA
In Bratislava aangekom wag ons vir 'n bus wat ons van die lughawe af stasie toe vat sodat ons op 'n vrek vuil outydse trein met kompartemente kan klim wat ons na 'n dorpie in die berge neem.  Vir 4 ure ry ons deur die mooi Slovak landskap, drink lekker bier, maak geselsies met die ander RSM maats en speel kaartspeletjies soos die son sak oor Oos Europa. Ons arriveer so 22h00 in Liptovski Mikulas en ontmoet ons 3de busdrywer vir die dag by die stasie in gietende reen en ry nog 1 uur na Jasna waar ons die volgende 4 dae spandeer. Daar aangekom staan ons vir nog so 15 minute in die reen voor ons uiteindelik die sleutels vir ons huis gekry het. Nat en moeg ná 16 ure op busse, vlugte en treine sê Christian ek lyk soos 'n "Serbian refugee"!
 Rotterdam na Jasna en die 16 ure tussen in!

Uitgerus vertrek ons die volgende oggend na die Orava Kasteel wat gebou is op 'n klein, hoë koppie (is alle kastele nie maar nie..) en dit was baie indrukwekkend!
 Orava Kasteel

Ons geniet middagete by 'n restaurant wat tradisionele Slovak geregte bedien en Hertzog eet 'n stuk vark wat omtrent 10 mense kan voer!  Na ete vertrek ons na Vlkolinec: 'n ou tradisionele dorpie hoog in die berge wat deesdae 'n UNESCO "World Heritage Site" is.  Deur middel van handgebare het Herrie 'n gesprek met 'n Slovak oom oor die sokker wêreldbeker en ons gaan lê op 'n bankie saam Christian bokant die dorp en luister na die voëls, waterstroompies en Bon Iver. 
 Vreedsame Vlkolinec

Terug in Jasna is biere summier in 'n yskoue waterstroom gesit en die manne het hout gekap en begin vuur maak vir Slovak worse wat ons later op stokke gebraai het.  Ons het tot laat lekker om die vuur gekuier en die chonkies het waarskynlik almal hul bed nat gepiepie omdat hulle so lekker met die vlamme gespeel het! 

Na 'n vinnige ontbyt Sondag vat ons die pad na die Demanovska Caves of Liberty. Hier toer ons deur 'n ongelooflike grot wat 250 000 jaar oud en een van 5 000 soortgelyke grotte in Slovakia is!  Ons het baie indrukwekkende stalagtiete en -miete gesien terwyl ons deur die mooi padjies in die grotte met 913 trappies gestap het. 
 
Demanovska Caves of Liberty
Die middag het ons na die High Tatras gery om in die berge te gaan stap.  By die berge aangekom het dit só hard gereen dat daar oorweeg is om die middag in 'n sauna deur te bring maar die feit dat almal kaal moes wees in dieselfde vertrek was te veel vir van ons - veral vir die chonkies!  Terug by huis die aand het ek aangebied om almal te voer wat 'n redelike taak was omdat daar soveel kulture op die trip was en die een eet nie vleis nie, daai een net halaal, ens.  Asof die verskillende eetgewoontes nie 'n groot genoeg uitdaging was nie het die skrefies-ogies weer die kombuis oorgeneem om hul standaard kool brousel te maak en ek moes maar sien kom klaar met die bestanddele wat daar oor was!  Nadat almal se magies vol was het ons tot laat nag om 'n tafel gesit en UNO speel... eindelose plesier!

Op ons derde dag in die Slovak berge besluit almal om hul eie gang te gaan en ek en Herrie vaar die berge in.  Ons vat 'n ski lift na die eerste stop toe en stap van daar af so 2 ure na Chopok Peak (2000m amsl).
  Stap na Chopok Peak - 2000m

'n Snerpende wind en ligte reën maak ons baie bly toe ons by Kamenna Chata ('n klein restaurantjie op die piek) aankom. Ons ontmoet van ons ander maats daar wat die lift al die pad op gevat het en eet  lekker "hearty goulash & dumplings" en drink gluhwein en 'n Slovak drankie (Fernet Stock Citrus) voordat die ander weer die tog huistoe aanpak.  Ivan, Alex en Ross sluit later papnat by ons aan en die 5 van ons kuier lekker tot ons die laaste lift af vat. {Ivan is van Slovakia en hy en sy Amerikaanse meisie Alex (hulle swot albei saam met Herrie) het die hele trip beplan en hulself baie goed van hul taak gekwyt!  Ross is een van Ivan se vriende uit Engeland en Herrie het te lekker vir sy erge aksent en snaakse sêgoed gelag!}  Oppad af sien ons bergbokke wat blykbaar normaalweg baie sku is.


Die aand het die manne weer 'n lekker groot kampvuur gemaak en ons het gesellig daar gesit en kaart speel tot die koue ons gedwing het om in te gaan huistoe waar beerpong weer kop uitgesteek het!  Dis 'n speletjie wat die Amerikaners vir die RSM 2012 groep geleer het en word heeltemal te gereeld gespeel as wat goed is!  
Ross, Christian en Herrie by die kampvuur

Ross en Hertzog was vroeg op Dinsdag om die "slopes" aan te vat met "downhill mountainbikes" wat hulle gehuur het.  Die padjies af was glo baie glipperig a.g.v die hele week se reen maar dit het gesorg vir groot pret en hulle word basies modder monsters van die vuil!
 Lekker in die modder gespeel!

Na 'n vinnige afspoel waar die fietse asook die mense skoon gespuit word met 'n tuinslang, vat die groep die pad na die High Tatras toe vir die stap wat die vorige keer uitgereen het. Hertzog en Ross het genoeg gespeel vir die dag en wag by 'n restaurant vir die res van ons wat deur 'n woud padjie stap en 'n mooi reenboog sien!  Ons drink oppad af 'n Slovak Coke genaamd Kofola (proe soos Jaegermeister gemeng met Sprite).
 Stap in die High Tatras

Almal ontmoet weer na die stap en vat die pad na die Grand Permon spa - teen hierdie tyd was meeste van die chonkies wat vroeër geprotesteer het reeds terug Holland toe. Baie interessante plek met klomp verskillende sauna kamers van verskillende temperature en geure.  Ons moes natuurlik al ons klere uittrek en met sulke belaglike gewade ronddwaal en moes selfs dít later uittrek om die borrelbad te kon betree - vreemd maar uiteindelik 'n lekker ervaring.   22h00 vertrek ons by die spa opsoek na 'n oop restaurant en ons drywer vat ons na die Route 66 Diner (wat die Amerikaners natuurlik baie bly gemaak het).

Ons is Woensdag vroeg op en vat die bussie na Liptovsky Mikulas om ons trein na Bratislava te vang. 07h00 die oggend wag ek by 'n kafee op die stasie vir my koffietjie en sien hoe netjies aangetrekte mans op Liptovsky Mikulas dik lekker bier drink en selfs so paar vodkas deurjaag. En nee, dis nie mense wat reg deur die aand gekuier het nie, maar ouer mans wat lyk of hul oppad werk toe is!

In Bratislava neem ons afskeid van meeste van die ander maats en ek en Herrie wandel bietjie rond in die strate en sien die bekende brons mannetjies van Bratislava orals.  Ons gaan kyk ook na die St. Martins kerk, UFO brug en die ou stadhuis voordat ons aan boord van die Twin City Liner wat op die Danube Rivier vaar van Bratislava na Wien klim.   Die boot word aangedryf deur 2x 1000kw diesel water-jet engines en ek haal vir Herrie aan: "hy loop soos n jet!"

Lekker sonnige Bratislava!

En hier gaan ek nou eers groet tot ná die naweek...  wil julle nie verveel met té veel inligting op een slag nie!  Maandag volg Deel 2 van Berge, Bratislava, Bruilof, Ballet & Beerpong! dan vertel ek van ons ervaringe in Oostenryk en Praag!

Geniet julle naweek baie...
x


1 comment:

  1. Sjoe dit klink na feeste julle twee. Anel jou beskrywings laat my voel ek was daar. Ek verstaan die vuil modder outjie, maar ai daai toilet!
    Lief vi julle

    ReplyDelete