Tuesday, September 6, 2011

Kaptein, span die seile...

Ahoi!

So daar was intussen 'n paar reëndae waartydens ek kon tik van Griekeland, maar skielik is daar soveel dinge aan die gang in en om Rotterdam so net voor dit weer baie koud raak, dat ons bitter min tyd in die huis spandeer het die laaste 2 weke...  Daarom net vinnig 'n bietjie nuus van die RSM (Rotterdam School of Management) Regatta waar ons was die naweek nadat ons van Griekeland af terug gekeer het, en dan skryf ek ander dag van die wonderlike tyd wat ons in Griekeland gehad het.

Ons het skaars geland na ons Santorini - Amsterdam vlug toe hardloop ons in die reën dorp toe om die winkels oop te vang - ja, dit reën ALTYD as ek en Herrie van 'n naweek weg terug kom en van die stasie af moet huistoe stap... dis Rotterdam se manier om te sê "Welkom Tuis!".  Ons moes gou slaapsakke en seilhandskoene gaan koop het voor ons die volgende oggend na Friesland vertrek vir die RSM Regatta in Lemmer.
Ons eerste blik van die hawe in Lemmer
 - toe nou nie 'n eiland vol meisies in bikinis nie... jammer Kurt ;-)

In Lemmer aangekom het ons gou gehoor hoe die RSM spanne ingedeel is (want hulle het 4 spanne gehad) en al 9 spanne wat ingeskryf was vir die regatta is na hulle verskeie bote gelei waar bagasie afgelaai en die seiljagte ingerig is.  Die ander spanne is van MBA skole in Spanje en Engeland gewees.  Ons was voor die naweek reeds maats met almal in ons span en die groter meerderheid van ons het nog nooit geseil nie... die vooruitsigte vir wen het minder goed gelyk as dié vir pret!
Ons spanmaats

Ons span het bestaan uit ons 2 Suid Afrikaners, 2 Hollanders, 2 Grieke, 2 Indiërs en 'n Egiptenaar!  Die 2 Grieke het beide kaptein lisensies en die Hollanders het ervaring... so die res van ons was verantwoordelik vir versnapperings en vermaak :-)

Die seiljag wat aan ons span toegeken is was 'n pragtige Bavaria C40 met slegs 80 ure op die klok!  Daar was 9 van ons aan boord maar daar was beddens vir net 6, so van die ouens het Vrydag en Saterdagaand op die dek geslaap.  Sodra almal se tasse op die boot was het 'n paar van ons gou versnapperings gaan koop en raak toe kinderlik opgewonde oor helder oranje baadjies wat kan dien as spandrag...  Ioannis, ons kaptein, se oë het al groter gerek toe hy ons op die kaai aangestap sien kom met 'n trollie vol aankope!  Van die spandrag, watergewere, bier en eetgoed, tot 'n gelukbringer, Dolfi, 'n opblaas dolfyn wat aan 'n tou agter die seiljag moes aanswem!
Opgewonde oor ons aankope...

Ná ontbyt Saterdagoggend, het Christos (ons Griekse vriend by wie ons die vakansie gaan kuier het) gou vir almal verduidelik wat hulle rol op die boot gaan wees en ons het elkeen 'n posisie gekry en paar keer geoefen om te "tack".  Vol vertroue dat ons weet wat ons doen en met groot verwagtinge het ons gereed gemaak vir Dag 1 van die RSM Lemmer Regatta en het gou 'n spanfoto geneem en toe stadig begin aanbeweeg na waar ons gedink het die beginpunt van die eerste resies vir die dag is... 
Team Orange

Toe ons weer sien, hoor ons 'n stem oor die radio aftel om die begin van die eerste resies van die naweek aan te kondig en na 'n lang, dowwe "paaaaaaaaaaaaap" sien ons hoe 8 ander seiljagte in volle vaart op ons afgepyl kom!  Terwyl ons nog verward na kaarte gesoek het wat die beginpunt aandui, het die resies reeds begin en omdat ons nooit tegnies begin het nie, is ons gediskwalifiseer!  Ek weet dat almal in Team Orange slegs in Friesland was vir pret en plesier, maar daar is tog diep binne 'n kompeterende strepie in elkeen van ons en die feit dat ons nie die beginpunt kon kry nie, was vir my nogals 'n bitter pil om te sluk :-)

Dit was darem net die eerste resies van 6 vir die dag en ons het dus 5 ander gehad om ons eer te herstel so ons was almal gereed om met rondte twee uit te kyk vir die geel boeie wat die roete aandui.  Ons was inlyn met al die ander spanne wat regstaan en wag vir die stem op die radio toe ons die sein hoor afgaan en die resies begin met 'n georganiseerde chaos soos almal spook om a) Ons Griekse kaptein se opdragte te verstaan en b) die nodige verstellings te maak!
Al 8 die ander bote is voor ons...

Ons het regtig hard probeer, maar tevergeefs, want ons het 9de geëindig...  het ek al genoem dat daar net 9 seiljagte was?!  Dis seker 'n stap beter as om gediskwalifiseer te word.  Na resies 3 en 4 het ons besef dat Team Orange nie in Lemmer is om te wen nie en het 'n fantastiese tyd gehad vir die res van die dag terwyl meeste ander spanne dinge baie ernstig gevat het.
Net in Holland kry mens MELK in jou kosblik!

Terug op droë grond na die eerste dag op die water het ons verneem dat daar 'n vreemde stemming in die hawe teenoor Team Orange heers...  Kan wees omdat ons 'n keer of wat té veel amper 'n ongeluk veroorsaak het, of dis bloot omdat hulle jaloers was oor een boot soveel pret kan hê en regtig plesier uit die naweek put!

Ons is die aand bederf met 'n lekker braai en alle spanne het saam gekuier tot in die vroeë oggendure...  Dit het heel aand gevoel of ons wieg, en nee, dit was nie die effek van alkohol nie!
Sondagoggend is die kapteins almal ingeroep terwyl die res van ons ontbyt geniet het en ons is ingelig dat van die ander spanne voel hulle presteer nie soos hulle hoort nie en dat party seiljagte vinniger as ander is.  Om enige onregverdigheid uit te skakel het die organiseerders besluit om die verloorspan van Dag 1 met die wenspan van die eerste dag te ruil ens. en ons moes dus al ons goed (en Dolfi natuurlik) na die "vinnigste" boot toe trek.  Erens tussen deur moes 'n verwarde siel gedink het dat dit ons kaptein is wat so 'n versoek gerig het want daar was 'n paar snedige aanmerkings na ons kant toe gemaak oor ongelukkige mense moes trek na ander seiljagte.  Hallo mense, kan niemand sien dat die oranje klomp met die watergewere en die dolfyn regtig nie belangstel om hierdie naweek met die trofee huistoe te gaan nie maar net 'n lekker tyd wil he?!

Ek was oortuig daarvan dat Team Orange 1,2,3 die vinnigste boot in die stadigste boot gaan verander, maar ons span het verbasend goeie vorm op Dag 2 gewys en toe ons weer sien gaan die boot met die groen en wit seil eerste oor die wenstreep, ja, dit was ons wat daar wen!  Die res van die dag het dit minder goed gegaan maar die satisfaksie van daai eerste wen van die dag het opgemaak vir al die ander laaste plekke.
Kaptein Ioannis doen 'n oorwinningsdans!

Team Orange in aksie...

Ons het druipstert ná die prysuitdeling weggestap met 'n algehele laaste plek vir die naweek maar glo dat ons die geesbeker sou wen indien daar so toekenning was!

Dit was voorwaar 'n lekker naweek en ons eerste ervaring op 'n seiljag was verseker een om te onthou!  Hertzog sien reeds uit na sy volgende regatta saam met RSM wat einde September in Portofino, Italië gaan plaasvind...  
'n Koue biertjie om die naweek af te sluit!

Dit reën vandag hier en ek sien die vooruitsig vir more en Donderdag lyk dieselfde so teen die naweek behoort ek nuus oor Griekeland op die blog te hê!  

Son en see... dis nou net 'n vae herinnering....

3 comments:

  1. Dit moes feeste gewees het. Hou duime vas vir volgende regatta! Liefde daar

    ReplyDelete
  2. hi lounie leer my om te comment

    ReplyDelete
  3. Mooi Chris! Noudat jy geleer het, kan jy die naweek ietsie skryf as ek jul op die blog vertel van Griekeland... x

    ReplyDelete