Wednesday, September 14, 2011

Son en see in Santorini...

Goeie more!

Hierdie nuusbrokkie gaan meer foto's as teks wees want Santorini is absoluut prentjie mooi en daarom gaan prentjies van ons tyd daar 'n baie beter beskrywing wees as my woorde!

Opgewonde ontwaak ons op die 13de Augustus in ons hotel in Athene en voor jy kan sê vakansie is ons aangetrek, gevoer en op die moltrein na Piraeus van waar ons aan boord van 'n ferry Santorini gaan benader!
Kinders van die wind oppad na Santorini!

Ons het nét op die dek gaan sit toe 'n skrefies-ogie voor ons aan 'n eienaardige konkoksie in haar waterbottel begin teug... Herrie: "Watse klomp k@k dryf in hierdie 'drink' van haar?!  Hulle is darem maar 'n ander klomp mense, my bliksem!" Ja, hy het min geslaap!
?!?

Ná 5 ure op die ferry het ons in Santorini arriveer en 'n bus met die kronkelpad op na Fira geneem en toe 'n ander bus na Imerovigli waar ons hotel was.  Die busdrywer van ons 2de bus was vreeslik ongeskik met ons en is sommer dadelik deur 'n ou Griekse man oor die vingers getik!  By ons stop was ons die enigste 2 mense wat wou afklim en moes toe self ons tasse langs die pad van onder uit die bus laai en toe ek sien hoe daai swaar bagasiedeur op Hertzog se rug gaan toe klap begin ek skree!  My waarskuwing was te laat en die deur het hom in elk geval op die rug getref en Herrie het so groot geskrik vir my geskreeu want hy't gedink "die bus gaan my moer toe trap"!  

Aanhoudende laggies van moegheid en verligting wat later aan histerie grens volg en ons bereik die hotel nie 'n minuut te vroeg nie... 'n oase van rus en vrede! 
Min wat mens 'n see uitsig voor EN agter jou het!

Ons huur sommer dieselfde middag al 'n "scooter" vir die res van die week want mens sien orals toeriste op hulle en ons het nogals verstaan hoekom mense hier nie van busry hou nie!

Die eienaar van ons hotel en sy seun het baie goeie voorstelle gehad ten opsigte van restaurante op die eiland en hulle het sommer die vrymoedigheid geneem om vir ons besprekings vir die week te maak en selfs voor te stel wat ons waar moes eet!  So stuur hulle ons toe op ons eerste aand na Oia waar ons 2 van die beste sitplekke by Castro gekry het vanwaar ons die mooi sonsondergang kon kyk en lekker eet terselfde tyd.  
Mooie Oia

Oia is 'n dorpie op die punt van die eiland en bekend vir die mooi sonsondergange...  Mense stroom in hulle hordes na Oia en sit orals op die mure en trappies en wag opgewonde dat die son swaar en lui sak en sodra hy op die horison verdwyn klap almal spontaan hande - want dis wat mens by Oia doen!
Soos miere wag die mense maar die hond het die beste uitsig!

Ná ete het ons bietjie deur Oia gestap en na die mooi verligte straatjies gaan kyk.  Die volmaan het pragtig op die see geglinster...


Oia snags!

Ontbyt die volgende oggend het bestaan uit Griekse jogurt met heuning & neute, vrugte en koek en ons het heerlik buite gesit met die see links en regs van ons...  Voor ons die pad kon vat strand toe het ons gou ons "scooter" gaan ruil vir een met 'n bietjie meer krag en die "red ferrari" vat ons toe na Perissa en Perivolos toe vir die dag.  Dit is die swart strande van die eiland - hier verwys ek nou na die sand - en dis nogals interessant om te sien...  Iets waaraan mens nie vooraf dink nie is dat swart sand vrek warm raak en mens sien 'n ry plakkies sodra die nat sand ophou wat swemmers daar gebêre het!
Swart strande van Perissa & Perivolos

Ons het die grootste gedeelte van die dag by Jojo's spandeer op Karin & Karen se aanbeveling!  Dit is 'n kroeg reg oorkant die strand met 'n groot swembad, gemaklike stoele onder sambrele en lekker "cocktails"... 
Lui lekker swemdag...

Van Perivolos af het ons op ons "red ferrari" gespring terug hotel toe om gou te gaan afspoel en te hoor wat Fred vir ons beplan het vir die aand :-)
On the road again!

Santorini met sy wit en blou huisies wat bo-op die berge, vêr bo die see gebou is, is regtig so pragtig soos al die foto's wat mens van hierdie besonderse plek sien.  Maar, so op die ferrari het ek myself plek plek gevra of ons nie dalk êrens in die Karoo of Gaborone, Botswana is nie?!  Geen plek is ORALS mooi nie en die eiland kry nie baie reën nie, en so kry mens slegs 100m van die strand af dele wat lyk soos die foto's hier onder.
Gabs?!

Vir aandete ry ons na 'n ander punt van die eiland om die son by 'n ligtoring te sien sak - hier klap hulle nie hande nie - en ons gaan eet vars vis wat die middag gevang is by 'n klein familie restaurant.  Die Pa vang vis, die Ma maak dit gaar en die kinders bedien die mense!   Ons eet lekker vis en gebraaide tamatie balle wat hulle spesialiteit is.  Ná ete het ek 'n koppie Griekse koffie bestel en die dogter bring vir my 'n boodskap van haar Ma uit die kombuis: "sorry, no coffee now, too much to fry!" :-)
 Nog 'n heerlike aand in Santorini...

Oppad huistoe van die ander punt van die eiland af, besef ons dat die "red ferrari" 'n paar "malfunctions" het soos Christos sal sê!  Die flikker lig bly aan en moet met die hand geflikker word en die ligte is so swak dat ons maar met die flikker permanent aan ry want sy lig is skerper!  Ons sien 'n paar polisiemanne langs die pad en Herrie sê: "as hulle ons af trek oor ons nie 'n behoorlike lig het nie dan ry ek more hierdie "scooter" reguit in daai Griek se h*l in!"

Wat kry mens as jy vir Herrie sonder 'n "helmet" laat motorfiets ry en 'n bose glimlag met jou kamera vasvang?
'n Mooier weergawe van Beavis!

Die volgende oggend na ontbyt vertrek ons na Amoudi Bay en het nog so lekker gery toe die "red ferrari" skielik stop.  Hertzog stel ondersoek in en die probleem kry vinnig 'n naam: geen petrol!  'n Verbyganger op 'n "scooter" bied aan om vir Herrie na die naaste dorp te neem om petrol te koop terwyl ek agter bly en merk ons staan plek met 'n X!  Die dorp waar Hertzog afgelaai word het geen petrolstasie nie en 'n ander "scooter" handelaar weier om 1.5 liter petrol teen 5x die normale prys te verkoop so toe ek weer sien kom laai Herrie my in 'n taxi op.  Ons ry toe verby TWEE petrolstasies in die ander rigting op soek na 'n bank want ons het wel kontant vir petrol maar nie genoeg vir die taxi nie!  In Fira kry ons 'n bank maar vir die dood nie nog 'n taxi om ons terug te vat na 'n petrolstasie en van daar na die "scooter" nie en soos twee uile op 'n kluit sit ons op 'n sypaadjie hoog bo die pad en eet een pistachio na die ander terwyl ons wag vir 'n taxi om verby te ry...

Uiteindelik word ons opgelaai en met ons liter en 'n half petrol weer by die X afgelaai.  2 Ure en 30 EUR aan taxi fooie later is ons weer oppad na Amoudi bay!  Let wel dat die huur van die "scooter" per dag slegs 18 EUR is!  
Failure to launch!

Die 15de Augustus was Maria-dag, ek't julle mos in "My Big Fat Greek Experience" vertel van die "name day" tradisie wat die Grieke het, en Christos se sussie Mariana, se naam is 'n kombinasie van haar 2 oumas, Maria & Anna.  Ons bel haar toe om 'n "Happy Name Day" toe te wens en Herrie noem haar Annamari :-)  Dis amper soos daai grappie van Theunis en Giel...  Dit was duidelik nie Hertzog se dag nie!
 Amoudi Bay

By Amoudi Bay het ons bietjie op die beton "strandjie" gesit en bak en Herrie het van rotse gaan afspring waarna ons lekker seekat by een van die talle restaurantjies op die water gaan eet het.  Die middag het ons van Amoudi Bay af na 'n wynplaas in die omgewing gegaan en in die wingerde sit en wyn proe terwyl Hertzog met die baba katjies speel.  Die pad van die wynplaas af huistoe was pragtig en ons besluit om die aand op ons balkon te spandeer om die sonsondergang oor die Caldera en ons lekker nuwe wyntjie te waardeer!
Ons het hierdie dag laat uit die blokke gekom maar hy't lieflik uitgedraai!

Die volgende dag het ons besluit om te gaan kyk wat by "Red Beach" aan gaan - so genoem vanweë die rooi sand op die strand.  Dit was 'n snikhete dag en die strand was propvol toeriste gepak en toe die eerste klippie van die krans af rol en langs my handdoek val, was ons weer op die "red ferrari" om ander strande te verken.
Die rooi strand

Orals langs die pad het ons groot strandhuise gesien wat net half gebou en so laat staan is en dis een van die min sigbare tekens gewees dat hierdie land homself in 'n finansiële krisis bevind.
Tekens dat die ekonomie druk

Druiwe word in Santorini verbou maar mens sien nie wingerde soos ons dit ken nie omdat daar baie wind op die eiland is en min reën so die druiwe groei plat teen die grond sodat hulle klam gehou word deur vroeë oggend dou.  Die "wingerde" is sommer orals langs die pad en in die veld!  'n Ander vreemde vars produk hier is tamaties wat so in die dorre land groei.
Druiwe en tamatie boerderye

Ons kry 'n heerlike lêplekkie op 'n stil strand, Vlychada, met die ongelooflikste rotsformasies!
 Vlychada!

Ons het laat middag Firostefani en Imerovigli gaan verken en die dorpies is net so pragtig soos Oia en elke foto lyk soos 'n poskaart!
Firostefani & Imerovigli

Fred het vir ons by sy gunsteling restaurant op die eiland bespreek en presies gesê wat ons moet bestel!  Metaksimus se kos was uit 'n ander wêreld en ons het die soel aand waardeer deur buite onder die maanlig te sit en het later bietjie in die nabygeleë dorpie Pyrgos gaan stap.
Pyrgos & Metaksimus

Op ons laaste dag in Santorini het ons besluit om die vulkaan aan te durf...  swart klippe en berg klim op 'n bloedige dag klink uitdagend genoeg en ek't gelukkig nie dieselfde fout as Gisela gemaak om met griekse-godin-sandale die vulkaan te klim nie!  Ons het van Fira af met 'n mooi hout boot na die vulkaan gevaar en saam met honderde ander toeriste begin klim.  Op en op en op...
'n Soentjie op die piek van die vulkaan

Die vulkaan in Santorini slaap net, hy is nie dood nie!  In 1956 het hy die laaste keer uitgebars en dit kan enige dag weer gebeur maar waarskynlik nie in ons leeftyd nie.  Ons het langs die eiland Palia Kamini in warm, oranje water gaan swem wat 'n duidelike aanduiding is dat daar iets onder die oppervlak aan die kook is...  Die boot het naby die baai anker gegooi en die van ons wat braaf genoeg was het in die see geduik en na die warmer water geswem!
Warmwaterbron by Palia Kamini

Terug in Fira se hawe het ons die tradisionele manier van vervoer gebruik en ons ysterperd vir donkies verruil wat ons al die pad teen die koppie uitgevat het.  Hertzog se donkie was soos 'n resiesperd en al het ons dieselfde tyd onder begin was hy omtrent 20 minute voor my bo!  My donkie was verskriklik steeks en baie stadig en elke keer as ons verby die kleinste spikkel van 'n skadukol beweeg dan het hy gestop om te rus, siestog.  Ou Langoor het op 'n stadium sy kans gevat en sommer by 'n klomp donkies (wat van bo af verby ons gestap het) oppad af om nuwe mense op te laai aangesluit en vir omtrent 50 meter het ek weer af teen die berg beweeg in plaas van op :-)
Ons "red ferrari" vir donkies verruil :-)

Nikolas in Fira het gesorg vir tradisionele musaka en souvlaki op ons borde soos Fred belowe het en ons het 'n laaste draai op 'n verlate strandjie by Exo Gonias gaan maak.  

Soos die rooi son die dag groet, dink ons aan alles wat ons op hierdie ongelooflike eiland gesien en ervaar het en klink vir oulaas ons glasies op Santorini!
Die son groet die dag en ons groet Santorini

In die woorde van Matt Barrett: "I don't think you could go to another planet and be more impressed than you will be when you see Santorini for the first time".  Ek sekondeer!

Ek wil vanoggend skree van borrelende vreugde in my binneste want ek is oppad Schiphol toe om vir Caromien te gaan haal!  Ek waardeer elke dag wat ons in Holland kan spandeer en elke mooi plekkie waarheen ons kan toer verskriklik baie, maar die verlange na die mense van my hart raak maar erger soos die jaar einde se kant toe staan...  En nou stuur Hy vir my vir Caromientjie vir 'n volle week!  Presies hoe dit gekom het dat sy so skielik kom kuier en wat ons als gaan doen terwyl sy hier is vertel ek op 'n ander dag!

Mag julle 'n finominale dag verder hê...
x



2 comments:

  1. Santorini is BEAUTIFUL xxx en so ook julle tweetjies xxx

    ReplyDelete
  2. Wow, looks like you two had a second honeymoon! Gorgeous pics! I cant believe you rode a donkey!

    ReplyDelete