Thursday, September 29, 2011

There is only one thing better than making a new friend, and that is keeping an old one. ~ Elmer G. Letterman.

Kinderlik opgewonde het ek Woensdag 14 September vir Caromien by Schiphol lughawe gewag en toe sy my deur die glas gewaar het sy op en af soos 'n perdjie begin spring! Sy het die vorige week verjaar en daarom het Dion haar vir 'n week vir my gestuur. Dis min wat 1 man 2 vrouens so gelukkig kan maak!

Ons het gou haar tasse by die lughawe gaan bêre en toe op 'n trein na Amsterdam gespring waar ons die dag spandeer het. Ons het onder andere na Leidse Plein, Museum Plein, die Jordaan area, Vondelpark en die rooilig distrik gaan kyk.
Amsterdam! 

House of Bols is onlangs deur Lonely Planet as die top toeriste aantreklikheid in Amsterdam aangewys en ons was in Januarie daar saam met die Van Rooyens en die Van Schouwenburgs en omdat dit soveel pret was het ek en Caromien weer daar besoek gaan aflê. Dis oulik want hulle gebruik al jou sintuie om die smake van hulle produk te waardeer. 
House of Bols

Ek en Herrie het onlangs ons eerste fliek in Rotterdam gesien, "Horrible Bosses". Ek weet nie wat julle van die fliek gedink het nie, maar ons het ons byna doodgelag... Nie oor die fliek so snaaks was nie, maar vir die Hollandse onderskrifte! Hulle gebruik baie woorde wat in Afrikaans vreeslik kras is, in 'n ander konteks en so is die Hollands vir 'boude' of "booty" wat nogals gereeld in die fliek gebruik is, 'n vieslike Afrikaanse woord wat met 'rond' of 'bont' rym! So het ons ook geleer dat die woord 'poen' wat gereeld deur Sonoppers vir byna alles gebruik word, die Hollands is vir die Engelse "moolah", soos in geld. 'n Ander lekker woord wat ons geleer het is dat die Hollands vir 'idioot' of "assh*le" in die fliek, 'klootzak' is :-) Sê dit nie lekker nie?!

By Stout! in Amsterdam het ek en Caromientjie gestop vir koffie en daar vertel ek vir haar van ons fliekervaring en al die nuwe woorde wat ons geleer het. Ek was lekker simpel en vergeet vir 'n oomblik dat die lelike woorde in Afrikaans vir die mense om ons in die restaurant niks beteken nie, en fluister so ewe vir haar die woord vir 'n man se kosbaarste orgaan en sê toe kliphard dat dit in Hollands 'n 'pik' genoem word! Nodeloos om te sê, het al die mans wat om ons gesit het hulle nekke afgedraai en na ons tafel gestaar... Dit was 'n baie blonde oomblik! So van hierdie liggaamsdeel gepraat, ons het ook hierdie jaar geleer dat die Amerikaners daarna as "junk" verwys... ek dink dis baie snaaks!
Stout! 

Terug in Rotterdam het Herrie vir ons lekker gekook en na ete het ons vir Caromien 'n verjaarsdagtert met kersies gegee want dis immers die rede waarom sy in Rotterdam kom kuier het.
Not just a pretty face... 

Die volgende dag het ons R'dam te fiets verken, bitterballen geëet en soos twee apies lekker in die bome van Het Park baljaar... mal-lekker! Oppad terug het Caromien vir 'n oomblik nie op die padjie in die park gekonsentreer nie en as ek nie kliphard "Caromien STOP" geskree het nie, sou sy 'n ou tannie onderstebo gery het! 
Gesellig in Rotterdam!

Ons het die middag saam met Herrie biltong gemaak vir die RWC en 4 dae later kon ons al daarvan eet. Ek't uiteindelik die proses afgeneem sodat ek vir julle kan wys hoe ons boertjies hier in Holland plan maak. Die biltongkas het Herrie mos aan die begin van die jaar gemaak en daar is 'n lig en twee rekenaarwaaiers in en die biltongkerwer wat julle in die foto's sien het Wim Arnold vir ons gemaak as dankie dat hulle in April hier kon kuier en dis regtig die beste patent ooit!
Waar daar 'n wil is, is daar 'n weg!

Die aand het ons saam met Hertzog se klasmaats by die skool gaan kuier en baie bier gedrink want dit was die Sterkte-en-Vaarwel-Kuier van die 6 RSM dames wat Kilimanjaro verlede week gaan aanpak het... kan nie wag om more te hoor hoe hulle gevaar het nie! Ons het ook 'n Afrika foto geneem want vir eens was ons die meerderheidsgroep! Ná die aksie het ons by een van ons gunsteling restaurante - De Hemel op Aarde - gaan eet en nadat ons die huurfietse terug gegee het waag Herrie dit om een van ons voor en die ander een agter op sy Oupa fiets te laai!
Saam ons vriende uit Marokko & Egipte; De Hemel op Aarde; 3 op 1 fiets! 

Vrydagoggend ontwaak ons en Hertzog is so mal soos 'n haas! Ons is steeds onseker oor die oorsaak daarvan maar ek dink die feit dat hy alleen in die gastekamer moes slaap die week sodat ek en Caromien tot in die vroeë oggend ure kon gesels in ons bed, het dalk iets daarmee te doen gehad! Ek is net bly dat nog iemand vir Herrie kon leer ken soos ek hom sien :-)
As mens kyk na die ontbyt wat sy vir hom voorgesit het, 
weet ek eintlik nie wie tussen Herrie en Caromien die lafste was nie! 

Vrydag het Caromien saam met my gaan "werk" - ja, van my "werkie" weet julle nog niks. Ek mag mos tegnies nie met my huidige visa in Holland werk nie en daarom help ek net die afgelope maand, 2x per week, by 'n "Honden Uitlaat Service" uit. Ek en die eienaar laai al die honde by hulle onderskeie huise op, gaan stap vir 'n paar ure saam met hulle op die strand of in die woud of veld en gaan laai hulle dan weer af want hulle eienaars het nie tyd om met hulle te speel nie. Dit klink eenvoudiger as wat dit is want die groep is elke dag anders maar gewoonlik tussen 12 en 16 honde en almal hardloop vrylik rond sonder leibande so ons moet elke nou en dan kyk of almal nog daar is en die wat afgedwaal het gaan soek! Mens word baie vuil en ek is doodmoeg as ek saans by die huis kom, maar dis lekker om weer verantwoordelikheid te hê en die honde is terapeuties, ek mis nogals my Emma hierdie jaar. Ook leer ek baie by Marcus, die man saam met wie ek die honde loop, en dit dwing my om 2x per week 'n paar ure in die natuur te spandeer ongeag of die weer saamspeel! Dit was baie lekker om Caromien ook hierdie deel van my lewe in Rotterdam te wys.
Ik zit hier voor het vensterraam
mij stierlijk te vervelen.
Ik wou dat ik 2 hondjes was
dan kon ik samen spelen!

Die naweek het goed afgeskop met mooi rugby en terwyl Herrie heelmiddag Saterdag by die skool was, het ons 2 by die mark tussen al die antieke dinge gaan snuffel... Caromien het vir haar 'n serpie aangeskaf en het heeldag geglo sy jeuk daarvan :-) en ek het haar laat poffertjes proe. Hertzog en 'n klasmaat het 'n "Whiskey Tasting" vir die aand gereel en ek het vir Caromien aan 2 van my beste maats in Rotterdam voorgestel, Meredith & Arden. Die res van die naweek het ons gesmul aan boerekos, die winkels plat geloop en lekker gelag!
 Bo: Mark, Onder: Whiskey Tasting

Maandag het ons die trein na Bgrrreda - soos die kondukteur dit altyd uitspreek - geneem en daar het ons 'n bootrit om die stad geniet, 'n uitsmijter geëet, 'n kerk besoek en deur die park gewandel.
Breda

Ons volgende bestemming was Kinderdijk, in Lekkerland! Dis die eerste keer gewees wat ek laatmiddag by hierdie windmeule (wat ook 'n UNESCO Herritage Site is) was, en die ervaring is heeltemal anders as gedurende die dag wanneer dit wemel van toeriste. Ons het die skemer verder geniet met 'n glasie wyn saam met Herrie op ons kompleks se dakterras...
Kinderdijk, Lekkerland

Op Caromien se laaste vol dag in Rotterdam het ons weer baie tyd in die stad spandeer en ek het haar na al my gunsteling winkels gevat. Ons het vir Herrie by Hotel New York ontmoet vir middagete - ek het julle mos al vantevore van hierdie restaurant en sy geskiedenis vertel - en is met 'n watertaxi terug huistoe geneem.
Hotel New York

Soos altyd was dit sleg om na 'n lekker week saam te groet maar die trane was eintlik van dankbaarheid toe ons Woensdag totsiens sê! Watter voorreg om my dag tot dag bestaan hierdie jaar met een van my beste maatjies te kon deel. Dankie Dion en Caromien dat julle die kuier moontlik gemaak het, dit was so lekker en wonderlik goed vir my siel!

Die dag nadat Caromientjie terug is SA toe, was ek en Herrie weer oppad: hy na 'n regatta saam met RSM in Italie en ek na die dorpie in Duitsland waar ek in 2005 gewoon het vir 'n troue. Ek het gisteraand eers terug gekom en vertel julle volgende week van ons ervarings die afgelope naweek...

Lekker slaap...

3 comments:

  1. Fantasties Anellie! Dit was verskriklik lekker! Ek sal hierdie memories nooit kan vergeet nie. Mis jou al klaar so baie. X

    ReplyDelete
  2. ALLES WAS PERFEK! Danki dat jy en Harry shmarry my so bederf het en vir al die lag! Heerlik Francois Heerlik.. Laf joe

    ReplyDelete