Saturday, September 10, 2011

My Big Fat Greek Experience!

Kalimera!

Die tweede deel van ons somervakansie het ons in Griekeland spandeer en wat 'n fees was dit nie!  In retrospek is ons ongelooflik bly dat ons destyds toe ons die vakansie beplan het, besluit het om te gaan na waar die son skyn want Rotterdam het regtig na 'n lieflike lente direk oorbeweeg na herfs hierdie jaar.  

Twee nuusbrokkies gelede het ek julle vertel van die eerste deel van ons vakansie in Istanbul, en ons het op die 1ste Augustus nadat ons vir oulaas deur die manne in gebed wakker gesing is op 'n vliegtuig geklim na THESSALONIKI waar ons goeie vriend Christos ons op die lughawe ingewag het.
'n Griekse slaai en 'n koue frappe verwelkom my!

Oppad van die lughawe af vertel Christos ons van 'n groep mense in Thessaloniki wat hulself "the disappointed people" noem, wat as't ware in depressie verval het as gevolg van die ekonomiese krisis waarin Griekeland homself/haarself bevind.  "The disappointed people" wil aan almal wys presies hoe teleurgesteld hulle is en kamp daarom vir weke aaneen op die strand net buite die sentrum van Thessaloniki :-)

Herrie, Christos, sy meisie Athina en ek vertrek dieselfde middag nog na hul strandhuis in Halkidiki waar ons die volgende paar dae sou spandeer.  Die kar was nog nie eers afgeskakel nie toe Christos se Pa in sy kortbroek uitgehardloop kom om te sê dat die kos amper reg is, ons moet net so 10 minute wag!  Ons is lanklaas so hartlik êrens ontvang en dit was baie duidelik dat Ma Sula en Pa Nikos al ure besig is met die voorbereiding en dat lekker eet hoog op die Grieke se prioriteitslys is!  Ons het aangesit vir 'n feesmaal en as ek weer sien is Nikos langs my om nog 'n stukkie vleis in my bord te laai of my glas op te top en ek het selfs op 'n stadium uit 2 glase gedrink!  Bees, vark, lam, musakka, aartappels, slaaie, kase... noem maar op. Vir nagereg was daar onder andere 'n spesialiteit uit Thessaloniki op die spyskaart, trigonopanoramatos (foto).
Lekker bederf...

Christos se sussies, Mariana & Asteria, asook hul buurman Dinos en sy familie het lekker saam gekuier die aand en almal praat gelyk en voer jou heeltyd, nog en nog!  Die hele opset het my baie herinner aan My Big Fat Greek Wedding en ek het gewag dat Pa Nikos die Windex nader bring vir die uitslag op my bors wat ek in Istanbul opgedoen het :-D

Ons saam met die Bolmati gesin en Dinos se seuntjie

Halkidiki bestaan uit 3 bene en die strandhuis waar ons gekuier het was op die middelste been, by Agios Niolaos.  Mariana het vir die naweek saam met ons agtergebly toe hul ouers ná ete Vrydagaand terug is na hul huis in Thessaloniki en die 5 van ons is Saterdag na Manassu - 'n mooi strand waar jy 'n plekkie op die sand vooraf moet bespreek!  Almal op die strand was Grieks en so mooi bruin & gespierd en ek en Herrie het soos 'n seer oog uitgestaan.  Ons het vinnig tot die gevolgtrekking gekom dat Manassu soos die Clifton van Thessaloniki is!
'n Dag op die strand by Manassu

Die aand het almal net van die strand af op geskuif na die kroeg gedeelte en daar was 'n "beach party" in elke sin van die woord en ons het tot in die vroëe oggendure tussen al die mooi mense daar gekuier! Vet pret!
Al 3 ouens onder regs tussen Christos en Hertzog se naam is Dimitri!

Sondag het ons op 2 verskillende strande spandeer, eers Kavourotripes wat die hoogtepunt van die dag was en toe Kriaritsi wat steeds baie ongerep maar meer soos strande in SA is.Kavourotripes is 'n klein, idiliese strandjie wat tussen rotse geleë is en ons het vir ons 'n private plekkie uitgesoek waar ons die rotse en 'n stukkie see vir onsself gehad het...
Kavourotripes
Ek, Athina, Mariana, Christos & Hertzog

Christos se ouers en jonger sussie het die aand weer in Halkidiki saam met ons kom kuier en ons vier Asteria se "name day", elke Griek het een en Christos se "name day" is met Kersfees.Nadat ons koek geëet het ter viering van Asteria se naam - wat ster beteken - het die manne die see ingevaar met 'n "jetski" en ons het later gaan uiteet by die Bolmatis se gunsteling restaurant, Ntina.  Nog iets interessant wat ons geleer het van Griekse name is dat mens Christos of Nikos ens. sê as jy van hulle praat maar as mens hulle direk aanspreek is dit sonder die "s", met ander woorde Christo of Niko.

Op ons laaste dag in Halkidiki het ons 'n boot gehuur en die see ingevaar en as jy 'n lekker swemplek sien word die anker eenvoudig uitgegooi en ons spandeer 'n paar minute daar - ongelooflike helder water en mooi strande! 
Kristalhelder water van die see...

Ons het lekker vars seekos geëet en lui aan ouzo op ys geteug by 'n restaurant op die strand voordat ons die boot terug gevat het en in die kar gespring het terug na Thessaloniki.  Oppad terug moes ons wag vir 'n trop bokke om die pad te kruis soos in Afrika en het verder deur klein dorpies deur gevleg met die wind in ons hare en die klanke van Manos Hatzidakis in ons ore...
Nog 'n "lingering lunch"!

Die volgende paar dae het ons in Thessaloniki spandeer in Mariana se woonstel wat vir die week weer by haar ouers ingetrek het sodat ons 'n blyplekkie het, dierbaar!  Een van Herrie en Christos se klasmaats, Naoto uit Japan, het 2 nagte saam met my en Herrie in die woonstel gebly en ons het op ons eerste aand in Thessaloniki al langs die promenade afgestap en straatartiesten wat ongelooflike toertjies uitoefen bewonder.  Oppad terug het ons spookasem gekoop en geleer dat die Griekse woord vir dit "ouma se hare" is, en het weer opnuut besef hoe beskrywend Afrikaans is!
Thessaloniki: Promenade en "White tower"

Ek en Herrie het onsself toeris gehou in Thessaloniki en het verskeie monumente en kerke besoek oor die volgende 3 dae.  Die "White Tower" in die foto hierbo word gesien as die simbool van Thessaloniki en is 'n fort van die 15de eeu n.C.  Almal in die winkels "yasas" ons voor en agter want dis hoe die Grieke groet en dit beteken "health to you", maar dit het ons lank gevat om gewoond te raak en nie te skrik elke keer as jy iemand dit hoor sê nie!  Nog iets vreemds wat ons agtergekom het is dat al die mans in die stad met "moon bags" rondloop :-)  Herrie was een oggend saam met Christos na hul fabriek en het ook 'n draai by 'n staalfabriek gemaak - dis waar ons op hierdie stadium staan ten opsigte van werk volgende jaar, steek voelers uit in alle rigtings!
Thessaloniki: Kerke, uitgrawings, winkels en meer op 'n snikhete dag!

Ons het in Fokas vir Herrie gaan soek vir skoene en het seker 15 minute gesoek na die uitgang van hierdie 6 verdieping winkel wat soos 'n doolhof gebou is...  natuurlik het die aanwysings ons niks gehelp nie want dit was als Grieks vir ons, "pun intended"!  Ons moes dalk beter "fokas" soos ons Afrika maats sal sê :-D  

Thessaloniki is in 316 voor Christus gestig deur Cassander wat die stad na sy vrou vernoem het, en sy was ook 'n half-suster van Alexander the Great.  Die stad het 'n baie ryk geskiedenis en van die kerke wat ons gesien het soos die Agia Sofia en Adios Dimitrios is al 1500 jaar oud!  Die Rotunda (op die foto hierbo heel links in die boonste ry) is die oudste monument in Thessaloniki en was al 'n Romeinse grafkelder, toe 'n Christelike kerk en later 'n moskeë en die mure is 20 voet breed!  Orals in die stad sien mens ou kerke tussen moderne geboue en woonstelblokke pronk soos in die foto's hier onder.
Oud en nuut

In die buurt waar ons in Mariana se woonstel gebly het is daar 'n kafee net vir oumense en elke keer as ons daar verby stap het ons die oupas op die sypaadjie sien sit!
Kafee vir die oudiere, te oulik!

Op ons laaste dag in Thessaloniki is ek en Herrie op 'n verkenningstog die bulte uit na die ou stadsmuur waarvan 3 van die oorspronklike 7 km nog staan.  Hoe bou mens 'n muur van tussen 8.3 en 10.5 meter hoog in die 4de eeu n.C?!  In die verte het ons ook die St. Paul kerk gesien waar Paulus destyds in die grot weggekruip het en daar later 'n kerk gebou is.  Orals in die oudste deel van die stad is daar skielik trappies wat nou straatjies met mekaar verbind en ons bevind onsself in 'n ander wêreld... 'n sprokieswêreld!
Ou muur en trappies orals in die ou stad

Christos en Athina kom laai ons 'n laaste keer op vir aandete en drankies saam met Sucrati en Maria by 'n "trendy" kroeg by die see.  Ek't vir Christos 'n kaartjie met 'n ope uitnodiging vir etes by ons woonstel in Rotterdam gegee en maak nie saak hoeveel keer hy hier inklok nie, ons gaan nooit genoeg kan dankie sê vir die wonderlike week in sy tuisdorp nie!
Laaste aand in Thessaloniki...

Vrydagoggend het ons op 'n vliegtuig geklim na ATHENE waar ons net een aand oorgeslaap het en het dus 'n vol dag beplan!  In Athene aangekom het ons gou ons tasse by die hotel gaan aflaai en is dadelik na die Presidensiële Paleis om op Gisela se aanbeveling na die "changing of the guards" te gaan kyk, skreeusnaaks!  Mens sien net tone punt en rokkies swaai... maar moenie dat dit jou bedrieg nie, daai mans (of Evzones soos hulle hier bekend staan) is gróót! Ek heg vir julle 'n foto van my langs een van hulle aan dat julle kan sien hoe lank hulle is, asook 'n video van die affêre!
Soldaat by Presidensiële Paleis

Changing of the guards - hahaha!

Nee kyk, Kurt Darren praat waar: "Om so te lyk IS teen die wet"!

Ek en Herrie stap al langs geheimsinnige gangetjies met trappe deur iets wat soos 'n woonbuurt lyk op en op en op na die Akropolis.  Ons besef vinnig dat dit waarskynlik die warmste is wat ons nóg hierdie jaar gekry het en soos die duiwel dit wou hê het nie een van ons 'n hoed gegryp voor ons by die hotel weg is om na die soldate te gaan kyk nie en daar is natuurlik GEEN skadukol bo op die koppie nie!
Pragtige pad op na die Akropolis

Oppad na die Akropolis het ons verby die Odeon van Herodus gestap waar daar steeds jaarliks teater opvoerings gehou word.  Die eerste tempel wat op die Akropolis vir die godin Athena opgerig is, het reeds tydens die 6de eeu voor Christus al op die koppie gepronk!  Die grootste monument op die Akropolis is die Parthenon en ander monumente daar is die Erechteion en die Tempel van Athena Nike.  Al hierdie monumente is tussen 448 em 406 v.C opgerig... ongelooflik dat ons vandag nog daarna kan gaan kyk!  

'n Interessantheid van die Parthenon is dat die kolomme doelbewus nie reguit is nie sodat die monument van 'n afstand af regop vertoon - dat die mens 400 jaar voor die koms van Christus al doelbewuste aanpassings aan tekeninge gemaak het om optiese illusies in ag te neem gaan my verstand te bowe!
Die Akropolis, Athene!

Soos Istanbul katte het, so het Athene honde, groot honde, orals - selfs bo by die Akropolis! Iemand wat ek ken, ken iemand wat vertel het dat die honde in Athene 'n probleem begin raak het tydens die jaar wat "101 Dalmations" in die flieks gewys het want daarna wou almal honde hê en hulle was skielik orals te koop.  So het al die nuwe honde weer babatjies gehad en later toe die mark versadig was moes die regering ingryp.  Hulle het gereel dat alle klein hondjies wat nie huise het nie na parke geneem kon word waar die regering almal gemerk het met 'n "microchip" in die oor en sederdien behoort alle ongewenste honde aan die regering.Hulle word een keer per week deur die stadsraad gevoer maar is spekvet en baie vriendelik en geniet heeldag aandag van toeriste!
Honde van Athene

Ons het die aand 'n vriendin van Hertzog van RSM, Liz, vir ete ontmoet want sy was ook net een aand in Athene en ná ete het ons gou na die verligte Akropolis gaan kyk voor ons ingekruip het na 'n baie veeleisende dag! 
Die Akropolis snags

Na slegs 4 ure se oë toeknyp was ons weer op en oppad na die hawe in Piraeus vanwaar ons 'n ferry na Santorini geneem het.  Ek wou graag nou van Santorini vertel maar ek glo dat julle teen die tyd al moeg gelees is so ek skryf later in die week van 5 onvergeetlike nagte op hierdie wonderlike eiland...

Hertzog het heeldag vandag eksamen gekryf, op 'n Saterdag!  Hulle noem dit 'n "take home exam" en hy kon vanoggend 08h00 die 3 vrae van die internet aflaai en het dan tot vanaand 24h00 om hulle in opstelle van 1200 woorde elk te beantwoord.  Hy is steeds daarmee besig (so halfuur oor voor sy tyd verstreke is) maar sodra hy dit ingedien het gaan ons op ons ysterperde spring want een van ons ander Griekse vriende, Panos, hou vanaand partytjie vir sy verjaarsdag!  So oor 'n paar minute is dit ons en die fietse in die reen... altyd lekker!

Lekker slaap...

1 comment: