Tuesday, November 15, 2011

Diertjies in Derry, Dingle en Dublin!

Hier volg my laaste vertelling van ons UK trip (wat ook nou al amper 'n maand gelede verby is) en ek moet bieg dat Ierland waarskynlik vir my die lekkerste deel van ons vakansie was. Die "diertjies" in die titel van hierdie nuusbrokkie verwys na ons 2 Badenhorsts :-)

Ná 'n kort vlug van Glasgow na Belfast het ons 'n nuwe kar op die lughawe gekry waarmee ons Ierland sou verken! By ons hotel aangekom was dit donker en nat en koud en ons het besluit om die een aand wat ons in Belfast het liewer in 'n restaurant en gesellige kroeg te spandeer as wat ons buite iets te siene soek. 

Robbinsons, 'n groot ou huis met 5 afdelings, en sy "Half Price Monday" spyskaart het gesorg vir lekker vol magies voordat ons langsaan by die legendariese Crown Saloon se deure in (asook 100 jaar terug in tyd) stap!  Crown Saloon bestaan sedert 1826 en in 1981 is ongeveer 400 000 pond spandeer om hom te restoureer en sy Victoriaanse prag te herstel.  Pragtige hout inlegwerk, 'n magdom mosaïek teëltjies, swaar hout kolomme en versierde spieëls is orals in hierdie kroeg te sien en die daklampe werk nog met gas!  
Crown Saloon, Belfast

Hier het ons vir Gary & Mike ontmoet wat by ons tafel met my kom praatjies maak het terwyl Herrie by die kroeg vir ons 'n guinness en baileys gaan bestel het.  Die res van die aand het ons aandagtig geluister na hulle voorstelle van plekke in Ierland wat ons nie mag mis nie, 100 vrae beantwoord oor die politieke stand van sake in Suid Afrika en hard probeer om hulle land se komplekse verhouding tussen die protestante en katolieke gemeenskappe te verstaan...  Dit het vinnig duidelik geraak dat die laas genoemde situasie steeds vandag nog baie sensitief is!

Oppad uit het ons vir Robbert ontmoet en dié het ook 'n vinnige geselsie aangeknoop en gevra dat ons vir sy vriendin, Juliette Armstrong wat 'n prof in keramiek is in Pietermaritzburg, moet groete stuur :-)  Hierdie was ongelukkig al wat ons van Belfast kon sien want ons het die volgende oggend weer vroeg in die pad geval, maar dit was genoeg om te besef dat dit vriendelike mense is, die Iere!

Die volgende dag het ons die "Causeway Coastal Route" gery in gietende reën - ongelukkig geen "Irish luck" gehad wat die weer betref nie.  Ons eerste stop was die Carrick-a-Rede toubrug in Ballintoy...  'n  brug hoog bo die see met 'n pragtige uitsig oor klowe!
"For the boiling bolders are ever crashing themselves madly between the rocks hundreds of feet beneath, and the rope bridge is thrown about by the wind like a thread of fabric.  Few trust themselves upon this airy fabrication but Mr Wilson and I for the honor of Old Kentucky braved all the terrors - and passed to and from the rock" -  Charles Leonard Thomassan, Kentucky, writing in 1851, following his visit
Carrick-a-Rede rope bridge

Nadat Herrie lekker gelag het vir 'n gladdebek Australiaanse oom se hoogtevrees, het ons verder gery na "Giants Causeway" - een van die UK se natuurlike wonders en 'n verklaarde UNESCO World Heritage Site.  Dit is 'n area wat uit 40 000 klip kolomme bestaan wat in mekaar pas en gevorm is as gevolg van vulkaniese uitbarstings tussen 50 en 60 miljoen jaar gelede!  Die bokante van hierdie kolomme (wat meestal 6-hoekig is, alhoewel van hulle ook 4, 5, 7 of 8 hoeke het) vorm "stepping stones" van die voet van 'n krans af en verdwyn in die see...  Die hoogste kolomme is omtrent 12 meter hoog en dis moeilik om te glo dat elkeen van hierdie perfekte "stepping stones" natuurlik gevorm is! Die Skepping is darem maar ongelooflik!
Giants Causeway

Volgende op ons agenda was Londonderry, of net Derry soos die Iere daarna verwys.  Die naam is in 1613 van Derry na Londonderry verander toe die stad 'n "Royal Charter" deur King James I van Engeland verleen is en die naamsverandering is vandag nog vir vele 'n bitter pil om te sluk!  Ons het 'n staptoer gedoen om so vinnig as moontlik, so veel as moontlik van hierdie stad te sien en leer voordat ons weer in die pad val.  Hierdie is 'n "walled city" met ander woorde die stad (met sy volle 30 000 vierkante meter) word nog deur die ou muur omring!  Van die middelpunt van die stad sien mens al 4 poorte in die muur en dis moeilik om te glo dat hierdie "beskermde" stad soveel probleme agter sy mure versteek... 
Diertjies doen Derry

Londonderry het bekend (of berug) geraak deur 2 tragiese gebeure: Die "Siege of Derry" in 1689 en "Bloody Sunday" van 30 Januarie 1972. Die "Siege of Derry" was hoofsaaklik tussen protestante en katolieke groepe en hul konings en het 105 dae geduur waartydens 8 000 uit die 30 000 inwoners van die stad oorlede is. "NO SURRENDER" het 'n bekende gesegde tydens hierdie stryd geword.   Steeds vandag is daar 'n groot skeiding in Derry tussen die katolieke en protestante gemeenskappe en in die laaste 40 jaar het die protestante bevolking van 18 000 na 500 gekrimp.  Protestante woonbuurte in Derry word ook baie duidelik gekenmerk aan die rooi, wit en blou randstene (kleure van die Union Jack) en ons het selfs 'n woonbuurt gesien wat omhein is om hierdie minderheidsgroep teen die onrus te beskerm!  Daar word egter huidiglik gepoog om die skeiding te oorbrug en ons is vertel van samewerking tussen protestante en katolieke predikante wat in mekaar se kerke preek.
Protestante woonbuurte in Derry se Union Jack randstene en omheining

Tydens "Bloody Sunday" is 26 ongewapende protesteerders (vir burger regte) en omstanders deur die Britse weermag geskiet en 14 van hierdie mans en tieners is oorlede. Ondersoek is direk na die insident ingestel en die soldate en die Britse owerhede is onskuldig bevind, maar in 1998 is die saak heropen en 12 jaar later, op 15 Junie 2010, is bevind dat die moorde "unjustified and unjustifiable" was en David Cameron, die Britse premier, het 'n formele verskoning namens die Verenigde Koninkryk gerig.  Volgens ons gids en die Iere in ons staptoer kan hulle nou, na al die jare, die gebeure van hierdie hartseer dag agter hulle sit en weer bande met die Britte smee.  Paar bekende liede is op hierdie gebeurtenis gebaseer, soos U2 se "Sunday Bloody Sunday". 
Orals in Derry is geverfde mure wat die streek se hartseer verlede, 
asook die huidige politieke en godsdienstige verdeeldheid uitbeeld.

Ons het in 'n klein dorpie genaamd Westport oornag en 'n draai by The Porter House gaan maak wat al verskeie toekennigs, onder andere "Best Traditional Bar in Ireland" ontvang het. Hier het 2 manne gesellig musiek gemaak en hulle kon selfs vir Herrie oortuig om ook iets te speel :-) Een trotse vroutjie in die gehoor het hard saam gesing!  Wat ek egter die meeste van hierdie kroeg waardeer het, is die ou naaldwerktafels wat hulle orals gebruik het...
The Porter House, Westport

Woensdagoggend het ons gou Westport se kleurvolle hoofstraat verken en het later besef dat hierdie die eerste van vele kleurvolle dorpies in Ierland is wat ons sou besoek!  Dit het steeds gereën en ons het 'n oulike slagspreuk in een van die winkels raakgeloop: "Ireland has one of the world's highest rainfall statistics, so if you see an Irish man with a tan, it is probably rust!" 
Kleurvolle Westport

Oppad na die "Cliffs of Moher" het dit oopgetrek en was dit skielik sonnig!  Orals in Galway County het ons piepklein, grasgroen plasies gesien wat deur lae klipmuurtjies geskei word... 1 met koeie, langsaan is skape, oorkant perde!  Mens ry van een enkelspoorpadjie na die volgende en toe sien ons 'n baie snaakse padteken: Caution: Drive carefully, castle ahead!  - Net in Galway :-)  Op hierdie stuk pad tussen Westport en Dingle het Herrie sy kop verloor en vir so uur of 2 vir my als wat hy wou gesê het, gesing, so ons het besluit om 'n  breuk uit die kar te vat en in Clarenbridge te stop vir oesters by Paddy Burke's op aanbeveling van die AA se Essential Ireland Guide!  
Pad tussen Westport en Dingle - Galway County

Die Cliffs of Moher in County Clare was 'n finalis van die "7 new world wonders" - op daai noot, baie geluk aan Tafelberg!  Die kranse by Moher is op die hoogste punt 214m hoog en strek vir 8km langs die atlantiese oseaan.  O'Brian's Tower is 'n ronde kliptoring wat in 1835 op die kranse opgerig is deur Sir Cornelius O'Brian om vroulike besoekers van die Cliffs of Moher te beindruk!
Cliffs of Moher - County Clare

Verder op ons pad na Dingle het ons 'n ferry oor die Shannon rivier gevat en in die proses 83 myl se ry gespaar - dankie aan die vriendelike Ier wat hierdie waardevolle inligting met ons gedeel het tydens ontbyt! Helder geverfde geboue in alle kleure van die reënboog was te sien in al die klein Ierse dorpies waar ons moes deur ry en ons het verby 'n begraafplaas gery waar ons eers moes stop om die prentjie te waardeer want die son het uitgekom na 'n swaar reënbui so al die kleure was ekstra helder!  Die laaste hekkie was Connor's pass op na Dingle waar ons 'n baie gawe man met 'n gastehuis ontmoet het in die hoofstraat van hierdie klein dorpie en ons het op sy aanbeveling by die waterfront gaan eet.

v.l.n.r: Son op die Shannon rivier, son kom uit na reën die begraafplaas skoon gewas het
v.l.n.r: Connor's pass, sonsondergang van die pas af, geheimsinnige maan...

Ná ete het ons vir John - 'n 60 jarige boer van Dingle - ontmoet wat dadelik met my 'n geselsie aangeknoop het.  Hy was baie bly daai aand want 1) die son het sy gesig gewys, 2) sy plaaslike sokkerspan het gewen die middag en 3) hy was uit vir die aand!  Aanvanklik het ek bietjie gegril vir die ou man langs my wat sy tande moes uithaal voor hy sy vis met sy hande eet, maar hy't vinnig baie dierbaar geraak! Herrie het aanvanklik gedink dis alkohol se skuld dat hy dieselfde vrae meer as een keer stel, maar hoe langer ons gesels het, hoe meer het ons besef hy is eintlik baie wakker daar bo en dat die ou vergeetsiekte blameer moes word.

Hy't 3 tips vir ons een aand in Dingle gehad: * verloor jou horlosie want hier beteken tyd niks, * drink baie bier en * slaap more laat!  Ons vind toe later die aand uit dat John se groot opgewondenheid oor die sokker was omdat sy span daai komende Saterdag in die semifinaal sou speel en dit het laas in 1990 gebeur, EN... wag vir dit... HY is die afrigter!

Net na 22h00 het John gegroet want hy moes sy varke gaan voer! Hy't bietjie vergeet om sy tande terug te sit vir die foto :-)
Wat makeer daai pinkie?!

Ons het die res van die aand na 'n opgewekte Ierse orkes geluister en onder die mooiste maanlig deur hierdie feestelike dorpie na ons gastehuis gestap... 
Jolige Dingle snags

Teen John se beterwete het ons die volgende oggend dou voor dag opgestaan om Dingle te verken voordat ons gereed gemaak het vir 'n lang dag op die pad.  Die oulikste ding in Dingle (buiten die vlaggies orals) was Foxy John's wat 'n hardeware winkel gedurende die dag en 'n kroeg saans is!  
Diertjies in Dingle

Ons het eers al langs The Ring of Kerry gery en toe op die snelweg geklim vir die lang pad na Dublin.  In Dublin het ons die kar terug gegee met 800 myl deur Ierland op die klok en Herrie en die Hertz manne het lekker rugby gepraat en die skeidsregter blameer vir die springbokke se verloor.
Mooiste strand langs The Ring of Kerry

Dit was skemer toe ons Dublin se strate invaar en ons het vlugtig by die Dublin Spire ('n 398 voet naald) gestop.  In die Temple Bar area het ons 'n Koppaberg by Quays Bar gedrink waar die New Shamrockers opgetree het en Hertzog kon oortuig om die CD te koop, waarna Galagher Boxty House die lekkerste disse en nóg meer gebied het as wat Tripadvisor belowe het. 
Eerste indrukke van Dublin!

Die volgende oggend word ek wakker met Herrie wat verward voor die venster staan, want hy was vas oortuig daarvan dat iemand in die nag sy foon en beursie deur die oop venster gesteel het!  Hierdie dag het ons in 'n Hop on - Hop off kaartjie geinvesteer en ons eerste afklim plek was by Trinity College waar hulle besig was om 'n musiekvideo van 'n beroemde Indiese sanger te maak - Herrie kon vir ons 'n foto van hom steel.  Ons het na die standbeeld gaan kyk van 'n bekende dame van Dublin, Molly Malone, wat bedags goedjies en snags haarself verkoop het.  Die toergids het gesê: "Molly was celibate... Sell-a-bit here and sell-a-bit there!" Ons het weer die "disappointed people" gesien (soos Christos hulle noem) wat reg oor die wêreld nou voor banke in tentjies kamp en ek't 'n vreemde boodskap tussen hulle plakkate raak gelees: "free hugs here"!  Interessant op hierdie dag se uitstappie was die nuus dat 2 bekende kerke in Dublin se restourasie deur 'n brouer en 'n distilleerder gefinansier is. Snaaks was die klomp mans wat oral in sweetpakke rondstap en deur Hertzog die pajama bendes gedoop is!
Dublin se Molly, pajama bendes, brûe, kerke en "disappointed people"!

Ons het 'n toer van die Jameson Distillery gaan doen wat in 1780 deur John Jameson op die been gebring is.  Hier het ek in 2006 "Jamesons & cranberry" geproe en dis steeds 'n gunsteling van my!  Anders as Amerikaanse Whiskey wat slegs 1 keer, of Skotse Whiskey wat 2 keer gedistilleer word, word Jameson Irish Whiskey 3 keer gedistilleer.  Herrie het deelgeneem aan 'n "tasting".
Jamesons Distillery

Nadat ons die winkel straatjies verken het, het ons weer in 'n jolige kroeg in Temple Bar geëindig waar die mense 17h45 reeds op 'n stasie was! Die atmosfeer in hierdie oorspronklike plekke is net soveel lekkerder as in enige Irish Pub wat reg oor die wêreld in elke groot stad bestaan.
Jolly Irish Pubs
Diertjies in Dublin

Op die laaste oggend van ons vakansie het ons die Guinness Storehouse gaan besoek.  Oppad soontoe vertel die gids op die rooi bus ons dat daar 'n era in Dublin was waar die huise só gebou is dat die vensters kleiner raak met elke vloer wat mens op beweeg en die bediendes sou dan bo woon waar die kleinste vensters is.  Van daar die spreekwoord "daylight robbery"!  
Daylight robbery...

Ander interessanthede waarvan ons geleer het, het die "Freedom of the City" toekenning ingesluit.  Daardeur erken Dublin die bydrae wat sekere mense tot die stad gehad het en dit skenk ook eer aan belangrike besoekers van Dublin.  Nelson Mandela, Bill Clinton, Moeder Theresa en Bono van U2 sluit bekendes in wat die "Freedom of the City" ontvang het.  Saam met die toekenning kom 'n lang lys van eienaardige pligte, byvoorbeeld dat 'n Freeman of Freewoman bereid moet wees om op kort kennisgewing by die militêre dienste aan te sluit?! Vreemde voordele sluit in dat 'n Freeman of Freewoman die reg op weiding van skape op gemeenskaplike grond binne die stad se grense het en daarom het Bono (met die hulp van The Edge) die dag nadat hy "Freedom of the City" in 2000 ontvang het, 'n klomp skape op St. Stephen's Green laat wei :-)

Daar is ook vertel dat die regering gevra het almal moet die deure van hul huise swart verf as simbool dat die stad rou oor Queen Victoria oorlede is, maar geen Dubliner wil gesê word wat om te doen nie, en daarom het hulle die deure al die kleure van die reënboog geverf!  
Deure van Dublin

Ons het op ons eie tyd deur die Guinness Storehouse gestap en die tradisies en tegnologie waardeer.  
Het julle geweet: 
* Die wêreld drink meer as 10 miljoen glase Guinness elke dag?!  
* Arthur Guinness het soveel vertroue in sy resep gehad dat hy 'n 9 000 jaar lange huurkontrak geteken het vir die perseel waar die brouery vandag staan.
* Arthur en sy vrou, Olivia het 21 kinders gehad!  Party Iere glo dat die rede daarvoor is omdat Olivia gesukkel het met haar gehoor en saans as hul in die bed klim het Arthur gevra: "are we going to sleep, or what?" en omdat Olivia effe doof was het sy omgedraai en gesê: "what?!"  Ander sê weer: "There is a baby in every bottle!"  (Ek het later gelees dat slegs 10 van die 21 kinders 'n volwasse ouderdom bereik het - tragies).
Guinness Storehouse, Dublin

Oppad terug hotel toe was ons gou by Christ Church in waar 'n koor opgetree het en daarna het ons verby 'n opgtog van die "disappointed people" gestap.  
Christ Church

Dit was 'n fantastiese 2 weke waarin ons baie gesien en ervaar het, maar ek moet sê ons was nogals uitgeput en baie opgewonde toe ons op Schiphol land en weet ons is amper by die huis.  Só opgewonde was my man dat hy met ons tasse by die trein kaartjie masjien op Schiphol gewag het terwyl ek gou paar kruideniers vir ons woonstel kry, en toe hy weer by my aansluit voor die winkel was daar 'n tas te min!  Ek't dadelik daarna gevra en toe hy omdraai na waar die tas gestaan het, wag 2 groot Hollandse polisiemanne op radios daar.  Die honde van die bom afdeling is toe reeds ontbied en hulle was baie kwaad oor ons so onverantwoordelik was om die tas daar te los...  Herrie het 'n grappie gemaak en gesê hy weet hulle gee hom moeilikheid maar sy groot straf gaan kom sodra hulle hom in my hande oorlaat maar hulle het glad nie gedink dis snaaks nie!  Dit was ons eerste kennismaking met die polisie hier - so bietjie meer as 'n maand voor ons Holland verlaat - en ons het verseker 'n les geleer!

Ja, die jaar het gevlieg en ons tyd hier staan einde se kant toe...  Daar word nog elke dag gewik en weeg waar ons volgende jaar gaan wees, maar in die tussentyd maak ons elke dag hier die moeite werd!  Ek skryf gou weer oor hierdie fantastiese land waarin ons die voorreg gehad het om die laaste 11 maande te kon leef...

1 comment:

  1. What an adventure! That bridge--I couldn't do it. I love the doors and the Guiness 'staches. Speaking of 'staches, love the goatee, H!!

    ReplyDelete