Friday, November 18, 2011

My Belofte...

Ek het reeds voorheen daarvan melding op die blog gemaak dat ek tot die besef gekom het dat ek meestal op die blog vertel van uitstappies buite Nederland en ek skryf dalk te veel oor die speel in Europa en te min oor die bly in Rotterdam!   Nederland is natuurlik waar ons die meeste tyd spandeer en ek het julle minder vertel van hierdie land as wat ek graag sou wou... 

Ons dae hier is dan nou ook getel want 02 Desember (o jis, dis vandag oor 2 weke) is ons oppad huistoe!  Met hierdie datum in gedagte, het ek en Herrie die laaste paar maande baie van Nederland gesien en ek belowe nou plegtig om in die volgende 2 weke so veel as moontlik van ons ervaringe hier met julle te deel!  

Nederland is sinoniem aan tulpe, kaas, klompe, windmeule, bitterballen, kunswerke van die meesters, blou & wit Delftware,  gragte, poffertjes, seiljagte en miljoene fietse!  Ek glo dat ons al hierdie dinge gesien, geproe en beleef het.
Nederland

So maand of 2 gelede, het ek & Herrie besluit om (saam met goeie vriende Meredith & Elliot), 100 km noord te reis vir die dag met die hoop om die beroemde kaasmark van Edam met ons eie oë te sien! Edam is bekend vir die maak en verkoop van kaas, maar oppad soontoe het ons uitgevind dat die laaste "kaasmarkt" vir die seisoen die vorige Woensdag was :-( Opgewonde het ons die plan aangepas en het besluit om die dag te spandeer in Edam en drie ander klein dorpies in die omgewing: Volendam, Monnikendam en Marken.

EDAM
Dit was amper 11h00 toe ons van die bus af hop in Edam, sowat 30 minute noord van Amsterdam. Die hele dorp was vreeslik stil en slegs hier en daar was 'n paar toeriste te sien. Ons het kaas geproe by twee verskillende winkels en het geleer dat Edam kaas die laagste vet inhoud van kase in Holland het, asook dat Holland kase maak wat ander land s'n na boots soos parmesaan en Emmentaler. Ons gunsteling was 'n basilikum pesto Edam kaas waarvan ons 'n blok gekoop het wat Herrie die res van die dag moes saamdra :-)
Edam = Kaas

Ek was in 2006 ook vlugtig in Edam saam met my goeie vriendin Tertia en ons was toevallig by dieselfde kaaswinkel in en glo dit of nie, maar dieselfde man werk steeds daar, 5 jaar later!  Ek't 'n foto saam met hom geneem toe ons nou daar was want ek was oortuig daarvan dat ek êrens 'n foto van 2006 sal hê en kyk wat lewer die argiewe op:
2006 - selfs dieselfde uitrusting!

Dit het ons ongeveer 5 minute geneem om deur die pragtige sentrum van Edam te stap wat uit die 14de eeu dateer. Die dorpie is baie persoonlik met slagspreuke soos "Een Goede Buur is beter dan een Verre Vriend" op die mure geskryf en ons het verby Marie Molenaar en Piet Koning se huis gestap - dit staan letterlik op die deur dat hulle daar bly...

Daar was nie 'n siel in oog aan die kanaal-kant van die dorp nie, en die stad se fort was nie heeltemal wat ons verwag het nie, so ons het al langs die see af op 'n dyk gestap na ons volgende stop: Volendam. 
Edam

'n Bietjie inligting oor dyke: 'n Dyk is 'n wal of 'n muur (meestal van grond) wat watervlakke reguleer. Sodra dyke gebou is, word kanale en pompe gebruik om die grond te dreineer en om areas droog te hou. Sedert die 1200's is windmeule gebruik om oortollige water van die vrugbare grond af te pomp, maar vandag is die meeste van die windmeule met elektrisiteit-en diesel-aangedrewe pompe vervang. 

Die Hollanders en hul voorvaders is al meer as 2000 jaar besig om land van die Noordsee te herwin en vandag is ongeveer 27% van Nederland onder seevlak geleë - hierdie gebiede is die tuiste van meer as 60% van die land se bevolking! Rotterdam byvoorbeeld, is 6 meter onder seevlak geleë... maak mens bang! Omdat die land so kwesbaar is vir vloede, word daar om 12h00 op die eerste Maandag van elke maand seker gemaak dat alle noodmaatreels in plek is en 'n oorverdowende sirene kondig aan dat hierdie prosedures deur die relevante persone getoets moet word. Ek onthou nog die eerste Maandag wat hierdie sirene my paniekerig gehad het want dit klink letterlik of hy in ons woonstel af gaan en ek het verward rond gebel om by die ander nuwe skoolmaats uit te vind of dit dalk 'n brandgevaar of ontruimings sein is!

Ek weet nie of jul uit die foto's hieronder kan sien hoeveel hoër die see links as die land regs van die dyk is nie:
Stap al langs die dyk van Edam na Volendam

VOLENDAM
Volendam was stampvol toeriste, busse wat in alle rigtings ry en baie winkeltjies!  Een van die winkels het beesvelle verkoop... my laat huistoe verlang!  Dit is 'n baie mooi dorpie, geleë op die water en beroemd vir lekker seekos, maar ek verstaan ​​steeds nie heeltemal hoekom hierdie dorp so gewild is in vergelyking met Edam en die ander dorpies wat ons besoek het nie. Ons het al langs die Waterfront geloop, ons eerste haring in Holland probeer, 'n lekker vars vissie geniet en op 'n bus gespring na Monnikendam.
Volendam v.l.n.r: Velle, winkels, eenvorming huise, vreemde huisies?!

Ons was op die bus vir ongeveer 3 minute toe ons 'n kaas & klompe fabriek in die verte sien en by die eerste volgende stop het ons afgeklim en na die fabriek begin stap! Toe ek en Herrie in Januarie in hierdie area was het ons by 'n klompfabriek gesien hoe 'n klomp van begin tot einde met die hand gemaak word in die tyd wat dit die man geneem het om die geskiedenis, betekenis, en interessante feite oor klompe met ons te deel. Ons was op soek na dieselfde vertoning, maar alas, al die klompe in hierdie fabriek word deur 'n masjien gemaak.

Vroeër in die jaar was daar 'n ramp en ek't 'n hele paar foto's en videos verloor (onder andere die van die klomp demonstrasie wat ons in Januarie gesien het) maar ek't 'n video op youtube gekry van 'n demonstrasie by dieselfde fabriek, deur dieselfde man, met dieselfde grappies! Die video in die "link' hierbo is in 2008 geneem, en ons was begin van hierdie jaar daar, so hierdie man werk ook al 3 jaar hier... lyk my mans in Holland wissel nie graag van beroep nie!
Kaas & klompe fabriek

Nadat ons 'n paar lawwe foto's geneem het en weer aan kaas gesmul het, het 'n man met 'n paar baie helder oranje klompe aan ons gewys hoe die oorspronklike gereedskap gebruik is en het vertel dat klompe nogsteeds vandag gebruik word - ongeveer 1 miljoen pare word aan Nederlanders en toeriste verkoop elke jaar.  Klompe kan blykbaar meestal gesien word aan die voete van boere en konstruksiewerkers wat toegelaat word om te kies tussen klompe of "safety shoes".  Hy het verder verduidelik dat klompe water en sneeu uithou, jou voete baie warm maak en boonop gemaklik is... as hy so sê! 

MONNIKENDAM
Ons het vir die 2de keer daai dag op 'n bus geklim na Monnikendam waar ons net 'n paar draaie gestap het en 'n vinnige roomys kon eet want ons wou graag voor son onder by Marken uitkom. Monnikendam is 'n dierbare dorpie en vir my persoonlik was dit meer bekoorlik as Volendam. Daar is 'n pragtige ou hawe en die vreemdste ding van hierdie plek was die kerk wat so skeuf en krom is dat dit lyk asof hy enige oomblik in die grond gaan verdwyn!
Monnikendam - Krom Kerk
Monnikendam was vroeër 'n belangrike hawestad, soos Volendam
Boodskap by die stasie waar ons 
vir 'n bus na Marken wag

MARKEN
Monnike het in die 13de eeu op die klein eiland van Marken gevestig en omdat hulle bang was dat die seevlakke sou styg het hulle al die huise op mensgemaakte heuwels en stelte gebou. Die huise is ook gebou uit hout, eerder as klip, en hulle is groen geverf met wit afwerkings. 

In 1957 is 'n dyk opgerig wat die eiland van Marken (wat vroeër net per boot bereikbaar was) met die vasteland verbind het. Klein kanale vleg deur die dorp en smal bruggies verbind die stegies en paaie. Vrugtebome, son-gebleikte-wasgoed en sku skape versier die landskap... Wat 'n rustige en unieke plek!
Mooie Marken

Tussen Edam, Volendam, Monnikendam en Marken sou ek sê dat laasgenoemde my gunsteling was!  Min het ek geweet watter mooi die aand nog vir ons voorlê...

Ons het vir Mer & Elliot gegroet en begin aanbeweeg na Warder waar ek en Herrie die aand in 'n gastehuis oornag het - 'n geskenk van my Spaanse vriendin Arantza saam met wie ons in Brussels gekuier het vroeër die jaar... Muchas gracias Arantza!  

Die gastehuis was in die platteland geleë en dit was lieflik om vars lug in te asem, plaasdiere in die veld te sien en deur kilometers se uitgestrekte lande en grasgroen velde omring te word.  Ons het vêr gestap van die busstop na die gastehuis so daar was baie tyd om die oulike omgewing te waardeer en op 'n bankie in die middel van nêrens te sit en die son swaar te sien sak...
Soos wanneer kinders van Gauteng op die plaas kom :-)
Oppad na ons gastehuis... Appeltje voor de dorst?!

Pootuit na 'n opwindende dag het ons vroeg gaan slaap om uitegrus te wees vir Amsterdam die volgende dag.  Ons moes gaan aansoek doen vir visums in Amsterdam en het besluit om 'n ou vriend van my daar te ontmoet en het dele van Amsterdam saam met hom verken waar ons nog nie voorheen was nie...

Lees volgende week oor ons dag in die hoofstad, 'n uitstappie na Dordrecht, museum nacht in Den Haag en van fietsry in National Park De Hoge Veluwe!

Ek weet glad nie hoe ek (of enige ander kinders hier) vanaand gaan slaap nie, want more kom Sinterklaas en sy Zwarte Pieten met 'n boot na Rotterdam...  Die hele stad is in rep en roer want dis die 60ste jaar wat Sinterklaas in Rotterdam gaan draai en elke openbare area het 'n feesprogram met 'n lang lys van aktiwiteite!  Ek belowe om baie foto's te neem more en al die gebeure hier te dokumenteer!

1 comment:

  1. Sjoe! Ek proe behoorlik daai Edam kaas waarvan jy so praat. My gedagtes reis ook saam met julle deur 'n paar van daar die plekke, nowel jare terug se herinneringe. Jy moet Shangoni dump en reis fotograaf word. Foto,s is werklik pragtig en so ook jou kleurvoille beskrywings!

    ReplyDelete