Friday, November 4, 2011

Lands of Scots!

Ons het die naweek ons eerste Halloween partytjie gehad, dit was soveel pret!  Maar daarvan skryf ek later... nou eers terug by ons UK trip!

Oppad van Dave & Joan in Engeland na Skotland het ons iets gesien wat ons nogals opgewonde gemaak het... die talle skape langs die pad is stelselmatig vervang met koeie en Herrie se mond het reeds begin water vir die steak wat hy in Edinburgh sou bestel die aand!

EDINBURGH
In Edinburgh aangekom het ons gou ons tasse by die hotel in Leith gaan aflaai en warmer gaan aantrek want dit was vriesend, voordat ons lekker mossels (en Herrie sy steak) gaan eet het!  Dit was 'n lang dag op die pad en ons plan was om soos twee ou mense ná ete maar te gaan inkruip, maar die kroeg reg langs die restaurant waar ons geëet het, het 'n "live band" gehad en soos een man het ons by die een deur uit en die volgende een ingestap!  Aberfeldy het ons met hul musiek vermaak en Herrie het sommer dadelik die CD op "itunes" gekoop.
Eerste aand in Leith, Edinburgh

Vrydagoggend het ons na die Ocean Terminal gestap waar ons 'n toer van 'n boot gedoen het: The Royal Yacht Britannia.  Die HMY (Her Majesty's Yacht) Britannia is een van die wêreld se bekendste skepe en het die Koningin en haar familie op 968 reise deur die wêreld geneem maar is nou 'n museum in Edinburgh.  (Hertzog inlas sin: Anél word summier 'n royal family groupie)

2 dinge wat my opgeval het: Hulle het daar waar ek staan en waai spesiaal die reeling solied gemaak om te keer dat die koninklikes se rokke opwaai wanneer hulle vir die volk op land waai... en in die slaapkwartiere van die matrose is daar foto's langs die beddens van hulle vrouens en kinders geplak - siestog, hulle het ook families êrens gehad maar moes gereeld op reis gaan om die Koninklike Familie op vakansie te vermaak.
"BRITANNIA is special for a number of reasons.  Almost every previous sovereign has been responsible for building a church, a castle, a palace or just a house.  The only comparable structure in the present reign, is BRITANNIA" - HRH Prince Philip

Ons het in die ou stad van Edinburgh gaan rond dwaal en in die restaurantjie waar ons iets hap sien ons 'n swart gesin wat Hertzog dadelik as Suid Afrikaners bestempel.  Kort voor lank het hy toe ook gaan bevestig dat die klompie wel van Mpumalanga is :-)
Beknopte ou stad van Edinburgh

By die Edinburgh Kasteel was ons bietjie gedruk vir tyd en het na die Lonely Planet se top punte van die kasteel gaan kyk.  Die oulikste ding vir my by die kasteel was die begraafplaas vir die soldate se honde :-)  Hulle beweer dat mense al vir die laaste 7000 jaar op Castlehill woon en die kasteel dateer uit die 12de eeu.
Edinburgh Kasteel

Van die kasteel af het ons afgestap in die Royal Mile!   Die Royal Mile is eintlik langer as 'n myl en verbind die poorte van die kasteel met die hekke van die Holyrood Paleis wat die Koningin se amptelike woning in Skotland is.  
Royal Mile, Edinburgh

Oppad na Arthur's Seat het ons die parlement gesien wat 'n baie moderne, abstrakte (en vir my eintlik lelike) gebou is, asook talle mans wat in Skotse Kilts rond stap - so dit word tóg nog gedra.  Arthur's Seat is die hoogtepunt van 'n groep heuweltjies in die sentrum van Edinburgh en Robert Louis Stevenson ('n Skotse digter en romanskrywer van die 19de eeu) het dit as volg beskryf: "a hill for magnitude, a mountain in virtue of its bold design".  Hierdie beskrywing is nogals snaaks siende dat Arthur's Seat net 250meter hoog is :-)  maar hy bied pragtige uitsigte oor die stad!
Uitsig vanaf Arthur's Seat

Toe ek Arthur's Seat hoor het ek dadelik aangeneem dat dit is waar King Arthur gesit en dink het oor moeilike besluite wat gemaak moet word, maar hulle beweer dat hierdie naam waarskynlik niks met die koning te doen gehad het nie...   Die Gaelic naam vir hierdie area was "ard na saigheid" wat "hill of the archers" beteken, van waar dit "Archer's Seat" geword het en oor die jare "Arthur's Seat"...
Ons besoek aan Arthur's Seat

Ons 2de en laaste aand in Edinburgh het by The World's End afgeskop, 'n ou kroeg met 'n lae plafon, baie donker hout en propvol karakter(s) :-)  Daar was in die middeleeue 'n klipmuur om die kasteel en Edinburgh van daai tyd gebou en dele van hierdie muur het die fondasie van hierdie kroeg gevorm.  Daar is geglo dat Edinburgh by hierdie muur eindig en die wêreld aan sy ander kant begin, van daar die naam The World's End.  Ná 'n lekker Kopparberg ('n ongelooflike lekker cider uit Swede) het ons aanbeweeg na 1780 (nog 'n ou kroeg wat sedert 1780 bestaan) waar ons aandete geniet het en het die mooi verligte kasteel snags waardeer!
The World's End & die Edinburgh Kasteel snags

Saterdagoggend was ons eerste stop in Stirling waar ons by die Old Town Coffee House ontbyt geëet het voor ons 'n draai deur die dorp gestap het.  Ons het na die "Wee William Wallace" of Klein William Wallace standbeeld gaan kyk (hy was 'n held in die "Battle of Stirling Bridge" in 1297) en kon skaars die kasteel en begraafplaas in die mis sien... onheilspellend!
Stirling

Van Stirling af na Fort Augustus waar ons die aand wou slaap het ons verby Glen Lyon gery met die pragtigste kronkel bospaadjies wat my behoorlik naar gehad het!  Hier het ons die een meer na die ander begin sien en die mooi natuurskoon waardeer!  Ons het ook 'n wollerige koei en 'n hoendertjie tee gekom, dié hoendertjie wie se foto hul gebruik het op die Famous Grouse bottel!   
Glen Lyon: The longest, loneliest and loveliest glen in Scotland
Kyk hoe lekker lag my Herrie... seker vir een van my grappies
- of dalk een van syne :-)
Laggan Dam, oppad na Fort Augustus

In Fort Augustus het ons verblyf gekry by die oulikste houthuisies, reg langs Loch Ness en het die dorpie gaan verken.  Fort Augustus word gekenmerk aan die 5 "locks" wat kort op mekaar volg vir skepe om van een watervlak na 'n ander te kan beweeg.  By die Loch-Inn het Herrie die eerste keer "haggis" probeer - dis 'n tradisionele Skotse gereg en is soortgelyk aan afval.  Hier het ek ook baie stylvol voor die kaggel gesit en port drink uit 'n sapglas...  ek't eintlik gedink 'n lekker glasie rooiwyn sal gesellig wees maar die wyn opsies op die spyskaart was as volg: "small or large" :-)
Fort Augustus met sy 5 "locks"

Op aanbeveling van die eienaar van ons gastehuis het ons die aand na Invermorison gery, die buurdorp, want daar was 'n Ceilidh - Skotse dans - aan die gang!  Ek en Herrie het gedink ons gaan kyk wat by die Ceilidh aan gaan en as ons is nie baie lus is daarvoor nie sal ons net weer omdraai en huistoe gaan, min het ons geweet...  Ons was verseker die jongste 2 mense daar en omdat ons vars bloed was, is ons met ope arms ontvang en dadelik aan 'n tafel geplaas saam met 2 ander toeriste!  Dié twee vrouens kom uit Switzerland en die een met die grys "mullet" het vir ons vertel hoe hulle by die Ceilidh gekom het...  Hulle het 'n man met 'n kitaar in die pad sien stap en het besluit om hom te volg met die hoop dat daar 'n konsert êrens is.  By die ingang van die skoolsaal is daar toe vir hulle gesê dat dit nie 'n konsert is nie, maar danse en hoopvol het hulle gewag vir 'n vertoning van 'n paar mooi mans in "kilts"!  Eers later het hulle uitgevind dat daar verwag word dat hulle óók moet dans en het maar liewer net in die hoek gesit en kyk.
Ceilidh, wat 'n belewenis!

Daar was 'n orkes waarvan 1 van die 2 met 'n kierie loop...  Dan was daar 'n tannie wat voor staan met 'n mikrofoon en hardop tel en elke nou en dan sê sy: "Now a wee bit faster!"  Daar was ook die tannie in pers wat skuimpies uitdeel, die tannie in rooi wat nog haar groot deurbraak met haar sangtalent soek en die man uit Rhodesië wat ons by die danse betrek het.  Flou is ons 22h00 huistoe nadat ons eers al om die saal moes stap om ons nuwe vriende te groet!

Ek't 'n video geneem waar Herrie dans (die kwaliteit is bietjie sleg maar mens kry die idee) en het nou histeries gelag toe ek dit weer sien!  Hy was darem nie die enigste een wat verward pik nie, die tannie met die donker groen lyk ook nuut.  Hertzog is die man met die swart trui en die baard!

Die volgende oggend was ons 06h00 op vir Rugby Wêreldbeker se kwartfinaal teen Australië (geen verdere kommentaar hieroor nodig nie..) en het daarna bietjie by Loch Ness langs ons huisie gaan rondstap om oor die teleurstelling van die rugby te kom en te kyk of ons nie vir Nessie sien nie!   Dis so 'n pragtige plek en ons was baie gelukkig om sonder 'n bespreking hier te kon slaap.  Oppad uit Fort Augustus uit is ons bederf deur 'n boot deur die "locks" te sien beweeg...
Old Pier Log Cabins, Fort Augustus

Maandag was Isle of Skye op ons agenda en oppad soontoe het ons by talle watervalle en die mooiste koppies in geel, groen en rooi skakerings gery maar elke keer as ek 'n foto deur die oop venster wou neem het 'n reëndruppel op my lens te lande gekom!  Ons eerste stop vir die dag was by Eilean Donan, 'n kasteel op 'n eiland wat net met 'n voetbrug aan die vasteland verbind is.  Hierdie kasteel is gebou waar 3 Skotse mere bymekaak kom en dis ligging is verseker baie romanties.  Hulle beweer dat Eilean Donan die mees gefotografeerde monument in Skotland, (asook kasteel in die wêreld) is en hy was al in baie flieks te sien, onder andere Highlander, Entrapment en Made of Honor!
Eilean Donan kasteel en omgewing

Ons het die lang brug oorgesteek na Isle of Skye en 'n vissie gaan eet in Portree langs die hawe.  Isle of Skye is onlangs deur National Geographic tydskrif as die 4de beste eiland in die wêreld gestem!   Ons het al om die eiland gery na Uig toe en van daar om die noord punt van die eiland na Kilt Rock en Old Man of Storr gaan kyk. Kilt Rock is 200voet hoë kranse van rotslae in 'n "tartan-like" patroon, met 'n waterval en dis baie indrukwekkend!  Old Man of Storr is 'n 50m hoë, smal rots wat so uitdagend voorkom dat hy nie voor 1955 geklim is nie.  

Die landskap van Isle of Skye is interessant want daar is woeste berge en groot dele ongerepte eiland, maar terselfde tyd ervaar mens die kalmte van die see!  Ons het so halfuur in die wind op die klippe langs die strand gaan speel en vir al ons geliefdes 'n klippie in die see gegooi...
Isle of Skye - sooo lekker dag gewees!

Weer het ons geen bespreking vir die aand se verblyf gehad nie en terug oor die brug van Isle of Skye af het ons besluit om in Plockton te oornag - 'n absoluut idiliese plekkie aan die kus... Die Plockton Hotel het vir ons 'n bed gehad en hier het ons langs 'n vuurtjie in die kroeg aan Talisker en Drambuie geteug soos dit toeriste in Skotland betaam.
Uitsig vanuit ons hotelkamer in Plockton...

Ons het bietjie die dorpie verken die volgende oggend en het gou besef dat Plockton vir plankdun mensies gemaak is: smal gange tussen huise, smal paadjies op na die straat, smal paadjies af na die strand!
PLanKduN PLocKtoN

Die res van hierdie dag het ons grootendeels in die kar spandeer want ons moes taamlik baie myle aflê na Glasgow vanwaar ons die aand na Ierland moes vlieg.  Dit was ons eerste smakie van winter met 'n maksimum temperatuur van 11 grade (aanvoelbaar 6) en het weer redelik baie gereën so dit was eintlik lekker om die mooi natuur vanuit die kar te waardeer soos ons ry en net plek-plek te stop vir 'n waterbreuk - soos in water uit 'n waterval langs die pad!
Herfs in Skotland... die mooiste mooi!

In Glasgow het ons ongelukkig net tyd gehad om ons huurkar in te gee en oor te hardloop lughawe toe om betyds te wees vir ons vlug na Belfast, maar Herrie het net aangehou vrae vra by Hertz sodat hy na die tannie se erg Skotse aksent kon luister :-) 

Hierdie kar het ons 1300 myle deur Wallis & Skotland vergesel... 1300 myle van plesier!

Lees volgende week meer oor hartlike Ierse ooms sonder tande... die hartseer verhaal van 'n stryd tussen kerke... en bier wat babas maak!

x

PS: Ek en Herrie het gisteraand 3 SA maatjies in Amsterdam gaan haal... Elouna & Vic en Tiaan kuier die naweek by ons, en Madel sluit Saterdag ook by ons aan!  My beker loop oor...

2 comments:

  1. Ai die skoote se land bly darm mooi....
    ek verlang skoon na my beste vriendin Elaine...
    sy bly mos in huntley naby Aberdeen....te mooi...maar ek mis haar te veel!!

    lyk of jul dit baie geniet het!!!
    ek stuur n fototjie wat jy ca "compare
    " met joune...

    leifde
    xxt

    ReplyDelete
  2. Verskriklik mooi! Hoop nie Harry het jou TÉ mal gemaak met sy kranksinnighede vroeg in die oggende nie.. Mis jou laf joe. Sien julle amper stamper jipeeee. Geniet julle kuiers, stuur groete vir Elouna en saterdag as Madel kom.

    Laf joe

    X

    ReplyDelete